Detoks nié die antwoord vir gesonde leefstyl

Geen detoks sal gesondheidsvoordele vir jou kan inhou nie. Die enigste manier om gesond te wees, is deur ʼn gebalanseerde dieet en genoeg oefening.

In ʼn onlangse gesondheidseminaar deur die dieetkundige Beatri Coetzee het sy gesê jy hoef nie daardie groen sappies te drink om toksiene uit jou lyf te verwyder nie, jou liggaam doen dit sommer self!

“Jy het niere, longe en ʼn vel, so jou liggaam detoks homself, hy hoef dit nie met die een of ander dieet te doen nie,” sê sy.

Omdat jy sweet, urineer en werkende niere en longe het, gebeur die detoksproses sonder dat jy enigiets hoef te doen.

Volgens Coetzee is ʼn detoks een van die grootste klugte van die dieet-mentaliteit. Dieet-mentaliteit is die idee dat mense altyd ’n dieet moet volg om ʼn gesonde, gelukkiger lewe te leef.

Coetzee is wel ʼn voorstander daarvan om met jou intuïsie te eet en nie ʼn dieet te volg nie.

Daar is verskillende maniere wat mense gebruik om te detoks, onder meer om vir ʼn aantal dae slegs tuisgemaakte vrugtesap te drink. Dit beloof gewigsverlies en ʼn gesonder vel en hare.

Volgens Coetzee kan dié metode werk vir korttermyn-gewigsverlies, maar nie ʼn noemenswaardige uitwerking hê nie aangesien die meeste mense wat ʼn detoks-dieet volg weer dieselfde gewig, en dikwels meer, bykry nadat die detoks voltooi is.

Sy skryf die gewigsverlies toe aan die vermindering van kilojoule-inname, aangesien die betrokke mense slegs sap drink. Die grootste rede hoekom die skaal se nommer daal, is omdat daar ʼn vermindering van water in die liggaam is.

Daar is wel baie gesonder maniere om jou kilojoule-inname op ’n natuurliker manier te beperk.

Coetzee sê ook dit is nooit ʼn goeie idee om hele voedselgroepe uit te sny, soos wat dikwels die geval is met detoks-diëte nie. Jou liggaam het byvoorbeeld proteïn nodig sodat die natuurlike detoks-proses behoorlik in jou organe kan plaasvind.

Daar is ook geen wetenskaplike studies wat toon dat ons liggame wél elke nou en dan ʼn blaaskans van die toksiene nodig het nie, en ook nie wat toon dat ʼn detoks-dieet gesondheisvoordele vir jou inhou nie.

Coetzee moedig mense aan om eerder ʼn gebalanseerde lewe te lei, jou liggaam te beweeg, te eet waarvoor jy lus is, asook jou honger en versadiging te eer, sonder dat jou dieet jou hele lewe regeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mieke ·

Ek dink dat mens maar genoeg water moet drink en dat die detox sy natuurlike gang sal gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.