Soorte resepte:

Nuwe regulasies op pad vir voedseletikette en advertensies

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Nuwe regulasies is op pad vir voedseletikette en advertensies om ons sover te kry om gesonder keuses oor kos te maak. Sal voedseletikette wat uitroep ʼn produk bevat te veel sout, suiker of kunsmatige versoeters jou keer om hierdie produkte van die rak af te haal? Ons sal nog moet sien. Ina Opperman het gaan kyk na die konsepveranderinge.

Die uitwerking van nuwe regulasies vir voedseletikette en advertensies wat deur die departement van gesondheid voorgestel is, sal waarskynlik nie wees wat die regering wou hê dit moes wees nie.

Die doel van die nuwe regulasies is lofwaardig aangesien dit blykbaar daarop gemik is om Suid-Afrika se stygende koerse van vetsug en leefstylsiektes aan te pak, maar die konsepregulasies kan ook te ver gaan en daartoe lei dat multinasionale maatskappye Suid-Afrika verlaat.

Aan die ander kant verwelkom burgerlike organisasies die konsepregulasies omdat hulle glo dat dit verbruikers sal bemagtig om beter voedselkeuses te maak en hul gesondheid eerste te stel.

Dit sal egter nie goeie nuus wees in ʼn land wat reeds onder die druk van hoë voedselpryse en werkloosheid gebuk gaan nie. Die JSE se voedselprodusente-indeks is reeds 16% laer weens stygende produksie- en verspreidingskoste, vererger deur beurtkrag.

Die minister van gesondheid het in April die konsepregulasies ingevolge die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels gepubliseer en belanghebbendes het tot 21 Julie gehad om kommentaar te lewer.

“Die konsepregulasies het die potensiaal om die landskap van etikettering, bemarking en reklame van voedsel in Suid-Afrika aansienlik te verander, wat belanghebbendes nadelig sal beïnvloed indien die regulasies in hul huidige vorm goedgekeur word,” sê Weber Wentzel-vennote se Yolandi Robbertse en Bernadette Versfeld.

Belangrike veranderinge in voedseletikette

Volgens Robbertse en Versfeld sluit van die belangrikste veranderinge wat in die konsepregulasies beoog word, die volgende in:

  • Spesifieke etikette op die voorkant van die verpakking van voedsel wat versadigde vet, bygevoegde suiker, bygevoegde natrium (sout) bevat en die waardes van voedingstowwe vir totale suiker, totale natrium of totale versadigde vetsure oorskry, of kunsmatige versoeters bevat. Die regulasies sluit ook logo’s in wat prominent sigbaar moet wees vir die verbruiker wanneer die produk uitgestal word. Die produsente moet ook sorg dat die logo’s nie verwyder of beskadig kan word nie.
  • Beperkings oor wat op die voorkant van die verpakking vertoon mag word en aan wie hierdie voedsel geadverteer mag word, asook geen bemarking aan kinders nie. Hierdie etikette mag nie bekendes, sportsterre, tekenprentkarakters, poppe of rekenaaranimasies wys nie. Die etikette mag ook nie kompetisies, koopbewyse, geskenke of versamelbare items insluit wat aantreklik is vir kinders nie en geen kinders in gemengde groepe met jong volwassenes ouer as 18 nie, hoewel jong volwassenes nie gedefinieer word nie.
  • Advertensies vir produkte met ʼn waarksuwingsetiket mag nie positiewe gesinswaardes misbruik nie, soos om gelukkige, sorgsame, gesin-scenario’s uit te beeld nie.
  • Waarksuwingsetiket moet in swart en wit verskyn.
  • Daar is ook bepalings met meer besonderhede oor gesondheidsaansprake, wat verwys na ʼn effek op die menslike liggaam, insluitend ʼn effek op byvoorbeeld ʼn biochemiese proses of uitkoms, groei en ontwikkeling, geestelike prestasie en mondhigiëne.

