Miljarde meer nodig om malaria uit te moker

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Daardie irriterende gezoem in jou ore as jy op ʼn soel somersaand aan die slaap probeer raak, is vir baie bloot ʼn steurnis, maar vir bykans 620 000 mense wêreldwyd was dié geluid die inleidingsnote van hul requiem in 2021.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Wêreldmalariaverslag 2022 was die 619 000 malariasterftes in 2021 effens laer as die 625 000 in 2020, maar steeds aansienlik hoër as die 568 000 mense wat in 2019 aan malaria dood is. Malariagevalle het tussen 2020 en 2021 bly styg, maar teen ʼn stadiger tempo as in 2019 en 2020. Malariagevalle het in 2021 sowat 247 miljoen bereik, vergeleke met 245 miljoen in 2020 en 232 miljoen in 2019.

“Ná ʼn merkbare toename in malariagevalle en -sterftes in die eerste jaar van die Covid-19-pandemie, het malaria-geaffekteerde lande hul pogings aansienlik verskerp,” het dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, gesê. “Al word ons deur talle uitdagings in die gesig gestaar, is daar rede vir hoop. Deur ons reaksie te verskerp, risiko’s te verstaan en versag, veerkragtigheid te bou en navorsing te versnel, is ʼn malariavrye toekoms beslis moontlik.”

Luidens die verslag is na raming 2 miljard malariagevalle en 11,7 miljoen malariasterftes tussen 2000 en 2021 afgeweer. Die meeste van die gevalle (82%) en sterftes (95%) wat voorkom is, was in die Afrika-streek, gevolg deur Suidoos-Asië (10% van gevalle en 3% van sterftes).

Die persentasie malariasterftes by kinders onder 5 jaar het van 87% in 2000 afgeneem tot 76% in 2015. Sedertdien was daar egter geen verandering nie. Wêreldwyd het die malariasterftesyfer (dit wil sê sterftes per 100 000 van die bevolking in endemiese gebiede) gehalveer van ongeveer 30% in 2000 tot 15% in 2015. In 2020 het die sterftesyfer weer toegeneem tot 15,1%, voordat dit effens afgeneem het tot 14,8% in 2021.

Afrika bly brandpunt

(Foto: iStock)

“Ondanks vordering, word Afrika steeds die swaarste deur hierdie dodelike siekte getref,” het dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streeksdirekteur vir Afrika, gesê. Altesaam 95% van malariagevalle en 96% van sterftes wêreldwyd kom in Afrika voor. “Nuwe hulpmiddels en finansiering is dringend nodig om ons te help om malaria uit te wis,” het Moeti gesê.

Totale finansiering vir malariabestryding het in 2021 nagenoeg $3,5 miljard beloop, maar  $7,3 miljard word wêreldwyd benodig om op koers te bly in die stryd om malariamuskiete se vlerke te knip. Die benodigde bedrag sal na verwagting styg tot $9,3 miljard in 2025 en $10,3 miljard teen 2030. ʼn Bykomende $0,85 miljard sal na raming jaarliks tussen 2021 en 2030 vir malarianavorsing en -ontwikkeling benodig word.

Benewens geld, is daar verskeie ander faktore wat die bestrydingstryd volgens die WGO belemmer. Dit sluit in ʼn afname in die doeltreffendheid van kernmalariabeheerinstrumente soos muskietnette wat met insekdoder behandel is. Bedreigings vir hierdie sleutelvoorkomingsinstrument sluit in insekdoderweerstandingheid; onvoldoende toegang; verlies aan nette as gevolg van herhaaldelike daaglikse gebruik en verwering wat vervanging oorskry; en die veranderende gedrag van muskiete, wat blykbaar vroeër in die dag begin byt – voordat mense gaan slaap – en buite skuil en sodoende blootstelling aan insekdoders ontduik.

Volgens vervaardigers se afleweringsdata vir 2004 tot 2021 is sowat 2,5 miljard muskietnette gelewer wat met insekdoder behandel is, waarvan 2,2 miljard (87%) aan Afrika suid van die Sahara verskaf is. In 2021 alleen is nagenoeg 220 miljoen van dié spesiale nette aan malaria-endemiese lande gelewer.

Ander risiko’s neem ook toe, insluitend parasietmutasies wat diagnostiese toetse beïnvloed, groeiende parasietweerstandigheid teen middels wat gebruik word om malaria te behandel, en in Afrika se geval, ʼn stedelik-aangepaste muskiet wat teen baie van die insekdoders wat vandag gebruik word, bestand is.

Die stadsmuskiet en strategieë

(Foto: iStock)

Volgens die WGO se verslag getiteld “Wêreldraamwerk vir die reaksie op malaria in stedelike gebiede” sal sowat 7 uit elke 10 mense teen 2050 in stede en stedelike omgewings woon. Terwyl verstedeliking die oordrag van malaria na verwagting sal verminder, kan dit tot ʼn malariasiektelas lei wat, veral onder stedelike armes, buite verhouding hoog is.

In Suid-Afrika word malaria hoofsaaklik langs die grensgebiede oorgedra. Sommige dele van Suid-Afrika se nege provinsies (Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal) is endemies vir malaria, en 10% van die bevolking (ongeveer 4,9 miljoen mense) loop die risiko om die siekte op te doen. Malaria-oordrag in Suid-Afrika is seisoenaal, sê die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid, met malariagevalle wat in Oktober begin toeneem, in Januarie en Februarie ʼn hoogtepunt bereik, en teen Mei begin afplat.

Wêreldmalariadag word sedert 2007 jaarliks op 25 April gevier. Ofskoon dit vroeër as Afrika-Malariadag bekend gestaan het, is dit in 2007 op die 60ste jaarvergadering van die Wêreldgesondheidsvergadering (die WGO se besluitnemingsliggaam) as wêreldgesondheidskrisis verklaar.

Met minstens 3,2 miljard van die wêreldbevolking wat die risiko loop om malaria op te doen, werk die WGO kliphard aan ʼn nuwe generasie malariabeheerinstrumente wat kan help om die siekte, wat veroorsaak word deur Pasmodium-parasiete wat meestal deur ʼn besmette Anopheles-wyfiemuskiet oorgedra word, hok te slaan en besmetting- en sterftesyfers teen 2030 met 90% te verminder.

Dit sluit in nette met ʼn langer leefstyl en met nuwe insekdoderkombinasies, doelgerigte lokaas wat muskiete lok, ruimtelike afweermiddels en genetiese manipulasie van muskiete. Nuwe diagnostiese toetse word ook ontwikkel, asook die volgende generasie lewensreddende medisyne om malariamiddelweerstandigheid die hoof te bied.

Later vanjaar sal miljoene kinders wat in hoë-risiko-gebiede woon begin baat vind by die wêreld se eerste malaria-entstof, RTS,S/AS01 (Mosquirix). Ander malaria-entstowwe is ook in die produkontwikkelingspyplyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gawie ·

Dit was onlangs in die nuus dat die eerste entstof teen malaria in Wes-Afrika geregistreer is en nou gebruik kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.