Outisme: Vroeë ingryping kan lewensgehalte verbeter

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Die lys name is verstommend: onder meer Albert Einstein, wetenskaplike en wiskundige; Michelangelo, beeldhouer, skilder en argitek; en die uitvinder Nikola Tesla. Dan is daar nog Da Vinci en Van Gogh, Edison en Newton, Mozart en Beethoven, Jung en Darwin, Bell én Ford.

Wat het al dié briljante mense in gemeen gehad?

Outismespektrumversteuring (Autism Spectrum Disorder of OSV), ’n ingewikkelde neurologiese toestand (of eerder groep toestande) wat ’n individu se sosiale, kommunikasie- en kognitiewe vermoëns beïnvloed. OSV is ’n spektrumversteuring, wat beteken dat dit (soos op ’n skaal gemeet) van persoon tot persoon verskil, en van lig tot ernstig kan wees.

Hoewel die ellelange lys bekendes dalk vandag geloof word vir hul innovering en ingrypende bydrae tot die wêreldgeskiedenis, het hulle nie jare gelede die luuksheid van ’n diagnose óf ’n samelewing se begrip gehad nie. Hulle is dikwels as volksvreemde randfigure deur hul tydgenote beskou, misverstaan, verstoot of sommer openlik “mal” genoem.

Die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Elon Musk, op een na die rykste persoon ter wêreld; die akteur Anthony Hopkins, wat in 2021 op 83-jarige ouderdom die oudste akteur geword het om ’n Oscar-toekenning vir sy rol in The Father te wen; en die Britse sangeres Susan Boyle is slegs ’n handjievol bekendes wat met Aspergersindroom, ’n vorm van OSV, leef.

April is Wêreld-outismemaand en op 2 April word die 16de jaarlikse Wêreld-outismedag gevier ter bevordering van begrip en aanvaarding van mense wat op die outismespektrum leef. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het 1 uit elke 100 kinders outisme, maar dit word dikwels eers op ’n baie latere ouderdom gediagnoseer. Nagenoeg 1% oftewel 75 miljoen van die wêreldbevolking leef met ASD.

Die outismegemeenskap in Suid-Afrika is dalk klein, maar word dikwels as “oorgesien” beskryf, al word daar geraam dat outisme sowat 2% van die Suid-Afrikaanse bevolking raak.

Oorsake

Spraakterapie kan kinders met outisme help. (Foto: iStock)

Hoewel die presiese oorsake van outisme nog onbekend is, dui navorsing op ’n kombinasie van genetiese en omgewingsfaktore. Sommige moontlike oorsake sluit in:

  • Genetika: Navorsing het bevind dat sekere gene met ’n verhoogde risiko vir OSV verbind kan word. Hierdie gene kan breinontwikkeling, kommunikasie tussen neurone, of ander aspekte van neurologiese funksionering beïnvloed.
  • Omgewingsfaktore: Blootstelling aan sekere omgewingsfaktore tydens swangerskap, soos infeksies, medikasie of gifstowwe, kan die risiko van outisme in die ontwikkelende fetus verhoog.
  • Breinstruktuur en -funksie: Studies het bevind dat individue met outisme verskille in die struktuur en funksie van hul brein kan hê, in vergelyking met “neurotipiese” individue. Hierdie verskille kan bydra tot die simptome van outisme.

Tekens en simptome

Outisme verskil van persoon tot persoon, maar algemene tekens en simptome sluit in:

  • Sosiale interaksie: Persone met outisme kan sukkel om verhoudings te vestig en in stand te hou, sosiale “tekens” te lees (watter gedrag op watter tydstip aanvaarbaar is of nie) of in wederkerige (tweerigting-) gesprekke betrokke te raak.
  • Kommunikasie-uitdagings: Mense met OSV kan met verbale en nieverbale kommunikasie sukkel, soos ’n vertraging in taalontwikkeling, ’n beperkte woordeskat hê, of sukkel om lyftaal en gesigsuitdrukkings te verstaan en korrek te gebruik.
  • Herhalende gedrag en beperkte belangstellings: Individue met outisme kan herhalende bewegings uitvoer (byvoorbeeld met hul hande vroetel of hul lyf wieg), obsessiewe roetines volg, of ’n intense fokus op spesifieke belangstellings hê.
  • Sensoriese sensitiwiteit: Persone op die outismespektrum kan verhoogde sensitiwiteit vir sensoriese stimuli soos lig, klank of aanraking ervaar. Selfs die materiaal waarvan klere gemaak is of die klere-etiket aan die binnekant van ’n kraag, kan hul ernstig raak.
  • Kognitiewe verskille: Die kognitiewe vermoë van mense met OSV wissel drasties van intellektuele gestremdheid tot gemiddelde of bogemiddelde intelligensie.

