Bek-en-klouseer-verbod val uitmekaar

Daar het ernstige vrae ontstaan oor die polisie se vermoë om die beweging van beeste te beheer. (Foto: Du Preez de Villiers)

Daar is polisielede in KwaZulu-Natal wat nie weet van die instelling van die verbod op die skuif van beeste in ʼn poging om die bek-en-klouseer-pandemie hok te slaan nie. Dít is die skokkende onthulling van Herman de Wet, TLU SA se streeksvoorsitter in KZN, nadat hy opgemerk het dat beeste in dié provinsie nog vrylik en sonder enige ingryping vervoer word.

Daarbenewens het ʼn onlangse departementele verslag deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) getoon dat bek-en-klouseer van 116 tot 127 uitbrekings in ses van die nege provinsies toegeneem het, nadat die verbod ingestel is. KZN het tans 78 gevalle en die mees onlangse geval is op 29 Augustus aangemeld. Vrystaat en Gauteng het ook op dié datum nog gevalle aangemeld.

“Ek het reeds meer as een vergadering met die polisie hieroor gehad en was geskok toe ek vasstel dat daar polisielede is wat nie weet van die verbod op die vervoer van beeste nie,” sê De Wet. “Dit is eenvoudig onaanvaarbaar. Hoe kan die SAPD-lede nie weet van die verbod nie? Vir my kom dit neer op dwarsboming van die gereg.”

Aan die hand hiervan, het TLU SA die voorstel gemaak dat boere wat sien hoe beeste sonder die ingryping van die SAPD vervoer word, dadelik ʼn saak teen die betrokke partye (wat die polisie insluit) maak wat nie die wet toepas nie.

“Hier is hoe ek dit sien: Elke staatsamptenaar kry ʼn salaris aan die einde van die maand. Vee-eienaars gaan nie aan die einde van die maand ʼn salaris kry nie, want hulle kan nie beeste verkoop nie. Daar is geen veilings nie en geen handel kan plaasvind nie. Lone gaan nie betaal kan word nie en dit beteken kos op die tafel is op die spel vir sommige boere. Meer as 200 000 opkomende boere gaan geen inkomste kry nie,” voeg hy by.

Noko Masipa, die DA se skaduminister van DALRRD, het sy stem by die koor van verontwaardigdes gevoeg nadat ʼn video wat op sosiale media die ronde doen, wys hoe 26 skape wat vasgebind is uit ʼn taxi gehaal en geskut word nadat hulle na bewering gesteel is.

Hy sê dit bevestig weereens dat DALRRD en die polisie nie daarin slaag om boere teen diewe en misdaad te beskerm nie. Daarbenewens is daar steeds ʼn gebrek aan daadwerklike polisieteenwoordigheid om die bewegings van diere te monitor in die lig van die bek-en-klouseer-krisis.

“Hoewel Thoko Didiza, minister van DALRRD, onlangs beperkings op die beweging van beeste ingestel het om die verspreiding van bek-en-klouseer stop te sit, het die teenoorgestelde gebeur.

“Die DA is bekommerd oor die verslae wat ons steeds van gesteelde diere ontvang uit gebiede wat deur bek-en-klouseer besmet is. Die polisie word nie ontplooi om padblokkades uit te voer en voertuie te deursoek, om te verseker dat geen beweging van diere plaasvind nie.”

Die DA het sy beroep op Didiza herhaal om dringend ʼn veelpartyforum byeen te roep om ingrypings te bewerkstellig, asook kommer oor die voortgesette verspreiding van bek-en-klouseer te bespreek.

Masipa sê sake kan nie meer so voortgaan nie.

“Die rede waarom daar steeds gevalle van bek-en-klouseer is, kan toegeskryf word aan die lomp en ongekoördineerde pogings deur DALRRD om die siekte te bekamp.”

Klik hier om ʼn klagte in te dien indien enigiemand, selfs polisielede, gewaar word wat die regulasies van die verbod op die skuif van beeste verontagsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

Tot dit wat uitmekaar geval het , val uitmekaar . Wat anders was verwag ….vooruitgang ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.