Gedagte vir die dag: Weet jy dat jy vergewe is?

Duif_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. (Psalm 51:5, 9)

Dawid, die psalmis, het geweet wat dit beteken om skuldig te voel. Hy het ’n man laat doodmaak en gevolglik bloed op sy hande gehad. Daar is so baie mense wat met skuldgevoelens deur die lewe gaan. Skuldgevoelens kan jou vernietig as jy nie versigtig is nie. Dit belas jou en fisies kan dit jou liggaam aftakel. Dit knaag aan jou psige en hou jou in ’n klemgreep van emosionele ontwrigting. Terwyl jy Psalm 51 gelees het, is ek seker jy het al hierdie aspekte raakgesien in die wyse waarop Dawid sy hart teenoor die Here uitgestort het.

As jy vandag afgetakel voel deur skuldgevoelens en dit beïnvloed jou negatief, volg Dawid se voorbeeld. Bring jou sondes na Jesus en lê dit neer aan die voet van die kruis. 1 Johannes 1:9 belowe ons: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” Maria Magdalena het verstaan wat dit beteken dat haar sondes vergewe is. Sy het geleer dat sy nie meer skuldig hoef te voel oor haar verlede nie, want Jesus het haar vergewe; haar sondige verlede was verby en vergete. Baie mense wou nie gehad het dat sy dit vergeet nie, maar Jesus het haar nooit daaraan herinner nie. Maria, eens ’n sondares, het een van die mense in Jesus se binnekring geword.

Die Fariseërs het gevra: “Wat is dit dat Hy saam met die tollenaars en sondaars eet en drink?” En Jesus se antwoord was: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Markus 2:16-17). Die vyand wil graag hê ons moet skuldig voel, want dan kan hy ons in sy strik hou. Jesus het gekom om jou vry te maak; kom na Hom toe, bely jou sondes en vra Hom om jou te vergewe. Aanvaar dan sy vergifnis en wandel in die oorwinning van jou vergifnis.

My Vader, ek dank U vir u genade en barmhartigheid teenoor my, u kind. Ek bid vandag dat U my sal vergewe. Reinig my terwyl ek my sondes voor U bely. Vervul my opnuut met u Heilige Gees. Help my om in oorwinning te wandel in die volheid van u seëninge en vergifnis. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.