Downsindroomdag vier ’n besonderse groep mense

(Foto: iStock)

Daar is ʼn besonderse groep mense, jonk én oud, wat ʼn mens se oog dikwels onverhoeds en onverwags vang. Dis gewoonlik die groot, breë glimlag, hartlike en gul gesels, of die liefdevolle drukkies wat tussen gesinslede en selfs vreemdelinge gedeel word, wat ʼn mens eerste opmerk (en jou vir baie lank bybly!).

John Langdon Down, ʼn Britse dokter en kampvegter vir mense met intellektuele of verstandelike gestremdhede, het dié groep mense met hul kenmerkende fisieke voorkoms reeds in 1866 beskryf, en Downsindroom is gevolglik na hom vernoem. Dit was egter eers jare later, in 1959, wat die Franse dokter Jerome Lejeune ontdek het dat Downsindroom die gevolg van ʼn chromosoomafwyking was.

Ofskoon mense met Downsindroom se lewensverwagting aan die begin van die dertigerjare slegs 9 jaar was, kan iemand met Downsindroom vandag, danksy vroeë en goeie behandeling, ouer as 60 jaar word. Trouens, die persoon met Downsindroom wat die langste tot dusver geleef het, was Joyce Greenman van Brittanje, wat in 2012 op 87-jarige leeftyd oorlede is.

Danksy spraak-, arbeids- en fisioterapie, ontwikkel dié persone se fisieke en intellektuele vermoë dikwels sodanig dat hulle in ʼn “gewone” skoolklas (natuurlik met ekstra hulp en ondersteuning) kan inskakel en ʼn suksesvolle beroepsloopbaan kan volg.

Volgens die Verenigde Nasies, wat 21 Maart twaalf jaar gelede as Wêreld-Downsindroomdag verklaar het, kom Downsindroom by 1 uit elke 1 000 geboortes wêreldwyd in ontwikkelde lande en 1 uit elke 600 geboortes in ontwikkelende lande voor. Ongeveer 3 000 tot 5 000 kinders word jaarliks met hierdie genetiese afwyking gebore.

Genetiese geheimenis

(Foto: iStock)

Soos met enige voortplanting, is menslike bevrugting ʼn wonderlike en hoogs komplekse gebeurtenis wat één spermsel en één eiersel toelaat om saam te smelt – met albei ouers se genetiese materiaal wat in die vorm van chromosome verhul word. Die resultaat is ʼn sigoot – ʼn enkele nuwe sel wat ál die genetiese instruksies bevat om ʼn tipiese en volledig-ontwikkelde organisme te word. Dié enkele sigoot begin dan onderverdeel en vorm nóg selle wat eindelik tot ʼn embrio in die baarmoeder ontvou.

Elke liggaamsel wat voortaan ontwikkel, sal daarom twee kopieë van al 23 chromosome bevat, met ander woorde een stel van elke ouer, oftewel altesaam 46 chromosome. Nommer 23 bepaal geslag, maar die ander 22 is identies aan die ouers s’n en word outosome genoem. Hulle word volgens grootte genommer, met nommer 1 as die heel grootste, en nommer 21 die heel kleinste.

Downsindroom beskryf die teenwoordigheid van ʼn volledige, of gedeeltelike ekstra kopie van chromosoom 21. Anders gestel – normaalweg het ʼn mens twee kopieë van chromosoom 21, terwyl individue met Downsindroom drie kopieë het. Daarom word daar dikwels van Trisomie-21 gepraat, hoewel dit eintlik net een vorm van Downsindroom is wat in 90% tot 95% van gevalle voorkom.

Twee ander vorme word ook onderskei:

  • Mosaïektipe-downsindroom is baie skaars (2%), nie oorerflik nie, en die kans dat ʼn moeder twee keer aan só ʼn baba geboorte sal gee, is uiters skraal.
  • Translokasie-downsindroom beskryf babas wat die kliniese simptome van Downsindroom toon, maar waarvan elke liggaamsel die tipiese 46 chromosome bevat. Hulle word egter met ekstra chromosomale materiaal van ʼn ander chromosoom gebore, gewoonlik nommer 14. Dit kom in 3% van gevalle voor en is die enigste vorm van Downsindroom wat oorerflik is.

Eiesoortige eienskappe

(Foto: iStock)

Die presiese oorsake van Downsindroom is glad nie klinkklaar nie en almal het ook nie dieselfde fisieke voorkoms nie. Tog is daar eiesoortige eienskappe wat kenmerkend is, insluitend:

  • ʼn Kort nek en klein kop;
  • afplatting van die agterkant van die kop;
  • platvormige gesig en neusbrug;
  • die tong is geneig om by die mond uit te hang;
  • amandelvormige oë met opwaartse, skuins ooglede;
  • voue van die vel aan die binnehoeke van die oë;
  • klein wit kolletjies op die iris (gekleurde deel van die oog);
  • ongewoon gevormde of klein ore, laag aan die kop geleë;
  • relatief klein voete buite verhouding met die res van liggaam;
  • breë, maar klein hande met vingers wat na die duim buig;
  • ongewone vingerafdrukke;
  • enkele plooi oor die palm van die hand;
  • lae spiertonus of ongewoon los gewrigte; en
  • buitengewone buigsaamheid.

ʼn Baba met Downsindroom is nie kleiner of groter as ander nie, maar groei stadiger en bly korter as ander kinders van dieselfde ouderdom. Ongeveer ʼn derde van kinders met Downsindroom het aangebore hartsiektes, maar kan ook met verstopte ingewande, katarakte, gehoor- en sigverlies, en skildklierprobleme gebore word. (Lees hier meer oor die aard en voorkoms van die toestand.)

Unieke individue

Downsindroom is ʼn lewenslange toestand, en kan nie genees of voorkom word nie. Dit is belangrik om te onthou dat elke persoon met Downsindroom ook unieke talente het en oor die vermoë beskik om te floreer. Onthou dat dit nie ʼn siekte, aandoening of kwaal is nie, maar ʼn toestand of sindroom. Neem gerus die volgende wenke ter harte wanneer jy na iemand met Downsindroom verwys:

PASOP VIR:SÊ EERDER:
·        “Downie” of “Down” (om dit af te kort).·        Downsindroom, of gebruik die afkorting DS.
·        Iemand ly aan, of is ʼn slagoffer van DS.·        Iemand het DS, of iemand met DS.
·        Hy of sy is vertraag of ʼn mongool.·        Hy of sy het DS, of is iemand met DS.
·        ʼn Downsindroombaba, -persoon, of -paartjie.·        ʼn Baba, persoon of paartjie met DS, of wat DS het.
·        ʼn Verstandelik-gestremde persoon.·        Leergestremde, of intellektueel-gestremde persoon.
·        Normale ontwikkeling, of normaal.·        Tipiese ontwikkeling, of tipies.
  • Lees gerus hier om uit te vind hoe jy met kleurvolle sokkies kan bydra om bewustheid oor Downsindroom op 21 Maart te skep.
  • Die Club21-leersentrum vir jongmense met downsindroom se droom is om ʼn volwaardige biblioteek op te rig om hulle verder te bemagtig om die wêreld daarbuite te betree. Lees meer oor dié projek hier op Maroela Media.

Bykomende bronne: UPMC Health Beat, Western Cape Down Syndrome Association, Mayo Clinic, Down Syndrome South Africa, UK Down’s Syndrome Association en US National Down Syndrome Society.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.