Covid-19: Raad vir troues wat afgestel is

(Foto: Free-Photos/Pixabay)

Maande se beplanning, betalings en opgewondenheid kan in ʼn oogwink in die wiele gery word. Die afgelope week moes talle bruidspare onder moeilike omstandighede alternatiewe opsies vir hul troue oorweeg omdat dit weens die uitbreking van die koronavirus nie meer gaan plaasvind nie.

Maroela Media het by ʼn paar diensverskaffers gaan aanklop vir raad oor hoe om positief te bly ten spyte van die groot teleurstelling.

André Vermaak van AMA Promotions, wat allerlei dienste soos musiek, fotohoekies en vervoer aan troues verskaf, vertel dat só ʼn situasie saam hanteer moet word.

“Ons boodskap aan kliënte is dat bruide saam met hul verskaffers aan ʼn nuwe datum moet dink en daarvolgens beplan,” sê Vermaak. Hy het vandeesweek saam met talle hartseer kliënte gewerk om alternatiewe planne te beraam.

“Die wêreld gaan nou deur ʼn kritieke tyd en juis daarom is dit belangrik dat ons op God vertrou,” bemoedig hy.

“Ons stap die pad saam met elke kliënt. Ons wens elkeen wat hierdeur geraak word alle sterkte en voorspoed toe. Mag God julle bewaar en beskerm.”

Vermaak bevestig dat AMA Promotions bereid is om datums te herskeduleer, asook om deposito’s wat reeds betaal is, oor te dra.

“Ons het begrip daarvoor dat almal hard vir hulle geld werk en in baie gevalle moet bruidspare lank spaar vir hul groot dag.”

Villa Rosa Wedding Venue is ook bereid om paartjies tegemoet te kom.

“Ek begryp dat dié situasie buite ons almal se beheer is. Daarom sal ek met graagte troues herskeduleer of saam met bruide werk om steeds hul troudag ʼn werklikheid te maak,” vertel Roseley Strydom, mede-eienaar en troukoördineerder by dié venue.

Trourokke ontwerp deur Mimie Bespoke (Foto: George & Co.)

Jomari van der Berg, voorkomskonsultant en ontwerper by Mimie Bespoke, meen ook daar is belangriker dinge in die lewe as ʼn troudatum.

“Jou verloofde het jou nie verlaat nie, so jy kan jou troue uitstel,” meen sy. “Gesels met jou verskaffers en as jou venue nie meer Saterdae vir die jaar oop het nie, kies dan ʼn ander dag. Kan dit werklik so erg wees om op ʼn Vrydag of Sondag te trou? Dit gaan immers oor die oomblikke in jou lewe en nie datums en tye nie,” verduidelik Van der Berg.

Hier is ʼn paar praktiese wenke wat sy met bruide deel wat nie betyds was om voor die afsonderingstydperk te trou nie:

  • Vier steeds die dag wat jou troue sou plaasvind. Eet ʼn spesiale ontbyt saam met jou aanstaande of hou ʼn romantiese piekniek in die tuin.
  • Vertel vir mekaar hoekom julle so lief vir mekaar is. Sê vir jou aanstaande hoe hy of sy jou lewe ophelder.
  • Droom oor jou groot dag en raak opnuut opgewonde.
  • Laat weet die ontwerper wat jou rok maak of gemaak het, asook ander diensverskaffers wat die nuwe troudatum gaan wees.

Sy benadruk dat bruide kort voor die troue weer by hul ontwerpers ʼn draai moet maak.

“Gaan twee weke voor jou nuwe datum weer vir ʼn passing en maak seker jou rok pas perfek. Laat hulle jou rok weer stoom sodat dit vars is,” verduidelik sy. Van der Berg nooi alle bruide wat in dié tyd probleme met hulle ontwerpers ervaar om haar te kontak vir hulp met hul trourokke.

Haar raad is om die onsekerheid en uitdagings van die koronavirus as ʼn toetslopie vir jul huwelik te beskou.

“Niemand het die koronavirus sien kom nie. Die huwelik gaan ook nie sonder sy uitdagings kom nie. Hierdie is ʼn oefenlopie vir hoe julle in die toekoms onsekerhede en uitdagings gaan aanpak,” sê sy. “Ons uitkyk op die lewe bepaal hoe ons die lewe ervaar. Bly positief en kies om die lig in elke donker situasie te sien.”

Villa Rosa Wedding Venue (Foto: CRWyeth Photography)

Het jy geweet? AMA Promotions, Mimie Bespoke, Villa Rosa Wedding Venue en CRWyeth Photography is deel van die diensverskaffers wat later vanjaar in samewerking met Maroela Media ‘n troue ter waarde van R 170 000 gaan weggee. Die kompetisie sluit op 13 April. Kliek hier vir meer inligting.

Neem kennis dat die besigtigingsdag wat 28 Maart by Villa Rosa sou plaasvind, gekanselleer is. Weens die troukompetisie wat gedurende die afsonderingstydperk sluit, sal daar ongelukkig nie ʼn alternatiewe datum wees nie. ‘n Besoek aan die venue is nie ‘n vereiste om vir die kompetisie in aanmerking te kom nie. Bruidspare is steeds welkom om ʼn afspraak by die venue te maak. Strydom het bevestig dat daar nog datums vir 2020 en 2021 beskikbaar is en dat bruidspare welkom is om haar te kontak indien hulle die venue wil besoek. 

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.