Borskanker raak een uit elke 27 SA vroue

Oktober is borskankerbewusmakingsmaand. (Foto: Anna Tarazevich/Pexels)

Omdat borskanker die algemeenste kanker onder Suid-Afrikaanse vroue is, met een uit 27 wat daardeur geraak word, wil die Borsbeeldingvereniging van Suid-Afrika (Breast Imaging Society of South Africa, Bissa) vanjaar tydens borskankerbewusmakingsmaand opnuut die belangrikheid van vroeë opsporing beklemtoon.

Nagenoeg 23% van alle kankers wat in Suid-Afrika gediagnoseer word, dui op borskanker.

Daarom moedig Bissa, ʼn sub-spesialiteitsgroep van die Radiologiese Vereniging van Suid-Afrika, gereelde selfondersoeke aan vir vroue so jonk as 20, en jaarlikse mammogramme van die ouderdom van 40 af.

Dr. Peter Schoub, voorsitter van Bissa, sê vroeë opsporing van borskanker verbeter oorlewingsyfers dramaties en verminder die behoefte aan aggressiewe behandeling.

“Een van die belangrikste uitdagings in Suid-Afrika is die laat-stadium diagnose van borskanker wanneer die kanker gevorderd is, wat die kanse op suksesvolle behandeling verminder. Hierdie laat diagnose is dikwels weens ʼn gebrek aan bewustheid, beperkte toegang tot gesondheidsorggeriewe en sosio-ekonomiese ongelykhede.”

Volgens Schoub benut minder as 20% van vroue met private mediese sorg die jaarlikse, gratis mammogram-sifting wat aan hulle beskikbaar is.

Hoewel dit meer algemeen word namate ʼn mens ouer word, sê Schoub dat borskankerdiagnose veral toeneem onder vroue in hul dertigs.

“Jong vroue ervaar meer aggressiewe borskanker wat vinnig vorder en teen die tyd van diagnose in ʼn gevorderde stadium is, wat die risiko verhoog dat kanker na ander dele van die liggaam versprei. Borskanker raak ook vroue van alle ouderdomme, rasse en sosio-ekonomiese omstandighede.”

Enige abnormaliteit wat tydens ʼn ondersoek opgespoor word, ongeag ouderdom of familiegeskiedenis, regverdig volgens Schoub ʼn onmiddellike mediese konsultasie met ʼn gesondheidswerker.

Hy sê die doel van sifting vir borskanker is om die siekte te vind voordat dit simptome veroorsaak.

“Gereelde sifting is meer geneig om borskanker te vind wanneer hulle klein is en steeds beperk is tot die borsarea wat noodsaaklik is vir suksesvolle behandeling en oorlewing, aangesien die grootte en omvang van die verspreiding die belangrikste is om die uitkoms van ʼn borskankerdiagnose te voorspel.”

Wie loop die risiko om borskanker te ontwikkel?

(Foto: Anna Tarazevich/Pexels)

Elke vrou loop volgens Schoub die risiko om borskanker te kry. Sekere faktore sal hulle egter in ʼn hoër risikokategorie plaas, insluitend:

  • Ouderdom

Die risiko om borskanker te ontwikkel neem toe soos ʼn mens ouer word, maar een uit agt indringende borskankers word by vroue jonger as 45 gevind.

  • Familiegeskiedenis

Vroue met nabye familielede wat borskanker gehad het, het ʼn groter risiko.

  • Persoonlike geskiedenis

ʼn Vrou met kanker in een bors al gehad het, het ʼn groter kans om ʼn nuwe kanker in die ander bors of in ʼn ander deel van dieselfde bors te ontwikkel.

  • Digte borsweefsel

Vroue met digte borsweefsel (soos op ʼn mammogram geïdentifiseer) het meer klierweefsel en minder vetweefsel en is dus ʼn hoër risiko vir borskanker.

  • Oorgewig

Navorsing het getoon dat vroue wat oorgewig is hul risiko van bors- en ander kankers verhoog.

