Gedagte vir die dag: Wandel in pas met die Gees

bospad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. (Galasiërs 5:25)    

Sommige mense stap vinniger as ander. Dis veral opmerklik wanneer ’n kind saam met ’n volwassene stap – die arme kleintjie moet letterlik twee tree gee vir elke een tree wat die volwassene gee. Ander mense stap weer so stadig dat dit ons soms frustreer. Wanneer jy egter saam met ’n vriend in gesprek stap, loop jy in pas saam met daardie persoon en geniet jy elke tree van die pad.

Om in pas saam met die Gees te loop beteken dat jy sy ritme volg, dat Hy jou lewenstreë bepaal.

Johann Sebastian Bach – bekende komponis – het so in ritme met die Gees gestap. Voordat hy begin werk het aan ’n nuwe stuk en enigsins ’n noot vasgevang het, het hy die letters “JJ” (Jesu Juva) klein aan die bokant van die papier neergeskryf – dit beteken: “Jesus, help my.” Wanneer hy dan ’n stuk klaar geskryf het, het hy aan die einde “SDG” (Soli Deo Gloria) geskryf, wat beteken: “Aan God alleen die eer!

As ons in ritme met die Gees wil loop en toelaat dat die Gees ons gedrag bepaal, moet ons ook elke oggend ons wandel met ’n “JJ” begin – Jesus, help my. En aan die einde van die dag, wanneer ons terugkyk na die pad wat ons saam met Hom geloop het, sê ons “SDG” – aan God al die eer!

Wanneer jy jou dag begin met “Jesus, help my”, kan jy vir seker weet dit maak nie saak hoe vinnig of stadig die ritme van daardie dag gaan wees nie, jy sal kan byhou, want Hy help jou met elke tree wat jy neem.

Wanneer jy dan die einde van die dag afsluit met “Aan God al die eer” erken jy dat Hy die Een is wat in beheer is van jou lewe.

Vader, ek wil my wandelsreis in pas met U loop. Sal U my help om te lewe deur die Gees sodat elke tree U sal verheerlik. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

RHG ·

Soms kom ‘n treffende boodskap soos die op, juis wanneer iemand dit bitternodig het. Baie dankie daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.