“Die strategie van handelsmerkeienaars wêreldwyd is om produkte te adverteer en te verpak op ʼn manier wat verbruikers lok. Dit word dikwels gedoen deur bekendes te kry om dit aan te beveel, afbeeldings van sportsterre, spotprent-tipe karakters (waarvan baie huishoudelike name geword het) poppe, rekenaaranimasies en goedvoelbeelde van gelukkige gesinne.”

Robbertse en Versfeld sê die implikasies van die regulasies oor die etikettering voor op die pak is dus belangrik vir handelsmerkeienaars wat, indien die regulasies in hul huidige vorm in werking tree, hulle etikette sal moet herontwerp.

Baie veranderinge vir handelsmerkeienaars

Hulle waarsku dat handelsmerkeienaars hul handelsmerk-portefeuljes sal moet hersien, wat vereis dat nuwe handelsmerkaansoeke ingedien moet word, asook wysigings aan bestaande handelsmerke. Kopieregportefeuljes en kunswerke sal gewysig moet word en media- en digitale advertensies sal hersien en heringestel moet word.

“Die beduidende koste verbonde aan al hierdie bykomende maatreëls kom op ʼn tydstip wanneer handelsmerkeienaars reeds met ʼn uitdagende ekonomie gekonfronteer word. Die lofwaardige bedoeling van die konsep blyk te wees om Suid-Afrika se stygende koerse van vetsug en leefstylsiektes soos diabetes aan te spreek deur meer inligting op voedseletikette te verskaf en misleidende advertensies te beperk.

“Ongelukkig het die konsepregulasies te ver gegaan en kan dit daartoe lei dat multinasionale maatskappye die Suid-Afrikaanse mark heeltemal verlaat. Hoewel die bedryf natuurlik bekommerd is oor die impak van die voorgestelde beperkings op hul handelsmerke en besighede, ondersteun hulle verbruikers ten volle om behoorlik ingelig te wees oor die produkte wat hulle koop en hul rol en verantwoordelikheid in hierdie verband te erken.”

Die slegte nuus is dat die verbruiker op die ou end sal betaal. “Nie net kan internasionale entiteite besluit om die mark te verlaat nie, wat Suid-Afrika nie kan bekostig nie, maar die bykomende koste met betrekking tot nakoming sal onvermydelik (ten minste gedeeltelik) deurgegee word aan die verbruiker wat reeds verlep onder die druk van steeds stygende koste,” sê Robbertse en Versfeld.

Verbruikers kan konsepregulasies vir voedseletikettering verwelkom

Die burgerlike organisasie Healthy Living Alliance (Heala) sê egter die konsepregulasies is in ooreenstemming met aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir ʼn gesonde dieet, wat insluit die beperking van versadigde vetverbruik, die beperking van daaglikse sout-inname en die beperking van die inname van gratis of bygevoegde suiker.

“Oorverbruik van versadigde vette, sout en suiker kan daartoe lei dat mense oorgewig of vetsugtig is en kan ʼn verskeidenheid dieet-verwante nieoordraagbare siektes veroorsaak, soos hartsiektes, beroerte, diabetes en sommige kankers,” sê Nzama Mbalati, programbestuurder by Heala.

Heala het die voorgestelde veranderinge aan voedseletikettering verwelkom en is daartoe verbind om gemeenskappe te mobiliseer om te verseker dat beleidmakers hul kommer oor ongesonde voedselverbruik en die behoefte aan waarskuwingsetikette om hulle te help om meer ingeligte voedselbesluite te neem, ernstig opneem.

“Ons glo dat voedselregulering die middelpunt is om verbruikers aan te moedig en te bemagtig om gesonder voedselkeuses te maak in ooreenstemming met die WGO se aanbeveling vir beter regulering van die voedselomgewing.

“Voorpakketwaarskuwingsetikette, in die vorm van ʼn swart driehoek, stel verbruikers in staat om die bestanddele van ʼn produk in ʼn oogopslag te sien, wat hulle help om hul kennis te verbeter en houdings teenoor voeding en gesondheid te verander en te help om vlakke van dieet-verwante siektes te verminder.”

