Maksimum loon, ‘minimum skade.’

Ruan Johnson is ‘n senior werktuig- en planteroperateur, asook ‘n senior instrukteur op Louma se plant- en spuittoerusting. (Foto: Lourens du Plessis)

Die omstrede minimum loon is weer ʼn onderwerp onder bespreking en het van R23,18 tot R25,42 per uur gestyg. Van die begin van Maart af moet ʼn werkgewer dus sy werknemers 9,6% meer betaal.

TLU SA en Agri SA het aangedui dat dit boere onder ernstige druk plaas.

Lourens du Plessis van Louma boerdery wat buite Thabazimbi boer, glo dat maksimum loon, oftewel stukwerk, en ʼn goeie bonusstelsel die antwoord is op hierdie koste wat weghardloop; dit moet egter hand aan hand met bewese motiveringstegnieke loop.

“Ek het dr. Arnold Mol se boeke, Help! ek is ʼn bestuurder en Maak wenners van jou mense, in die vroeë 90’s gelees en dit het my begeester om die arbeidsituasie in my boerdery, wat toe baie kleiner was, om te draai,” het hy vir Maroela Media gesê. “Jy kan Mol se beginsels op enige grootte boerdery toepas, van een werknemer tot ʼn duisend.”

“Mol het toe al gesê Suid-Afrika sit op ʼn arbeidstydbom en ek wou iets daaromtrent doen, want jy kan nie politiek en arbeid meng nie.”

Mol is wyd bekend vir die kursusse wat hy oor die motivering van werknemers in die handel, nywerheid en landbou aanbied en volgens kenners werp dit goeie vrugte af.

“Ek volg sy mensebenuttingsteorie baie streng na en dit dra ongetwyfeld tot die sukses van my boerdery by en bespaar my geld,” sê Du Plessis. “Daarvolgens moet al drie partye, die maatskappy, bestuurder en die werker uit ʼn ooreenkoms voordeel trek, anders pas ons dit nie toe nie.

Wanneer ʼn persoon aansoek doen om op Louma te begin werk, volg daar ʼn streng keuringsproses. Agtergrondtoetse word gedoen en die vorige werkgewer word geskakel. Dan word ʼn aanlegtoets geskryf en ʼn profiel van die aansoeker opgestel. Daarna ondergaan die persoon ʼn toetsperiode om te kyk of hy by Louma se arbeids- en werkskultuur inpas en ʼn persoon word nie in diens geneem as sy dissipline nie op standaard is nie.

“Dit is skokkend om te sien hoeveel boere arbeid in diens neem sonder om oor hulle navraag te doen,” sê hy.

“Ons handhaaf ook ʼn geen-rookbeleid op ons plaas.”

Du Plessis is gesteld daarop dat sy trekkers onberispelik hanteer word en ʼn kandidaat-trekkerdrywer moet 80% in sy eerste trekkertoets behaal. ʼn Ruk daarna moet hy in ʼn tweede toets 100% kry, “want hy moet 100% na my trekker kan kyk.

 

Lourens du Plessis glo sy werkers moet die beste moontlike opleiding kry sodat sy toerusting optimaal kan funksioneer terwyl skade tot die minimum beperk word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Hy sê hy sukkel die meeste met sy arbeiders wat die minste geld, oftewel minimum lone, kry. “Ek ervaar dat dit hulle is wat oorwegend swak dissipline het en sommer sal dros of dronk by die werk aankom.

“Hierdie mense is my grootste risiko; ek sê minimum loon is maksimum skade en maksimum loon is minimum skade.

“Minimum loon is inderwaarheid ʼn onproduktiewe beleid en lei tot ʼn nie-winsgewende stelsel. Die landbouleiers in ons landbou-organisasies het ongelukkig hierdie hoek gesluk en baie boere kan nie daaruit ontsnap nie.

“My produktiewe arbeiders maak baie meer geld as die gemiddelde. Ons is hard op die standaard, maar sag op die mense.”

Hy sê sy geheim tot sukses is om teikens te stel en mense met aanloklike bonusstrukture te motiveer om sodoende hul beste te gee. Op hierdie manier kan hy ook elke jaar sy produksie verhoog deur die beste mense te behou en hul vaardighede te verbeter.

“Die basiese reëls van produktiwiteit is so oud soos die mensdom self en jy kan nie iets soos produksie alleenlik verbeter nie; jy kan slegs die werkers verbeter om die produksie te verhoog.

“By my kry misdadigers en onproduktiewe mense baie swaar en hulle hou nie lank nie. Ek gee nie vir ʼn werker R10 as hy R5 se werk doen nie en daarteenoor gee ek nie vir ʼn persoon R10 as hy R20 se werk gedoen het nie. Dit is teen goeie ekonomiese en sakebeginsels.”

Hy sê hy glo nie aan die oortydbeginsel nie. “My trekkerdrywers word per hektaar betaal – of hy nou vyf ure of 19 ure neem om ʼn sekere oppervlakte te plant.”

