Sewe siektes wat mans óók raak

Maroela Media lys siektes wat mans ook raak, wat gewoonlik as vroue-siektes beskou word. (Foto: iStock)

Ons manne is geneig om vinnig verby die gesondheidsdele in ʼn tydskrif of aanlyn te blaai, want tensy iemand na aan jou met byvoorbeeld borskanker gediagnoseer is of aan osteoporose ly, is dit mos nie vir ons oë bedoel nie, of hoe? Dis hier waar ons egter die pot mis sit. Ofskoon vroue meer geneig is om met sekere siektes gediagnoseer te word of meer geneig is om bepaalde gesondheidsuitdagings die hoof te moet bied, is dit allermins tot die skoner geslag beperk.

  1. Borskanker

Volgens die Borsgesondheidstigting van Suid-Afrika het ons die hoogste voorkoms van manlike borskanker in die wêreld met tussen 1% en 3% van alle borskankergevalle in Suid-Afrika wat by mans gediagnoseer word. Tot 400 manlike borskankergevalle word jaarliks in Suid-Afrika aangemeld.

Hoewel baie meer vroue as mans met borskanker gediagnoseer word, omdat hulle meer borsweefsel het, toon navorsing dat die voorkoms van manlike borskanker aan die toeneem is. Mans let selde op die waarskuwingstekens, so die kanker word toegelaat om te ontwikkel. Daarom oorleef mans gewoonlik nie so lank soos vroue sodra ʼn diagnose uiteindelik gemaak word nie.

(Foto: iStock)

Borskanker is die algemeenste by mans tussen die ouderdom van 40 en 80 jaar. Ongeveer een uit vyf mans met borskanker (20%) het ʼn nabye familielid wat ook borskanker gehad het. Ander risikofaktore sluit in vetsug of oorgewig, lewersiekte, blootstelling aan bestraling, oormatige alkoholgebruik (wat die lewer se vermoë om bloedestrogeen te reguleer in die wiele ry) en die gebruik van sekere hormoonmedikasie.

  1. Osteoporose

Ons bene is lewende weefsel wat voortdurend groei en herstel. Van geboorte tot ongeveer 25 jaar bou ons meer been as wat ons verloor. Van ongeveer 25 tot 50 jaar oud breek ons bene af en herbou teen ongeveer dieselfde tempo. Ná ongeveer 50, begin ons bene stadig digtheid en sterkte verloor, wat hulle meer vatbaar maak vir frakture. Almal ervaar beenverlies soos hulle ouer word, maar nie almal sal osteoporose ontwikkel nie.

Een uit elke drie vroue het die risiko om osteoporose te ontwikkel, maar so ook een uit elke vyf mans. Vroue ervaar vinnige beenverlies ná menopouse, maar teen 65 tot 70 jaar neem mans se beenmassa teen dieselfde tempo as die Eva-geslag s’n af. Tot 25% van alle frakture wat by mense ouer as 50 voorkom, is by mans. Algemene plekke vir frakture sluit die heupe, pols en ruggraat in.

Nier- en skildklierprobleme, ʼn vitamien D-tekort, langdurige blootstelling aan steroïede en sekere kankerterapie verhoog jou risiko hiervoor. Mans toon nie noodwendig simptome nie, daarom is dit belangrik om jou geneesheer te vra om ʼn beendigtheidstoets te doen. Gevaartekens sluit in ʼn verlies aan hoogte (jy word “korter”), postuurverandering en pyn.

  1. Skildklierprobleme

Die skildklier is ʼn klein klier in die nek wat hormone produseer om ons metabolisme te beheer. As dit te veel produseer, lei dit tot hipertireose (oftewel ʼn ooraktiewe skildklier). Simptome sluit in moegheid, gewigsverlies, vergeetagtigheid, hartkloppings, verhoogde eetlus, en ʼn mens voel senuweeagtig of angstig.

As die skildklier nie genoeg hormone produseer nie, lei dit tot hipotireose (of ʼn onderaktiewe skildklier). Simptome sluit in gewigstoename, prikkelbaarheid, spierswakheid of -pyn, depressie, hardlywigheid, en ʼn slegte slaappatroon.

Vroue is vyf tot agt keer meer geneig om die een of ander vorm van skildkliersiekte te hê as mans, maar mans kan ook hierdeur geraak word. Simptome van skildklierprobleme by mans kan ook insluit haarverlies, ʼn laer seksdrang (asook erektiele disfunksie en ejakulasieprobleme), verlaagde testosteroonvlakke, ginekomastie (manlike borsvergroting) en ʼn verlies van spiermassa en/ of krag.