Inligting oor voedseletikette tans

Huidige inligting oor kos kan misleidend en uitdagend wees vir verbruikers om te lees en te verstaan en Heala glo dat die regulasies daarop gemik is om verreikende veranderinge aan te bring aan die manier waarop voedselitems op winkelrakke in Suid-Afrika gemerk word.

Dit sluit in om ʼn einde te maak daaraan om voedselprodukte “slim” of “intelligent” op voedseletikette te noem en die gebruik van beskrywers soos “heilsaam”, “voedsaam”, “nutraceuties” of “super-kosse” op voedseletikette te verbied. Woorde, etikette en beelde wat op enige manier daarop dui dat die kos gesonder of beter is, word ook onder die nuwe reëls verbied.

Heala het ook geen probleem met die waarskuwingsetikette nie. “Verwerkte voedsel bevat hoë hoeveelhede bygevoegde suiker, sout, ongesonde vette en chemiese bymiddels, wat almal kinders se gesondheid negatief kan beïnvloed. Hierdie kosse verhoog nie net die risiko van vetsug en gesondheidsprobleme nie, maar verplaas ook voedingstofdigte volvoedsel in kinders se dieet, wat lei tot tekorte aan belangrike mikrovoedingstowwe.

“Die regulasies sal verbruikers help om beter ingelig te wees oor wat hulle hul gesinne voed en sal hulle help om verwerkte voedsel te beperk en heel, vars voedsel vir hul kinders se gesondheid en welstand te prioritiseer,” sê Mbalati.

ʼn 2018-studie in die Wes-Kaap het bevind dat 80% van voedsel in Suid-Afrikaanse supermarkte ultra-verwerk is. “Meer as 13% van Suid-Afrikaanse kinders tussen die ouderdomme van 6 en 14 jaar is oorgewig, wat hoër is as die 10% globale syfer.

“Dit is veral kommerwekkend dat al meer kinders sukkel met hul gewig en gesondheidsprobleme, wat vroeër as volwasse probleme beskou is, insluitend diabetes, hoë bloeddruk en hoë cholesterol. Vetsug by kinders kan ook lei tot ʼn swak selfbeeld en depressie.”

Mbalati sê Heala glo dat voedselregulering die middelpunt is om verbruikers aan te moedig en te bemagtig om gesonder voedselkeuses te maak in ooreenstemming met die WGO se aanbeveling vir beter regulering van die voedselomgewing.

“Ons hoop dat die regering die regte ding sal doen en nie kapituleer vir die eise van die bedryf nie, aangesien dit sal verseker dat alle mense wat in Suid-Afrika woon, ingeligte keuses kan maak. Ons moet dringend verseker dat voedsame kos toeganklik en beskikbaar is vir almal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Miskruier ·

Multinasionale maatskappye soek net geld, hul is nie gepla met die verbruiker se gesondheid nie.

Nommer 7 ·

Multinasionale maatskappye se eienaars en personeel is ook verbruikers van hul eie produkte.

Karoo ·

Dis waar…. maar ek wonder hoeveel van hulle vermy sekere “kos” soorte agv dit wat toegevoeg is tot die produk.

Karoo ·

Ek is tengunste van die verandering. Van die groot vervaardigers bluf die oningeligte publiek deur “slim” bemarkings woorde te gebruik en ongesonde kos as “gesond” te bemark. Kos is duur, so nou kan jy beter kies want dit gaan meer sigbaar wees. As jy geld wil spaar, koop kos wat onverwerk is en dus minder bygevoegde middels het wat in die eerste plek nie daar hoort nie.

Truman Burbank ·

Die plaaslike burger plek se kos is gesonder as die “gesondheids kos”

tweeling ·

Die armes kyk nie na die etikette nie, hulle is die “bulk” van kos kopers in die land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.