Gedagte vir die dag:  Versigtig leef!

hande_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Efesiërs 5:15-20

Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid … (Efesiërs 5:15-16)

Ons vra mekaar vir die tweede keer hierdie jaar: Hoe kan ’n mens “versigtig” lewe – en terselfdertyd “die beste” gebruik maak van elke geleentheid? Veronderstel eersgenoemde opdrag dan nie ’n veilige roete nie? Om die gebaande weg te volg?

Is dit dan nie hoe gelowige ouers hul kinders behoort groot te maak nie? Is dit nie hoe baie van ons in elk geval grootgemaak is nie? En nou leef ons met die knaende skuldgevoel dat ons iewers tekortgeskiet het omdat ons kinders vryer teuels vir hulleself op- geëis het?

Ag, en kyk nou na Paulus se tirade oor drank … (vgl. v. 18). Ja-nee, versigtig leef is nie speletjies nie.

Die lewe speel, helaas, ook nie met ons nie. Dit is dikwels ’n meedoënlose reis onder die hete son, vol onverwagte dwarswinde en oor die algemeen ’n uitgelewerdheid aan die elemente. Daarom, lui Paulus se raad, moet ons van elke geleentheid gebruik maak om hierdie reis suksesvol te voltooi. Moet ons deurentyd by die Here verneem of ons nog op koers is (vgl. v. 17). Moet ons nie so dom wees om te dink dat daar iewers goedkoop, gebottelde oplossings rondlê nie.

Versigtig lewe is om allereers versigtig vir jouself te wees. In jou pasoppens te bly vir ydelheid, vir die oorskatting van jou vermoë om tussen die verskillende weë te kan onderskei.

Versigtig lewe is om alle pretensie oorboord te gooi dat jou gees vol pasklaar antwoorde is. Om jou vervulling met God se Gees dankbaar te omhels en dit elke dag uitbundig te vier.

Here, ek leef in u Naam, onder u vlerk, voor u aangesig. Ek is geseënd!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here dankie vir U wonderlike genade om afgedwaaldes weer teen U bors vas te hou……Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.