Rooibos kan beskerming teen Alzheimer se siekte bied

Voorlopige navorsing dui daarop dat rooibos-ekstrak moontlik die risiko en aanvang van Alzheimer se siekte kan verminder.. (Foto: MyaTH/Unsplash)

In die afgelope paar dekades was daar wêreldwyd en in Suid-Afrika ʼn toename in gevalle van Alzheimer se siekte. Dit word aan ongesonde leefstylkeuses, wat dikwels tot chroniese siektes soos diabetes, hipertensie en kardiovaskulêre siektes lei, en ouderdom toegeskryf.

Hoewel daar nie op die oomblik ʼn geneesmiddel vir dié siekte is nie, dui voorlopige navorsing deur dr. Taskeen Fathima Docrat en prof. Ben Loos daarop dat rooibos-ekstrak moontlik die risiko en aanvang van neurodegeneratiewesiektes, soos Alzheimer se siekte, kan verminder.

Docrat, verbonde aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT), en Loos, navorser van die Universiteit Stellenbosch en professor in molekulêre fisiologie, bestudeer al vir etlike jare die effek van rooibos op breingesondheid.

Invloed van omgewing op genetika

Docrat se navorsing poog om ingewikkelde biologiese meganismes te ondersoek wat betrokke by breingesondheid is, met ʼn spesifieke fokus op epigenetika. Dit is die studie van hoe gedrag en die omgewing die manier waarop gene werk kan beïnvloed sonder om die onderliggende DNS-volgorde te verander.

Mitochondriale disfunksie is een van die aspekte wat Docrat in haar navorsing ondersoek in ʼn poging om te help om Alzheimer se siekte te bekamp.

“Mitochondria is die selkern wat verantwoordelik is vir die opwekking van energie in die vorm van adenosientrifosfaat (ATP). Soms werk dié selle nie so goed soos wat hulle moet nie weens ʼn ander siekte of toestand in die sel, soos Alzheimer se siekte, spierdistrofie en tipe 1-diabetes.

“Ons vergelyk in hierdie navorsing die uitwerking van gefermenteerde (rooi) en ongegiste (groen) Rooibos en dit behoort te help om die potensiële voordele van verskillende Rooibos-tipes volledig te verstaan.”

Die vergelyking van die effekte van verskillende Rooibos-tipes dra nie net by tot ʼn meer genuanseerde begrip van die potensiële impak op beskerming teen Alzheimer se siekte nie, maar bied ook insig in hoe variasies in die verwerkingsproses die bioaktiewe eienskappe kan beïnvloed.

“Hoewel ons steeds besig is met hierdie studies, lyk voorlopige bevindinge, wat daarop dui dat rooibos hierdie faktore positief kan beïnvloed, belowend.”

Sy sê die insigte wat hulle insamel, sal die ontwerp van toekomstige menslike kliniese proewe lei om rooibos se uitwerking in werklike scenario’s te ondersoek.

Veroudering grootste risiko vir Alzheimer se siekte

Loos het die afgelope 12 jaar uitgebreide navorsing gedoen oor Alzheimer se siekte en neuronale veroudering, kwaadaardige breingewasse en neuronale besering en trauma.

“Elke persoon se liggaam reageer anders op veroudering. Party mense se gesondheid verswak, gewoonlik weens swak leefstylkeuses, terwyl ander mense gesond oud word.

“Ons het begin kyk na die molekulêre kenmerke van veroudering, wat mitochondriale disfunksie, oksidatiewe skade en die ophoping van giftige proteïene insluit. Sodoende het ons op die potensiële gesondheidsvoordele van rooibos afgekom en was ons nuuskierig oor hoe dit hierdie merkers sou beïnvloed,” verduidelik Loos.

Sy navorsing het veral gefokus op outofagie, ʼn intrasellulêre degraderingsproses wat selle in staat stel om beskadigde komponente te herwin (om energie op te wek) en boustene te verskaf (om nuwe sellulêre strukture te skep).

“Die afname van outofagie, wat met veroudering gepaardgaan, is die afgelope paar jaar toenemend met die ontwikkeling van Alzheimer se siekte geassosieer. Die doel met hierdie navorsing is om te bepaal hoe die dood van selle vertraag kan word.”

In Loos se studie word die selle almal met ʼn gelyke hoeveelheid van óf drie óf ses koppies rooibos behandel sodat ʼn lae en hoë konsentrasie vergelyk kan word. “Ons gebruik gefermenteerde (rooi) en nie-gegiste (groen) rooibos, en tot dusver toon die resultate dat mitochondriale funksie in beide lae en hoë konsentrasies gefermenteerde en nie-gegiste rooibos-ekstrak verbeter het.”

Sodra Loos en sy span hulle huidige studie voltooi het, sal hulle fokus op hoe effektief Rooibos die proses van “rommelverwydering” in die neuron (outofagie) beïnvloed.

“So bevinding sal baie direkte bewyse wees van die effek van rooibos op selgesondheid en gesonde veroudering. In die toekoms wil ons ook graag die effek van Rooibos op die mitochondria en outofagie in menslike bloedselle meet om ’n selfs beter verplasingswaarde te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.