Gedagte vir die dag: Wandel in geloof

namakwa_kokerboomwoud_annelize-brits_stiltetyd.jpegOns wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. (1 Korintiërs 5:7)    

Geloof is nie om hemelse musiek te hoor of weerligstrale te sien of klokke te hoor lui nie. Geloof is om te sê: “Here, ek het U lief en ek gee U my alles. Ek sal aanhou, al word dit hoe moeilik en die pad hoe steil. Ek sal aanhou stap deur die woestyn, ongeag hoe rof dit gaan. Ek glo in U en wat U vir my in gedagte het.” Op ’n dag sal jy net eenvoudig uit die woestyn uitstap en die land van melk en heuning instap, net soos die Israeliete. Jy moet die daad by die woord voeg. Dit is wat Jakobus 2:20 sê: “Wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?”

Geloof is nie ’n gevoel nie; dit is ’n feit! “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” Ongelukkig is daar allerhande leerstellinge in die kerk. Daar is dié wat preek: “Kom na Jesus en al jou probleme sal opgelos word.” Nêrens in die Bybel is daar ’n Skrifgedeelte wat dit sê nie. Wat dit wel sê, is dat jy onvoorwaardelik na Jesus toe moet kom en Hy sal onvermoeid saam met jou wandel. Jesaja 40:28 belowe ons: “ … die Here, Skepper; Hy word nie moeg of mat nie.” Dit is ’n tragedie dat so baie mense ontnugter word as gevolg van slegte leringe. Jesus belowe jou nie maanskyn en rose nie, maar Hy belowe jou wel: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5).

Daar is te veel mense wat met God probeer onderhandel: “Here, as U my dit gee … sal ek U volg.” Daar mag geen voorwaardes wees nie. Die oomblik wanneer jy daardie woordjie “as” in ’n verbond inbring, is dit nie meer ’n verbond nie. As jy jouself aan Jesus toewy, is dit alles of niks. Leer by Job wanneer hy sê: “Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom” (Job 13:15). Wanneer jy jouself in ’n situasie bevind waar jy met God probeer onderhandel, nader dadelik tot Hom en bely dit aan Hom. Die enigste keuse is om deur geloof te wandel.

My Vader, ek het U lief en ek gee U my alles. Al word die pad hoe moeilik en hoe steil – ek sal aanhou stap deur die woestyn. Ek glo in U en in dit wat U vir my in gedagte het. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.