Gedagte vir die dag: Tel tot by tien!

Stiltetyd_see_vrolike mense_Juanita Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. (1 Tessalonisense  5:17)

Sommige mense het Job se soort geduld. Hulle kan in enige situasie koelkop bly. Daar is ook diegene met ’n spreekwoordelike kort lont. Hulle ontplof sommer gou, en jy hoor die stortvloed skelwoorde wanneer hul geduld opgeraak het.

Waar jy jou ook al op die “geduld-skaal” bevind, die algemene reël is dat jy tot by tien moet tel voordat jy reageer. Dié tien tellings is gewoonlik genoeg om te verhoed dat jy optree op ’n wyse waaroor jy later spyt is.

Dalk is daar nóg ’n manier om jou woede te probeer beteuel: Wanneer jy tot by tien tel, gebruik ook daardie oomblikke om aan dinge te dink waarvoor jy dankbaar kan wees. Ja, dit klink dalk na ’n onmoontlikheid, maar met die regte ingesteldheid en ingeoefende denke sal dit makliker word. Jy moet ook geloof hê in die moontlikhede wat dit bied.

Geloof? Ja, want dis God se wens vir ons. Paulus skryf: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tess 5:17). En Jesus is in alle omstandighede by ons teenwoordig; ons lewe is ’n genadegeskenk uit sy hand. Daarom kan ons die vreugde of vrede in daardie oomblik deur dankbaarheid ontdek.

Die regte ingesteldheid word bereik deurdat Jesus ons in alle omstandighede die nodige krag en vermoë gee om met dankbaarheid na elke situasie te kyk. Ons praktiese reaksie op hierdie geloofskennis is om ons dankbaarheidspiere soveel moontlik te ontwikkel.

As jy elke dag op jou tien vingers dié dinge aftel waarvoor jy dankbaar is, sal jy ook in situasies waar jy sommer met die eerste oogopslag hónderd dinge sien waarvoor jy nié dankbaar is nie, tóg dinge begin raaksien wat jou dankbaar maak. Selfs tien daarvan.

Ja, hoe meer jy oefen, hoe makliker gaan dit gebeur. Veral in daardie ek-gaan-nou-iemand-se-nek-omdraai-oomblikke!

Here, dankie dat U by my is, en dat U my die vermoë gee om in alle omstandighede dankbaar te wees.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. Amen!

JJ ·

Dankie Here Jesus dat U vrede in ons harte plaas, nie die wereld se vrede nie maar U vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek loof en prys u Jesus. ‘n Geseende dag vir almal.

Connie ·

Wanneer jy in die aand in die bed le dink aan 3 goeie dinge wat daar die dag in jou lewe gebeur het.

Gerrie ·

Jy is van God afhanklik vir al die goeie dinge in jou lewe. Sonder Hom kan jy niks doen nie. Ervaar daardie afhanklikheid te alle tye, en jy sal altyd in die gees van gebed wees. Diegene wat hierdie gees ervaar sal so gereeld moontlik in die oefening van gebed wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.