Interessant genoeg het mans met hipertireose ʼn groter risiko vir heupfrakture as vroue.

  1. Blaasontsteking

(Foto: iStock)

Blaasinfeksie of -ontsteking is baie meer algemeen by vroue, maar mans kan dit ook kry – veral mans met ʼn vergrote prostaat, nierstene of ʼn abnormale vernouing van die uretra. Behandeling behels antibiotika en is gewoonlik baie doeltreffend, maar mans moet bewus wees van die simptome.

Met ʼn blaasinfeksie dring bakterieë die blaas binne. Soms beland dié bakterieë in die niere of die buise wat urine van die niere na die blaas dreineer. Hierdie toestande staan bekend as urienweginfeksies (“urinary tract infections” of UTI’s) en kan boonste urienweginfeksie (naby die niere) of onderste urienweginfeksie (naby die blaas) wees.

Simptome sluit in gereelde urinering, urine ruik sleg, wasige of bloederige urine, ʼn sterk drang om te urineer, ʼn brandende of tintelende sensasie tydens urinering, en koors. Ander simptome kan insluit pyn in jou sye of rug wat nie verander wanneer jy van posisie verander nie, asook naarheid en braking.

  1. Lupus

Ongeveer 90% van diegene wat met lupus gediagnoseer word, is vroue, maar hierdie outo-immuunsiekte kom ook by mans voor. Simptome sluit in gewrigswelling en pyn; spierswakheid; moegheid; onverklaarbare koors; haarverlies; beenswelling; pofferige oë;

mondsere; geswelde kliere; en ʼn vlindervormige rooi uitslag oor die brug van die neus en wange.

Studies toon dat mans met lupus gewoonlik ook die volgende ervaar: ʼn lae bloedtelling; kardiovaskulêre (hart en bloedvate) komplikasies; onverklaarbare koors en gewigsverlies; oormaat antifosfolipied-teenliggaampies (wat die risiko van bloedklonte kan verhoog); niersiekte; en serositis (ontsteking van die sereuse membraan wat borspyn kan veroorsaak wanneer jy diep asemhaal).

Die siekte word op dieselfde manier in albei geslagte behandel. Jou dokter kan dit egter miskyk omdat dit skaars is by mans. As jy simptome ervaar, vra jou dokter om vir lupus te toets.

  1. Depressie

(Foto: iStock)

Vroue is twee keer meer geneig as mans om met depressie gediagnoseer te word, maar dit kan wees omdat hul simptome anders is. Vroue sal meer dikwels hartseer voel en huil, asook oor hul gevoelens praat, terwyl mans meer geneig is om woede, irritasie, frustrasie en moedeloosheid te toon.

Mans sal nie sommer by die dokter aanmeld nie en hulle eerder tot dwelms of alkohol wend, of hoërisikogedrag toon. Mans is ook meer geneig om selfmoord te pleeg (nie net daaroor dink nie, maar dit uitvoer). As gevolg van hierdie verskille, word talle manlike depressielyers nooit hiermee gediagnoseer nie. Sonder behandeling sal die depressie egter vererger.

  1. Eetversteurings

Eetversteurings is nie iets wat ʼn mens sommer voor mans se deur sal lê nie, tog ly al meer mans hieraan as gevolg van toenemende sosiale druk om goed te lyk. Hoewel mense met anoreksie of bulimie dikwels vroue of jong meisies is, toon navorsing dat tot een uit elke drie mans vandag hiermee worstel.

Eetversteurings by vroue word algemeen verbind met ʼn begeerte om maer te wees en gewigsverlies. Dieselfde stappe soos vas of braking geld nie noodwendig vir mans nie. Baie seuns en mans neem oormatige hoeveelhede aanvullings en steroïede, eet meer om “groter” te lyk, of oefen dat dit klap in die gimnasium om spiere te bou.

Die gevolge is ewe verwoestend vir albei geslagte. Mans is egter minder geneig om behandeling vir ʼn eetversteuring te soek, wat die risiko verhoog vir komplikasies soos hartprobleme, beenverlies, orgaanversaking en selfs die dood.

Bykomende bronne: Cansa.org; Healthline.com; Betterhealth.vic.gov.au; Verywellhealth.com; Mayoclinic.org; WebMd.com; Lupus.org.

(Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.