Behandelingsopsies

Persone op die outismespektrum kan verhoogde sensitiwiteit vir sensoriese stimuli soos lig, klank of aanraking ervaar. (Foto: iStock)

Daar is geen geneesmiddel vir outisme nie, maar verskeie intervensiestrategieë kan help om die simptome te bestuur, funksionering te verbeter en die persoon se algehele welstand sodanig te verbeter dat hy of sy in ’n werkplek kan aanpas. Sommige algemene behandelingsopsies sluit in:

  • Gedragsterapie: Gedragsterapie soos toegepaste gedragsanalise (Applied Behavior Analysis of ABA), fokus op die aanleer van noodsaaklike sosiale en kommunikasievaardighede en die vermindering van ongewenste gedrag.
  • Spraak- en taalterapie: Spraakterapeute help persone met OSV om hul kommunikasievaardighede te ontwikkel en te verbeter, insluitend verbale en nieverbale taalvermoëns en uitdrukking.
  • Arbeidsterapie: Arbeidsterapeute help individue met outisme veral om noodsaaklike dag-tot-dag vaardighede te verfyn, insluitend selfversorging, fyn motoriese vaardighede en sensoriese ervaring of belewenis.
  • Sosiale vaardigheidsopleiding: Sosiale vaardigheidsopleidingsprogramme het ten doel om individue met OSV te leer hoe om sosiale situasies te navigeer, sosiale tekens te “lees” of interpreteer en betekenisvolle verhoudings te bou.
  • Medikasie: Hoewel daar geen spesifieke medikasie is om OSV te behandel nie, kan sekere medikasie help om toestande of simptome wat hiermee verband hou, soos angs, depressie of hiperaktiwiteit, te bestuur.

Raadpleeg jou dokter

Babas ontwikkel teen hul eie tempo, en baie haal nie die presiese mylpale wat in sommige ouerskapboeke gevind word nie. Kinders met outismespektrumversteuring toon egter in sommige gevalle tekens van vertraagde ontwikkeling voor die ouderdom van 2 jaar.

As jy bekommerd is oor jou kind se ontwikkeling of jy vermoed dat jou kind dalk outismespektrumversteuring het, bespreek jou bekommernisse met jou dokter. Die simptome wat met die versteuring geassosieer word, kan ook met ander ontwikkelingsafwykings verbind word. Kyk uit vir die volgende:

  • Reageer nie met ’n glimlag of gelukkige uitdrukking teen 6 maande nie.
  • Boots nie op 9 maande klanke of gesigsuitdrukkings na nie.
  • Babbel of koer nie teen 12 maande nie.
  • Beduie nie – soos wys of waai – teen 14 maande nie.
  • Sê nie enkele woorde teen 16 maande nie.
  • Sê nie tweewoordfrases teen 24 maande nie.
  • Verloor taalvaardighede of sosiale vaardighede op enige ouderdom.

Kenners is dit eens dat vroeë intervensie en ’n pasgemaakte benadering tot terapie van kardinale belang is om die algehele welstand en lewensgehalte van persone met outisme én hul gesinne te verbeter.

Vyf feite

  • Die diagnose van outisme het sedert 2000 met 178% toegeneem.
  • Die land met die hoogste koers van gediagnoseerde outisme in die wêreld is Katar in die Verenigde Arabiese Emirate, en die land met die laagste koers is Frankryk.
  • Volgens die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) leef 1 uit 44 kinders in die VSA met outismespektrumversteuring.
  • Ongeveer 4 keer soveel seuns word met outisme gediagnoseer as meisies.
  • Sowat 40% van kinders met outisme kommunikeer slegs nieverbaal en 78% van kinders op die outismespektrum het ook met ander geestesgesondheidstoestande soos aandaggebrekhiperaktiwiteitsversteuring (AGHV of ADHD) te kampe.

Bykomende bronne: Autism Western Cape, Mediclinic, CDC, Autism Speaks en Mayo Clinic.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Is dit waar dat outisme syfers aansienlik gestyg het die laaste 50jaar?

Truth2bfree ·

My youngest sister received the DPT vaccine at 16 months.
Almost overnight she lost all her words, lost the ability to communicate, started with extreme ADHD behavior, became gluten and diary intolerant, screamed day and night, developed an autoimmune disorder and became touch, noise (sensory) sensitive…
Note that she was born a perfectly healthy baby who developed all her milestones right on time.
I remember this like yesterday. Nothing was ever again the same in our family.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.