Gedagte vir die dag: Petrus, die Rots

pompeii-italie-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” (Matteus 16:15)

Op die trap van die Sint Pieterskerk in Rome staan die marmer beeld van Petrus die Rots, sterk, met die reuse sleutel in sy hand. Hy was die onbetwiste leier van die dissipelkring wat namens hulle die praatwerk moes doen. Die gróót oomblik van sy lewe het aangebreek toe die Here hom met die ander na Sesarea-Filippi geneem het. Daar aan die voet van die Hermonberg het Jesus die groot vraag gestel: “Wie, sê julle, is Ek?” Dit was net voor sy kruisiging en vir Jesus was dit allerbelangrik dat sy dissipels verstaan het wie Hy is en waarom Hy moes sterf.

Jesus het die plek met sorg uitgekies. Daar was ’n Baältempel waar die vrugbaarheidskultus nog steeds beoefen is. Vir die Grieke was ’n grot in die berg die geboorteplek van hul god Pan. Vir die Jode was dieselfde grot waar ’n waterstroompie uitgesyfer het die oorsprong van die Jordaanrivier met al sy godsdienstige konnotasies. Bo teen ’n heuwel was ’n stad gebou, Sesarea-Filippi, met ’n tempel waar die keiser van Rome as god aanbid is. Daar, waar al die magte van die wêreld byeengekom het, het die Timmerman vir sy vriende gevra: “Wie is Ek?” En daar het Petrus met die groot belydenis gekom: “U is die Christus, die Seun van die lewende God!” En Jesus het met die merkwaardige antwoord gekom: Jy is Petrus, die Rots. En op hierdie rots, op jou belydenis, sal Ek my kerk bou. En die magte van die doderyk sal  dit nie oorweldig nie.

Dit gebeur ook met ons. Te midde van al die magte en gelowe om ons vra Jesus: “Wie, sê julle, is Ek?” Waar gelowiges vandag nog bely dat Jesus die Here is, word die kerk van Christus gebou.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Petrus is NIE die rots nie! Jesus is, die Katolieke het die Bybel op verskeie plekke verdraai, hoekom moet Jesus Sy kerk op ń mens bou? En dan was Petrus nie eers ń goeie keuse. Lees maar eerder die King James, die artikel is ń klap in die gesig by enige Protestant. Daniël 2 sê vir ons baie mooi wie die Rots is wat die wêreld gaan vernietig met Sy wederkoms. Sien die beeld en sy beskrywing. Die oorblyfsel kerk word beskryf in Openbaring en ons sien ook dat dit die kerk is wat die Gebooie van God bewaar en die geloof van Jesus het. Enige iemand wat vrae het oor die Bybel kan my gerus mail op [email protected]

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.