Immunisering: Weersin en welslae

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Die debat rondom immunisering, oftewel inenting, is bykans so oud soos die gevreesde naaldprik self en vlam gereeld op. Van die mees onlangse inentingsveldtogte om kuddeweerstand teen die Covid-19-pandemie te probeer bewerkstellig (en die gevolglike reisbeperkings daarsonder) tot die jaarlikse griepinspuiting. Telkens tree twee spanne aan om die meriete van dié prikkelende saak te debatteer.

Wêreldinentingsweek word jaarliks in die laaste week van April gevier om enersyds bewusmaking oor die waarde van entstowwe te skep en andersyds breër toegang te bewerkstellig en meer mense en hul gemeenskappe teen siektes te beskerm wat deur entstowwe voorkom kan word.

Ongeag die kamp waarin jy jou bevind, is die geskiedenis insiggewend en kan die bewese welslae nie sommerso weggepraat word nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) voorkom kleintydimmunisering jaarliks tot 4 miljoen sterftes wêreldwyd. Dit sluit in sterftes weens siektes soos masels, griep en polio.

Daar word geraam dat 51 miljoen sterftes tot 2030 deur immunisering voorkom kan word. Teen 2030 word beraam dat die masels-inenting byna 19 miljoen lewens kan red en dié teen hepatitis B nagenoeg 14 miljoen lewens. Die wêreldinentingskoers het in 2021 tot ʼn rekordlaagtepunt van 81% gedaal, die laagste in meer as ʼn dekade en bykans 10% laer as die dekkingskoersmikpunt van 90%.

 Spuitsuksesverhaal

Die uitwissing van pokke is tot vandag toe nog die WGO se grootste suksesverhaal. Dié hoogs aansteeklike siekte het volgens sommige bronne sedert die 1900’s die lewens van tot 300 miljoen mense geëis. Die WGO het binne die eerste dekade ná sy ontstaan in 1948 beraam dat 80% van die wêreld se bevolking ingeënt moes word om die siekte te stuit. Die organisasie se entstofprogram het vrug gedra en op 8 Mei 1980 is die wêreldwye uitwissing van pokke amptelik aangekondig.

Ten spyte van die sukses van immuniseringsprogramme, is daar steeds groot teësinnigheid uit die kamp wat meen die verswakte of onaktiewe vorm van ʼn patogeen wat in die liggaam ingespuit word om die immuunstelsel te stimuleer en sodoende beskerming teen siekte-veroorsakende organismes te bied, maak ʼn mens sieker as byvoorbeeld die griepsimptome wat jy ieder geval sou ervaar. Aan die ander kant is daar miljoene kinders wêreldwyd, veral in lae-inkomstelande en afgeleë gebiede, wat nie die nodige entstowwe ontvang nie, wat hulle kwesbaar vir lewensgevaarlike siektes maak.

Geskiedenis van immunisering

(Foto: iStock)

Die konsep van immunisering kan duisende jare teruggespoor word. In die antieke tye is waargeneem dat mense wat sekere siektes oorleef het, immuun was teen verdere infeksie. Die moderne era van inenting het in 1796 begin toe die Britse geneeskundige Edward Jenner ontdek het dat vroue wat beeste gemelk en aan koeipokke blootgestel is, immuun teen pokke was. Hy het daarna die eerste entstof met behulp van koeipokkemateriaal ontwikkel, wat die grondslag vir moderne immuniseringstegnieke gelê het.

Sedertdien is talle entstowwe ontwikkel om verskeie aansteeklike siektes, soos polio, masels, pampoentjies, rubella en hepatitis B te bekamp. Benewens die uitwissing van pokke, het die WGO ook sukses gesmaak in die vermindering van sterftes weens malaria, ʼn verskerpte veldtog teen tropiese siektes (wat een uit elke ses mense raak) uitgerol, geelkoors grootliks in die kiem gesmoor en gehelp om hepatitis C-medikasie vir meer mense beskikbaar en bekostigbaar te maak.

