Gedagte vir die dag:  Vra, en jy sal ontvang        

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word. (Matt 7:7)    

George Müller is radikaal deur Jesus gered en hy het sy onwrikbare geloof in die Here elke dag in die praktyk uitgeleef. Hy het ’n groot invloed op my lewe gehad. Sy gunsteling Bybelvers was Psalm 37:4 en dit is die vers wat ek as Shalom Ministries se leuse gekies het: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.”

George Müller het ’n losieshuis gevind. Toe het hy ’n klompie straatkinders gaan haal, ongeveer twaalf van hulle. Hy het die kinders na sy losieshuis geneem en dit het ’n kinderhuis geword. Hy het geen geld gehad om vir hierdie kinders te sorg nie, maar hy het geglo in die God wat wonders doen. Hy het tot die Here gebid: “Here, ek glo in U. Elke keer wanneer ek geld nodig het, sal ek in my gebedskamer instap en begin bid en U sal voorsien.” God het sy gebede beantwoord, elke keer.

Wanneer laas het jy op jou knieë gaan staan en gesê: “Here, hier is my behoeftes … ”? Matteus 7:7 sê: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Glo jy hierdie belofte van die Here Jesus Christus? Vra jy die Here vir wat jy nodig het? Soek jy by Hom wat jy nodig het? Klop jy aan God se deur? Vra, soek, klop … en glo. George Müller het.

Here Jesus, gee vir my meer geloof sodat ek tot U sal bid en vra wat ek nodig het. Ek wil na U toe kom en glo dat U in my behoeftes sal voorsien. Dankie dat U die Here is wat antwoord en voorsien.

Bron: Aartappelgeloof vir elke dag deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kornel ·

Ons Vader in die hemel is Groot en Almagtig.
Ek bely met my hele hart en siel dat U my en my gesin se Verlosser en God is.
Verlos of van die bose en voorsien ons in ons nood en vervul ons Gebede.

Dankie dat ek weet U leef en vir ons sonde gesterf het. Vandag gaan ek hierdie dag weer in en weet dat U met my en my gesin sal wees.
Seen SA en sy mense sodat hulle U sal volg.
Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.