Soorte resepte:

Kry plaasvervangers vir jou eiers

Foto sleg te illustrasie. (Foto: Morgane Perraud/Unsplash)

Met voëlgriep wat veral Gauteng die swaarste getref het, is eierrantsoene oral in die ekonomiese spilpunt van Suid-Afrika ingestel.

Kleinhandelaars soos Woolworths en PnP beperk tans die hoeveelheid eiers wat verbruikers kan koop tot een of twee pakke eiers op ʼn slag.

Eiers het towerkrag. Nie net is dit ʼn goeie bron van proteïene nie, maar dit help om jou gebak te laat rys, bind bestanddele, gee vog en voeg ʼn rykheid by. Vir mense wat allergies is of ʼn veganistiese leefstylvolg, is eiers nie ʼn opsie nie en met eierrantsoene aan die orde van die dag wonder jy ook dalk nou wat jou te doen staan met daardie resep wat eiers benodig.

Hier is paar bestanddele wat jy kan gebruik as plaasvervanger vir eiers:

Kommersiële eiervervangers is ʼn gewilde plaasvervanger wat in winkels verkoop word. Jy kan dit sommer by jou naaste gesondheid- of vegan-vriendelike produkwinkel aanskaf.

Kondensmelk kan ʼn goeie vervanger van eiers wees wanneer dit by gebak kom. ʼn Kwart koppie kan een eier vervang. As jy iets met minder suiker wil hê, kan jy ook gewone of vanieljegegeurde jogurt gebruik. ʼn Kwart koppie sal een eier vervang en werk goed vir muffins en koeke. Dit kan wel jou mengsel swaar laat voel, en dit werk goed as jy dit goed klits voordat jy dit by die ander bestanddele voeg.

Asyn en koeksoda: Vervang een eier met ʼn teelepel koeksoda en een eetlepel asyn. Dit werk die beste vir koeke, bruintjies en vinnige brode. Kombineer die twee bestanddele eers en voeg dit dan by jou resep vir ʼn donserige gebak.

Onversoete appelmoes: Vervang een eier met ʼn kwart koppie appelmoes in resepte vir muffins, bruintjies, koeke en stafies. Waak daarteen om meer as ʼn koppie appelmoes in enige resep te gebruik aangesien dit tot ʼn rubberagtige tekstuur by jou gebak kan lei.

Tofu: Vervang een eier met ʼn kwart koppie tofu wat jy in jou voedselverwerker saam met water tot glad gemeng het. Dié eiervervanger werk goed vir pasteie, vinnige brode, muffins en digte koeke. Dit kan ʼn baie swaar mengsel veroorsaak, vermy dus eerder resepte wat veelvuldige eiers vereis. Gebak gaan ook nie so mooi verbruin nie.

Ryp piesang: Vervang een eier met ʼn kwart koppie fyngedrukte piesang. Dit werk goed vir vinnig brode, muffins en koeke. Onthou jy gaan die piesanggeur in jou gebak proe en dit gaan die soetheid verhoog. Dit kan ook ʼn rubberagtige tekstuur skep.

Gemaalde vlasaad (flax seed): Vervang een eier met ʼn eetlepel gemaalde vlasaad in drie eetlepels water, wat gemeng is tot dik en gelatienagtig. Dit werk goed vir bruintjies, koekies en brode. Die saad kan ʼn aardse, neutagtige smaak in jou gebak laat en kan ʼn ferm of taai tekstuur skep. Jy kan ook chai-saad gebruik.

Laastens kan jy ook ʼn koppie karringmelk as ʼn plaasvervanger vir eiers gebruik: ʼn kwart koppie is gelykstaande aan een eier.

Bronne: ThePioneerWoman.com, PPCmarkets.com, Healthline.com, Biggerbolderbaking.com en JacarandaFM.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

André ·

[Ek vra vir Oom Google] “Hoe om met Hadadas te boer vir eiers”

sarieniemand ·

Watter kombinasie sal die beste wees saam brood die kondensmelk of die yogurt

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Sarieniemand

Ek dink jou keuse gaan bepaal word deur hoe soet jy jou brood verkies.
Vir ʼn soeter brood kan jy kondensmelk gebruik, maar as jy nie van ʼn soet brood hou nie moet jy dalk eerder ongegeurde jogurt gebruik as ʼn plaasvervanger vir die eiers.
Toets dit gerus en laat weet hoe jou resep uitgekom het.

Groetnis, Esté Meyer Jansen
namens Maroela Media

Wondermaarnet ·

Ons is gelukkig om ‘n paar henne te hê en nou wat dit warmer raak, lê hulle meer eiers.

Ansie ·

Ons praat weer as jy R100/dosyn moet betaal en dis glad nie onmoontlik nie, aldus die agente.

Ansie ·

3 eetlepels mayonnaise ipv 1 eier in speserykoekies en sjokoladekoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.