Manne: Maak tyd vir dié toetse

Maak tyd om jou oë te laat toets. (Foto: iStock)

Ons manne sorg dat die swembad blou, die gras gesny en die motors blink is. Daar hang biltong en droëwors in die motorhuis, en die hout staan reg vir groot braai Saterdag. Daar’s ook nie ʼn manier wat ons ʼn rugbywedstryd gaan misloop nie! As dit egter by ons gesondheid kom, is ou tydskrifte deurblaai in die dokter se spreekkamer heel onderaan die doenlysie.

In Junie vier ons nie net Vadersdag nie, maar dié maand val die kollig ook op manlike gesondheid – die ideale geleentheid om ons ore te spits vir broodnodige gesondheidstoetse wat elke man gereeld moet laat doen. Deur tyd vir ʼn blitsbesoek aan die dokter of apteekkliniek af te knyp, sal keer dat jy die veld vroeg moet verlaat en onnodig op die krukkelys beland.

Dié tien toetse hoort op jou kalender

1. Bloeddruk

Wanneer? Elke twee jaar wanneer jy in jou 20’s en 30’s is, en minstens een keer per jaar as jy ouer as 30 is.

Hoekom? Byna 90% van mense ouer as 55 sal hoë bloeddruk (hipertensie) ontwikkel en meer as 18 miljoen mense sterf jaarliks aan hartsiektes en beroerte wat met hoë bloeddruk verband hou. Altesaam 45% van mans ouer as 15 jaar in Suid-Afrika ly aan hipertensie, maar byna 80% is onbewus hiervan. ʼn Normale bloeddruklesing is gewoonlik tussen 120-130/80-90 mmHg. Dié toets is vinnig en pynloos (geen naalde!).

Byna 90% van mense ouer as 55 sal hoë bloeddruk (hipertensie) ontwikkel. (Foto: iStock)

2. Cholesterol

Wanneer? Elke twee jaar as jy in jou 20’s of 30’s is en daar ʼn familiegeskiedenis van hartsiektes is. As jy in jou 40’s of ouer is, moet jy jou cholesterol met elke mediese ondersoek laat nagaan (of minstens elke ses tot twaalf maande).

Hoekom? Hoë cholesterol verhoog jou risiko vir hartsiektes en beroerte en daar is nie enige simptome wat die rooi ligte sal laat flikker dat jy aandag hieraan moet skenk nie. Een uit elke vier Suid-Afrikaners het hoë cholesterol, sowat 30% het hoë LDL-vlakke en 50% het lae HDL-vlakke. Hoëdigtheidslipoproteïen-cholesterol (HDL) is die goeie cholesterol wat vette na die lewer vervoer. Laedigtheidslipoproteïen-cholesterol (LDL) is weer die slegte cholesterol wat vet aan die wande van are laat saampak. ʼn Normale vlak is < 5,0 mmol/l (totaal), < 3,0 mmol/l (LDL), en > 1,0 mmol/l (HDL – mans). Jy gaan sterk moet staan, want vir dié outjie word bloed getrek.

3. Tipe 2-diabetes

Wanneer? Almal, ongeag hul ouderdom, moet elke drie jaar getoets word. Mans wat die grootste risiko loop, sluit in diegene met ʼn familiegeskiedenis van diabetes, iemand wat oorgewig is, of as jy hoë cholesterolvlakke of hoë bloeddruk het.

Hoekom? As jy tipe 2-diabetes het, het jy ʼn groter risiko vir onder meer hartsiektes en oogprobleme. Dié toestand raak ongeveer 451 miljoen volwassenes wêreldwyd, met tot 693 miljoen gevalle wat teen 2045 verwag word. Die grootste toename is in Afrika, met 69,2% van mense wat nie bewus is dat hulle diabetes het nie. Oorgewig is ʼn enorme risikofaktor met 39% van mans in Suid-Afrika wat oorgewig of vetsugtig is. Ook vir dié (bloed)toets moet jy moue oprol en op jou tande byt.

4. Prostaat

Wanneer? Hoewel prostaatkanker selde by mans onder 40 jaar gediagnoseer word en die risiko die grootste vir mans ouer as 65 jaar is, word jaarlikse siftingstoete aanbeveel vir alle mans bo 50 jaar. ʼn Broer of pa met prostaatkanker verdubbel jou kans vir prostaatkanker. Indien daar prostaatkanker in jou familie is of was, behoort jy vanaf 45-jarige ouderdom jaarliks getoets te word. Sowat 10% van prostaatkanker is oorerflik. Kyk uit vir bloed in jou urine, as jy sukkel om te urineer, ʼn brandpyn ervaar of baie gereeld ʼn draai moet loop.

Hoekom? Volgens die Prostaatkankervereniging van Suid-Afrika sal een uit agt Suid-Afrikaanse mans waarskynlik deur prostaatkanker geraak word. Die toets klink dalk erger as ʼn wortelkanaalbehandeling, maar vroeë opsporing verhoog jou kans op oorlewing. ʼn Bloedmonster word geneem om jou PSA-telling (prostaat-spesifieke antigeen) te meet, terwyl ʼn digitale rektumondersoek asook ʼn urientoets gedoen kan word. ʼn PSA van 0 tot 4 nanogram per milliliter (ng/ml) word as normaal beskou.

5. Testikulêre selfondersoek

Wanneer? Maandeliks, veral as daar ʼn geskiedenis van testikulêre gewasse is, as die testikels nooit afgesak het nie, of as jy onvrugbaar is. Wees op die uitkyk vir ʼn pynlose knop of swelling van die testikels, of ʼn dowwe pyn in die skrotum of onderbuik.

