Veldbok-boerdery bring kultuurgroepe saam

‘n Skilderbok. (Foto: Du Preez de Villiers)

Nóg ʼn opwindende landbouprojek oor kultuurgrense heen is in die Oos-Kaap van stapel gestuur.

iNkosi Zwelothando Mabandla, Saai en AfriForum het vandeesweek ʼn inheemse veldbokstoet in die AmaBhele kaJamangile-koninkryk naby Maclear in die Oos-Kaap gevestig.

Maroela Media het vroeër berig dat daar reeds ʼn soortgelyke projek vir gemeenskappe in die Vrystaat, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal van stapel gestuur is.

Barend Uys, AfriForum se hoof van interkulturele verhoudings en samewerking, sê dié stoetery sal uiteindelik lei tot die daarstel van ʼn lewensvatbare landbou-onderneming, die verhaling van die aanvanklike finansiële belegging en die verskaffing van basiskuddes vir die vestiging van toekomstige ontwikkelingsprojekte in die provinsie.

Hierdie projek volg op die verkenningsbesoek aan die gebied deur verteenwoordigers van AfriForum en Saai in Junie vanjaar wat die insameling van inligting oor plaaslike toestande, landbougeleenthede en raadpleging met verskillende landbourolspelers ingesluit het.

Mabandla, wat ook die voorsitter van die Jamangile ka Mabandla- koninklike familieraad is, sê hy sien baie uit na hierdie inisiatief.

“Ek is opgewonde oor die vooruitsig om aan die projek, om ʼn inheemse veldbokstoet te vestig, deel te neem. Ek is ook bly dat die projek opleiding- en kennisoordraggeleenthede vir die AmaBhele kaJamangile- tradisionele gemeenskap sal bied, omdat baie gemeenskapslede reeds met bokke boer.

“Dit is ʼn voorreg om saam aan ʼn projek te werk wat ook basiskuddes sal lewer vir toekomstige ontwikkelingsprojekte in die gebied,” sê Mabandla.

“Dit is ʼn gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek met iNkosi Zwelothando as die grond- en projekeienaar en Saai en AfriForum as ondersteunende medewerkers. Die erkennings-en-samewerkingsooreenkoms wat vroeër vanjaar tussen die kantoor van iNkosi Zwelothando en AfriForum gesluit is, het die grondslag vir dié projek gelê, aangesien samewerking vir landbou-ontwikkeling en die bevordering van gemeenskapselfstandigheid van die doelwitte van die ooreenkoms is.

“Dié projek is nog ʼn voorbeeld van die vooruitgang wat moontlik is wanneer verskillende kultuurgemeenskappe in goeder trou saamwerk op die grondslag van wedersydse erkenning en respek terwyl die voorspoed van toekomstige geslagte vooropgestel word,” sê Uys.

“Leon Lourens van Saai het verskillende landbousakegeleenthede, gegrond op die gemeenskap, die mark en plaaslike omstandighede ondersoek. Ons het besluit om dié inheemseveldbokstoetprojek aan iNkosi Zwelothando voor te stel aangesien hy ervaring met kleinveeboerdery het, en sodat ander families wat met bokke boer ook voordeel sal trek uit die opleiding wat deel van die projek is en daar sodoende ʼn gesonde verkoopsmark vir bokke is.”

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê sy organisasie is trots om die projek te ondersteun wat tot die voordeel van die familieboere van die AmaBhele kaJamangile- tradisionele gemeenskap sal strek.

“Dié projek is nog ʼn boublok in die skep van ʼn selfonderhoudende gemeenskap. Ons koninklike familie is ten gunste van versoening en om mense te leer dat ons met enigiemand kan saamwerk wat ons waardes deel, wat in vennootskap met ons kan werk om ons visie van selfstandigheid te verwesenlik.

iNkosazana Bhelekazi Mabandla, hoof van die koninklike diplomatieke diens van die koninklike Jamangile kaMabandla-familie, sê die regering kan nie al die probleme wat gemeenskappe in die gesig staar, oplos nie “en ons wil graag vir tradisionele gemeenskappe leer dat dit moontlik is om dinge self te doen”.

Die inheemse veldbokskilderstoet LGL, ʼn netwerkvennoot van Saai, is as spesialis by die projek betrokke en iNkosi Zwelothando sal ook by die Inheemseveldboktelersvereniging van Suid-Afrika affilieer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.