Gedagte vir die dag: Speel met vuur

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak? Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand? (Spreuke 6:27-28)

Die Amerikaanse predikant Andrew Kuyvenhoven het in sy geestelike dagboek geskryf dat gawes wat ons van God ontvang het, ’n vernietigende vuur kan word indien ons dit nie reg gebruik nie. Hy het die voorbeeld van ’n kaggelvuur gebruik wat lig en warmte gee en tot almal se voordeel is. Wanneer daar egter ongemerk ’n kooltjie sou uitspring en op die mat begin smeul, kan dit die hele vertrek – en selfs die huis – in puin lê, indien dit nie raakgesien en geblus word nie.

Al ons gawes – ons verstand, gesondheid, kunssinnigheid, goeie afkoms; selfs ons geld en voorspoed – kom van God. Daarsonder sou ons én ander se lewens veel armer gewees het. Sodra ’n kooltjie vuur egter uit die kaggel op die mat spring, verswelg dit alle ander gawes en verteer ons lewe.

Daarom is dit nodig dat ons gereeld by ons lewenskaggel sal sit en fyn kyk watter kooltjies of stompe té naby aan die kaggelrand is. Ons moet bestek opneem en ons eerlik afvra: Is my gawes nog in ooreenstemming met God se plan vir my lewe? Is daar ’n gevaarlike brandende stomp, of selfs ’n skynbaar onskuldige kooltjie wat ek weer met my vuuryster moet vasknyp en op sy regmatige plek terugsit?

’n Gawe uit God se hand kan ongemerk ’n skadelike, vernietigende kooltjie word. Geld. Seks. Voorspoed. Ek mag nie daardie kooltjie koester en in die vou van my klere inhark nie.

Voordat dit te laat is, moet ek my afvra: Speel ek met vuur?

Here, help my om my gawes op te pas en tot u eer te gebruik. Amen

Bron:  Oomblikke van stilte deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Baie dankie vir hierdie oordenking.

Ek was geneig om dit nie raak te lees nie.

Die Bybel is voorwaar ‘n skatkamer vol juwele.

Delia ·

Hierdie een het my geraak. Jou talente moet jy nie verkeerd aanwend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.