Leer om soos ʼn atleet te slaap

Argieffoto. (Foto: Karolina Grabowska/Pexels)

Weens uitdagende omstandighede het ʼn goeie nagrus deesdae vir baie mense meer van ʼn luuksheid as ʼn noodsaaklikheid geword.

Op Wêreldslaapdag, wat jaarliks 17 Maart plaasvind, word die belangrikheid van gesonde slaapgewoontes aan die groot klok gehang.

Restonic SA, die beddegoedhandelsmerk, gebruik vanjaar ter viering van Wêreldslaapdag professionele atlete as voorbeelde om die noodsaaklikheid van ‘n goeie nagrus te benadruk.

Usain Bolt, wat tydens die 2008 Olimpiese Spele die vinnigste man ter wêreld geword het, het immers slaap as die belangrikste deel van sy oefenroetine bestempel.

Dr. Craig Uria, ‘n Suid-Afrikaanse chiropraktisyn en mededingende fietsryer, sê almal moet slaap prioritiseer, of jy nou meeding vir ʼn medalje, of net genoeg energie wil hê om ʼn besige week te trotseer.

Argieffoto. (Foto: Cottonbro Studio/Pexels)

“Slaap is ‘n noodsaaklike komponent van ‘n mens se algehele gesondheid en welstand, en dit speel veral ‘n besondere belangrike rol in atletiek. Voldoende slaap is noodsaaklik vir fisieke herstel, kognitiewe funksie en algehele gesondheid.”

Volgens Uria is slaap die beste herstelstrategie wat vir enige atleet beskikbaar is.

Hy sê voorts navorsingstudies dui daarop dat langer slaaptye na verbeterde fisieke en kognitiewe funksie van atlete lei. Min slaap kan atlete minder waaksaam maak, wat in ‘n sport soos fietsry uiters gevaarlik kan wees.

Hy benadruk ook die verband tussen genoegsame slaap en geestesgesondheid, daarom meen hy is slaap elkeen se “superkrag” wat optimaal benut moet word.

Volgens die Wêreldslaapvereniging, wat Wêreldslaapdag in 2008 van stapel gestuur het, word slaap nog nie as ‘n noodsaaklike gewoonte vir goeie gesondheid beskou nie.

Daarom is dit vanjaar die maatskappy se doelwit om mense te help om die krag van slaap in hulle lewens te ontsluit, sê Adele de la Rey, bemarkingsbestuurder by Restonic SA.

“Ons moedig mense aan om slaap ʼn prioriteit te maak, of hulle hulself as atlete beskou, of nie. Almal kan daarby baat om soos ’n kampioen te leer slaap. Net soos atlete ’n oefenroetine ontwikkel, kan ons almal daaraan werk om ons slaapgewoontes te verbeter en die voordele daarvan in ons lewens te geniet.”

Volgens De la Rey beteken dit dat slaapgewoontes binne én buite die slaapkamer verbeter kan word. Volgens Restonic SA moet alle suksesvolle slaapstrategieë die volgende insluit:

  • ‘n Gemaklike slaapplek sonder onderbrekings

Een van die grootste sondebokke wanneer dit by slaaponderbrekings kom, is elektroniese toestelle soos selfone en televisies. Die blou lig van hierdie produkte kan jou wakker hou deur jou natuurlike slaapritme te ontwrig, wat jou wakker eerder as slaperig laat voel. Skakel jou televisie minstens ‘n uur voor slaaptyd af en vermy jou foon vir so lank as moontlik voor slaaptyd.

  • Die vestiging van ‘n ontspannende roetine voor slaaptyd

Om ‘n kalmerende slaaptydroetine te vestig, is ‘n uitstekende manier om jouself geestelik sterk te hou en die stres te verlig wat jou andersins in die nag kan wakker hou. Neem dus tyd voordat jy gaan slaap om te ontspan deur te lees of ‘n warm bad te geniet.

  • Die behoud van ‘n streng slaapskedule

ʼn Deurmekaar slaapskedule belemmer jou liggaam se interne biologiese horlosie.

Bykomende bronne: Women’s Health.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.