  • Leefstyl

Oormatige alkoholverbruik, gebrek aan fisieke aktiwiteit, rook en diëte hoog in ongesonde vette verhoog die risiko vir borskanker.

  • Hormonale faktore

Vroue wat nie ʼn voltermyn swangerskap gehad het nie of hul eerste kind na ouderdom 30 het, het ʼn hoër risiko van borskanker in vergelyking met vroue wat geboorte gegee het voor die ouderdom van 30.

Borsvoeding kan die risiko van borskanker verlaag, veral as ʼn vrou borsvoed vir langer as een jaar. Vroue wat op jonger as 12 begin menstrueer het, het ʼn groter risiko vir borskanker later in hul lewe. Dieselfde geld vir vroue wat deur menopouse gaan wanneer hulle ouer as 55 is.

(Foto: Anna Shvets/Pexels)

Hoe om jou borste self te ondersoek

Die bors verander regdeur die menstruele siklus en dit is belangrik om altyd selfondersoek te doen op dieselfde tyd van die maand, gewoonlik ʼn week ná jou siklus wanneer jou borste minder gevoelig is as gevolg van skommelinge in hormoonvlakke.

  • Visuele ondersoek – Sit of staan voor ʼn spieël sonder klere aan en met jou arms na jou sy en kyk vir veranderinge in grootte, vorm, simmetrie, rimpeling en kuiltjies.
  • Fisiese ondersoek – Lê sodat jou borsweefsel uitsprei, of in die stort met seep om makliker oor jou borste te gly:
    • Gebruik die kussings van jou drie middelvingers, nie jou vingerpunte nie, om te ondersoek.
    • Pas verskillende drukvlakke toe: liggies om die borsweefsel naaste aan die vel te voel, medium om dieper te voel, en ferm om die weefsel naaste aan die bors en ribbes te voel.
    • Gebruik ʼn metodiese tegniek soos om naby die sleutelbeen te begin en dan kloksgewys na die tepels te beweeg.
    • Laat genoeg tyd toe en moenie dit afjaag nie.

Tekens om voor uit te kyk:

Besoek jou gesondheidsorgverskaffer as jy enige van hierdie veranderinge opmerk:

  • swelling van die hele bors of slegs ʼn deel van die bors,
  • velirritasie, kuiltjies of riwwe op die vel,
  • tepelpyn of ʼn tepel wat na binne draai,
  • rooiheid, skubberigheid of verdikking van die tepel of borsvel,
  • ʼn tepelafskeiding anders as borsmelk, of
  • ʼn knop of knoop naby die okselarea.

Spogtee beklink én bemagtig kankerpasiënte

Die publiek gaan weer binnekort die geleentheid kry om ʼn elegante oggend te geniet en terselfdertyd ʼn bydrae te lewer om die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se werk met kankerpasiënte te help voortsit.

Kansa se jaarlikse spogtee vind vanjaar op 25 Oktober by die Heartfelt-arena in Pretoria plaas, en poog om bewusmaking te kweek en geld in te samel vir slagoffers en hul geliefdes wat deur kanker geraak word.

Bibi du Preez, aktrise, komediant en sangeres, en die sanger Fanus Pienaar sal vanjaar vir vermaak sorg, terwyl inspirerende verhale deur kankeroorwinnaars ook deur die loop van die program gedeel sal word.

  • Tree met Anita Snyders van Kansa in verbinding by 012 329 3036 of 083 633 5798 om meer inligting of om vir vanjaar se tee te registreer. Jy kan ook ʼn e-pos stuur na [email protected].
  • Kyk na Maroela Media se video oor verlede jaar se spogtee hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Dis nou alles goed en wel dat kanker voorkominde screening net beskikbaar is vir mense op pvt. medies. As slegs 20% van lede daarvan gebruik maak “vorseer” dan die lede met hoer premies as hulle nie vir screening gaan nie. Hierdie is nie eers beskikbaar by ‘n staats hospitaal of kliniek nie, net as dit reeds telaat is. NS. Mans kwalifiseer oor vir prostaat screening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.