Hoekom? Testikulêre kanker is baie algemeen by mans tussen 15 en 49 jaar, met die gemiddelde ouderdom van diagnose op 33 jaar. Tot 1 uit elke 250 mans word hiermee gediagnoseer. Vroeë opsporing kan werklik jou lewe red. Dié ondersoek kan sommer blitsig tuis in die stort gedoen word.

6. Kolon

Wanneer? As daar geen familiegeskiedenis van kolonkanker is nie, kan jy jou eerste kolonoskopie op 50 ondergaan. As daar egter ʼn familiegeskiedenis is, behoort jy op 40 vir ʼn kolonoskopie (ʼn interne ondersoek van die dikderm) te gaan. Hierna elke vyf tot tien jaar, afhangend van jou risikoprofiel. As meer as een familielid kolonkanker ontwikkel het, behoort jy elke drie tot vyf jaar dié toets te laat doen. Wees op die uitkyk vir ʼn skielike veranderinge in jou stoelgang, bloed in jou stoelgang, of ʼn opgeblase gevoel.

Hoekom? Kolorektale kanker is op vier na die algemeenste kanker wat Suid-Afrikaanse mans raak. As dit egter vroeg opgespoor word, kan dit met groot sukses behandel word. Een uit elke vier gevalle is geneties, en kan met DNS-toetse opgespoor word. ʼn Kolonoskopie behels (ongelukkig) ʼn besoek aan die hospitaal of dagkliniek, asook narkose of sedasie.

7. Longe

Wanneer? Chroniese obstruktiewe longsiekte (COPD) kom gewoonlik voor ná die ouderdom van 40 jaar. Skade aan die longe kan nie omgekeer word nie. Simptome sluit in hoes, kortasem, en ʼn verhoogde risiko van longinfeksie, insluitend longontsteking. As jy chronies hoes, kortasem is of hyg, vra jou dokter om ʼn longfunksietoets te doen.

Hoekom? COPD beteken die longweefsel is beskadig en verloor sy vermoë om suurstof na die bloedstroom oor te dra. Emfiseem en chroniese brongitis is twee tipes COPD, en albei word meestal deur rook veroorsaak. ʼn Longfunksietoetse meet die hoeveelheid lug wat jy kan inasem en uitasem, en of jou longe genoeg suurstof aan jou bloed lewer. Die beste voorkomende maatreël is natuurlik om op te hou rook.

8. Oë

Wanneer? As jy in jou twintigs of dertigs is, moet jy jou oë elke vyf jaar laat toets. Een keer elke twee jaar wanneer jy in jou 40’s is, en jaarliks vanaf 50 jaar. Wees op die uitkyk vir wasige of belemmerde visie of pyn in jou oë.

Hoekom? Gereelde oogtoetse sal swak sig, gloukoom en katarakte opspoor en kan jou selfs van blindheid red. Meer as 50% van sigprobleme kan deur gereelde toetsing voorkom word.

Gevoelens is die laaste ding wat in gesprekke om die braaivleisvuur opduik, tog word nagenoeg 6 miljoen mans jaarliks met depressie gediagnoseer. (Foto: iStock)

9. Vel

Wanneer? Elke jaar vanaf die ouderdom van 40 jaar. Gholfspelers, krieketspelers, boere, vissermanne, jagters en enigeen wat baie tyd in die son deurbring, het ʼn hoë risiko om velkanker te ontwikkel.

Hoekom? Die Suid-Afrikaanse son kan ongenaakbaar wees en ons manne geniet dit om baie tyd buite te spandeer. Die meeste vorms van velkanker, wanneer dit vroeg opgespoor word, kan suksesvol behandel word. Jou dokter of velspesialis kan ʼn monster vir ontleding neem (biopsie) om vas te stel of enige verkleuring, merke of letsels kwaadaardig is.

10. Geestesgesondheid

Wanneer? Praat met jou dokter as jy enige van die volgende simptome vir meer as twee weke ervaar:

  • Beduidende verandering in eetlus of slaappatrone;
  • verlies aan belangstelling in voorheen genotvolle aktiwiteite;
  • voel hopeloos, waardeloos, rusteloos, geïrriteerd, hartseer of angstig;
  • verminderde energie, motivering;
  • onvanpaste skuldgevoelens;
  • sukkel om te konsentreer of te dink; en
  • as jy herhalende gedagtes van dood of selfmoord het, soek dadelik behandeling.

Hoekom? Gevoelens is die laaste ding wat in gesprekke om die braaivleisvuur opduik, tog word nagenoeg 6 miljoen mans jaarliks met depressie gediagnoseer. Suid-Afrika het die derde hoogste selfmoordkoers op die vasteland, en kom veral onder mans voor. Moenie jou geestesgesondheid ignoreer nie. Kom ons wees mans genoeg en praat ʼn slag oor ons gevoelens!

Bykomende bronne: News24, Brigham Health Hub, Healthline, WebMd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Oogtoetse kan jou ook wys of jy diabeties is. Ek het vir ‘n toets gegaan en toe sommer ‘n geselsie aangeknoop met die optometris. Vertel sy my my aartjies lyk gesond. Geen teken van verkalking verwant aan diabetes nie. Daar’s nou ‘n tip as jy ‘n paar Rand wil spaar en twee toetse in een wil doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.