IV-druppe takel veroudering, wingerdgriep

Jy kan gemaklik raak by die IV Lounge in Dainfern, Johannesburg terwyl jy ‘n jou behandeling ontvang. (Foto: Maroela Media)

Die IV Lounge in Dainfern, Johannesburg, is die perfekte plek om te midde van die stadslawaai en ʼn besige werkdag gou jou skoene vir ʼn uur uit te skop terwyl jy agteroor sit – al is dit met ʼn IV-drup in die arm.

Dié binneaarse vitamien- druppe (IV-druppe) is ontwerp om die algehele gesondheid van die mens te bevorder en is voordelig vir die brein, vel en immuunsisteem. Dit is ryk aan vitamiene en minerale wat gebruikers die nodige hupstoot gee.

Die Express Skin Brightening- en Skin Brightening Max-druppe, wat ʼn natuurlike, gloeiende vel bevorder, is ʼn absolute gunsteling onder kliënte van alle ouderdomme en geslagte.

“Aangesien dit meer voordelig is wanneer dit in ʼn reeks toegedien word, maak meeste van die kliënte sommer twee of drie keer per week tyd om hier te kom uitspan,” sê Charissa Dickinson, mede-eienaar van The IV Lounge.

Sy verklap dit is egter die drup wat wingerdgriep in ʼn japtrap takel wat naas die gewigsverlies- en velverbeteringsdruppe ongetwyfeld hulle gewildste produk is.

Die Hangover-drup bied vinnige verligting van hoofpyn, duiseligheid, bewerasies, spierpyne of ʼn omgekrapte maag en spoel al die gifstowwe uit jou liggaam.

Daar is ook gesondheidsprodukte te koop. (Foto: Maroela Media)

“Daar is daagliks ʼn hele paar kliënte wat van dié drup gebruik maak. Dit sit sommer vinnig weer die huppel in jou stap ná ʼn lang aand.”

Met die winter wat voorlê laat die Immune Booster-drup klënte ook na The IV Lounge stroom. Dit help om virale, bakteriële en parasitiese infeksies te voorkom en help ook om verkoues en griep vinniger te klop.

Die verpleegster wat die naald en drup hanteer is uiters professioneel en laat jou op jou gemak voel. Daar is ʼn paar sitplek-opsies om van te kies en jy kan selfs jou gunsteling- Netflix-program volg en ʼn warm cappuccino of ʼn glasie vonkelwyn geniet terwyl jou are vol nutriënte gepomp word.

Klënte kan kies en keur uit meer as ʼn dosyn verskillende druppe en pasgemaakte druppe is ook beskikbaar.

Behandelings kos tussen R950 en R2 200. Hoewel dit ʼn mens ʼn paar rand uit die sak gaan jaag, is dit duidelik die moeite werd – veral as ʼn mens in ag neem hoeveel kliënte daagliks The IV Lounge se drumpel oorsteek.

Daar is net een The IV Lounge in die land – in Dainfern Square. Vir meer inligting stuur e-pos na [email protected] of besoek die webwerf. Skakel 060 650 1564 om ʼn afspraak te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Corne123 ·

Nee dankie ek kan nie insien hoe die gesond kan wees nie al beweer hulle wat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.