Sy werknemers kry ook nie ʼn dertiende tjek nie, slegs ʼn bonus, want hy sê dit is onregverdig as die onproduktiewe werkers dit ook ontvang. “Hoë hoër die produksie, hoe hoër die bonus.”

Daarteenoor is daar werknemers wat aan die einde van die jaar baie meer ontvang as waarop normale vergoeding saam met ʼn dertiende tjek sou realiseer. “Die kort en die lank is dat ʼn persoon vergoed moet word vir die werk wat hy doen en kan werk vir iets vir Desember-maand.”

Om ʼn bonusstelsel en stukwerk te administreer kan ʼn uitdaging wees, maar elke trekkerdrywer het ʼn logboek in sy kajuit wat deur hom en sy bestuurders op datum gehou word. Sy bonus word dan daarvolgens uitgewerk wat aan die einde van die jaar uitbetaal.

Met ʼn ingewikkelde werk soos die versiening van ʼn trekker, betaal Du Plessis sy werktuigkundiges per versiening per trekker, “en hoe meer trekkers hy afhandel, hoe groter bonus kry jy. As hy ʼn meer tegniese taak moet afhandel soos om ʼn ratkas te versien, sal hy ʼn bykomende diensbonus kry wat volgens die bestuur bepaal word.”

Louma se bestuurders het ook ʼn bonusstelsel volgens die hektare wat hulle boer, asook die opbrengsmikpunte wat hulle behaal en wanneer hulle binne hul begroting bly. Daar word voor elke seisoen oesbeplanning gedoen sodat die bestuurders binne hul begroting kan bly.

Sodoende kan hy ook baie minder mense aanstel en steeds sy loonrekening in toom hou.

Du Plessis som sy beleid in die BOLKD-beginsel op. “Dit staan vir bestuur en beplanning, opleiding, leiding, kontrole en dissipline.”

Hy is ook bekend daarvoor dat sy werkers, van die nuutste en die laagste besoldigdes, netjiese en goed toegeruste behuising ontvang. “Louma voorsien goeie behuising wat aan al ons mense se behoeftes voldoen. “Beurtkrag beïnvloed nie hul leefstyl nie, aangesien alle huise met gasstowe en sonkrag toegerus is, sodat hulle altyd warm water het en warm kos kan eet wanneer hulle wil. My mense moet behoorlik kan uitrus na ʼn lang dag se werk.”

 

Lourens du Plessis glo ‘n plaaswerker verdien baie goeie behuising. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Hy sê diefstal en nalatigheid in sy maatskappy word met die nodige erns hanteer en verliese word van die skuldige se bonus afgetrek. “Ons lei feitlik geen skade nie, wat dus ook ʼn finansiële voordeel vir al die werknemers inhou.

“Wanneer daar ʼn ongeluk plaasvind sal ek dit volgens die meriete van die saak hanteer.”

Op Louma word daar elke jaar ʼn prestasietoekenningsgeleentheid aangebied vir bogemiddelde diens. “Mense wat presteer moet beloon word. ʼn Arbeider wil erken word en wil sy naam op ʼn medalje, sertifikaat of trofee sien. Ek het gevind dat dit ʼn baie groter aansporing as finansiële vergoeding is.”

Hy voeg by dat wette nie arbeid kan motiveer nie. “Mense word deur werks- en projekdoelwitte aangespoor. Jy kan nie arbeid met wetgewing suksesvol, volhoubaar en produktief bestuur nie; slegs met ʼn motiveringstelsel. Ek ignoreer nie wette nie, wette is daar om veilige grense te trek, maar dit is nie daar om arbeid te bestuur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

VaalDonkie ·

Stel jou voor jou baas kom eendag na jou toe en vertel vir jou “ek wou jou eintlik nog minder betaal het, maar dit sou teen die wet wees. O ja, jy moet asseblief oortyd werk want ons moet Vrydag klaar wees”.

Nee, ek sou ook nie gemotiveerd voel nie.

Michael ·

Wat ‘n fantastiese boer-ander boere moet by hom gaan leer. Ongelukkig stel die ANC nie belang in enige besigheid wat werk nie en indien hy werk doen hulle alles moontlik om dit te vernietig

BRBR ·

In die 8ste paragraaf moet ‘vorige eienaar’ dalk ‘vorige werkgewer’ wees?

Renier ·

Dalk,maar meeste van ons weet hy verwys na die plaas eienaar.

marius ·

Dit word deurgegee na die voos verbruiker wat geen verhoging kry nie .

Susanna ·

Uitstekende sake vernuf! Dis ‘n wenresep en kan in alle maatskappye aan gewend word. Die stelsel sal ook plaasmoorde verminder. Ek glo dat plaasmoorde ‘inside job’ is en met die stelsel in plek kan elke werker se geskiedenis na gevolg word. Gelukkige werknemers is meer produktief en getrou aan die werkgewer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.