Belangrikheid van immunisering

Immunisering speel ʼn deurslaggewende rol in openbare gesondheid deur die voorkoms en erns van aansteeklike siektes te verminder. Dit beskerm nie net individue teen lewensbedreigende siektes nie, maar help om die verspreiding van siektes binne gemeenskappe te voorkom.

Immunisering dra by tot kudde-immuniteit, ʼn verskynsel waar ʼn aansienlike deel van die bevolking weerstand teen ʼn siekte opbou, wat dit moeilik maak vir die siekte om te versprei. Dit beskerm veral kwesbare individue soos babas, bejaardes en diegene met verswakte immuunstelsels.

Boonop hou immunisering ekonomiese voordele in, aangesien dit gesondheidsorgkoste wat met behandeling en hospitalisering verband hou, verminder en produktiwiteit verhoog deur siekteverwante afwesighede by die werk of skool te voorkom.

Rol en doeltreffendheid van immunisering

It’ll only be a quick pinch

Immuniseringsprogramme het ʼn bewese invloed op die vermindering van morbiditeit en sterftesyfers reg oor die wêreld. Die WGO en sy vennote, soos Gavi, die Vaccine Alliance, en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef), werk saam om toegang tot entstowwe te verhoog, veral in lae-inkomstelande.

Volgens die WGO ontvang byna 25 miljoen kinders wêreldwyd steeds nie die noodsaaklike entstowwe nie. In 2021 was die inentingsdekkingsyfer vir drie dosisse witseerkeel-tetanus-pertussis (DTP3) en een dosis maselsbevattende entstof (MCV1) tussen 80% en 85%. Dit is egter veel laer as die wêreldimmuniseringsteiken van minstens 90%.

Die doeltreffendheid van immunisering is die maatstaf van hoe goed ʼn entstof siekte in ʼn ingeënte bevolking kan voorkom. Dit word deur verskeie faktore beïnvloed, insluitend die entstofontwerp, die vermoë om die immuunstelsel te stimuleer en te versterk, en die duur van die beskerming wat dit bied.

Hoewel geen entstof 100% doeltreffend is nie, het baie entstowwe bewys dat dit hoogs doeltreffend is om siektes te voorkom en die voorkoms van aansteeklike siektes wêreldwyd te verminder:

  • Masels: Die maselsentstof is nagenoeg 93% doeltreffend met een dosis en sowat 97% doeltreffend met twee dosisse. Wydverspreide immunisering het gelei tot ʼn aansienlike afname in gevalle van masels en sterftes wêreldwyd.
  • Polio: Die polio-entstof (IPV) is meer as 90% doeltreffend ná twee dosisse en meer as 99% doeltreffend ná drie dosisse. Die orale polio-entstof (OPV) is ook hoogs doeltreffend, met doeltreffendheidsyfers wat wissel van 90% tot 95%. Inentingsprogramme het die wêreld ook baie nader aan polio-uitwissing gebring, met slegs ʼn paar oorblywende endemiese lande.
  • Menslike papilloomvirus (MPV): Die MPV-entstof het meer as 90%-doeltreffendheid getoon in die voorkoming van infeksie en siektes wat deur geteikende MPV-tipes veroorsaak word. Dit het gelei tot ʼn beduidende afname in die voorkoms van servikale kanker en ander MPV-verwante kanker.
  • Griep: Hoewel die doeltreffendheid van die seisoenale griep-entstof van jaar tot jaar wissel as gevolg van die voortdurend ontwikkelende aard van die virus, wissel dit van 40% tot 60%. Inenting teen griep help om die las van die siekte te verminder en om ernstige gevalle, hospitalisering en sterftes te voorkom.

Bykomende bronne: CDC, Mayo Clinic, The Lancet, Healthline en Medical News Today.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DJ ·

Ongelukkig het die COVID inenting en die verpligting daar rondom die inenting boodskap baie skade aangedoen. Die oomblik wanneer mense verplig word, wetlik of sosiaal, dan ontstaan daar ‘n negatiewe reaksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.