Veelvuldige sklerose kan tot ’n dekade wegstroop

Dra ‘n oranje lint vir bewusmaking van veelvoudige sklerose. (Foto: iStock)

Vir sommige begin dit stadig, as blote moegheid, ʼn gemoed wat wipplank ry. Ander word weer skielik met fisieke verswakking en kognitiewe klippe in die pad gekonfronteer. Mediese deurbrake en dekades se navorsing ten spyt, is die presiese oorsake en doeltreffende voorkoming van veelvuldige sklerose (MS) steeds in geheimenis gehul.

Wat ons wel weet, is dat die voorkoms van dié chroniese en dikwels verlammende neurologiese siekte oor die afgelope dekade met meer as 20% toegeneem het. Volgens die MS-Wêreldatlas raak-raak die syfer tans aan die 3 miljoen-kerf, met iemand wat elke vyf minute êrens ter wêreld met MS gediagnoseer word. Dit is sowat 300 mense per dag.

Internasionale Veelvuldige Sklerosemaand word jaarliks in Mei gevier om die kollig op dié siekte te plaas, wat die wêreldekonomie ’n geskatte $90 miljard (sowat R1,62 biljoen) per jaar kos en vyf tot tien jaar van MS-lyers se lewens kan stroop. MS raak veral mense in die Noordelike Halfrond (die VSA, Kanada, Europa en dele van Australië en Nieu-Seeland) tussen die ouderdom van 20 en 40 jaar, en vroue is tot drie keer meer geneig as mans om MS te ontwikkel.

MS-maand vind onder die vaandel van onder andere die Internasionale Veelvuldige Sklerosefederasie (MSIF) plaas en het ten doel om:

  • openbare bewustheid oor en begrip van die simptome en die impak op miljoene lewens te skep;
  • navorsingspogings aan te vuur om ’n kuur te vind, asook die verbetering van behandelingsopsies en die algehele lewenskwaliteit vir mense met MS;
  • ’n gevoel van eenheid en samehorigheid in die wêreldwye MS-gemeenskap te skep deur samewerking en inligting-uitruiling tussen verskillende lande, organisasies en individue; en
  • beleide en praktyke deurgevoer te kry wat toegang tot gesondheidsorg, ondersteuningsdienste en werksgeleenthede vir mense met MS verbeter.

Simptome en soorte

Thys die Bosveldklong het behandeling vir veelvuldige sklerose ontvang. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

MS word gekenmerk deur die immuunstelsel wat die beskermende laag (miëlien) rondom die senuweevesels in die sentrale senuweestelsel aanval en beskadig. Dit ontwrig die doeltreffende oordrag van elektriese seine, wat verskeie neurologiese simptome tot gevolg het. Soos die siekte vorder, kan senuweevesels self beskadig word, wat die normale senuweestelselfunksie verder in die wiele ry.

Simptome wissel van persoon tot persoon en kan van matig tot ernstig strek. Van die bekendste simptome sluit in:

  • Moegheid
  • Gevoelloosheid of ’n tinteling in die ledemate
  • Spierswakheid of styfheid
  • Duiseligheid, lompheid of “vertigo”
  • Visieprobleme, soos vae of dubbelvisie
  • Koördinasie- en balansprobleme
  • Slepende spraak
  • Gebrek aan blaas- en dermbeheer
  • Kognitiewe hindernisse, soos verstandelike afstomping, geheueverlies en konsentrasieprobleme.

Mense met MS is meer geneig om met geestesgesondheidstoestande soos angs en depressie te kampe te hê, terwyl ’n verhoogde risiko vir chroniese gesondheidstoestande soos longsiektes, hoë bloeddruk en hoë cholesterol ook bestaan.

Verskeie soorte MS word onderskei, elk met ’n ander siekteverloop en vordering:

  • Klinies-geïsoleerde sindroom (CIS) is ’n enkele neurlogiese episode wat ten minste 24 uur duur en gewoonlik voor ’n MS-diagnose plaasvind.
  • Herhalende Remitterende MS (RRMS) word gekenmerk deur episodes van akute simptome (terugvalle), gevolg deur periodes van herstel (remissie). Dit raak sowat 85% van MS-pasiënte.
  • Sekondêre Progressiewe MS (SPMS) volg gewoonlik in RRMS se spore, maar gaan uiteindelik oor in die progressiewe fase met verslegtende neurologiese funksie.
  • Primêre Progressiewe MS (PPMS) is die geleidelike verswakking van neurologiese funksie, sonder duidelike terugvalle of remissies.

Minder algemeen bekend is Tumefaktiewe MS en Pediatriese MS. Tumefaktiewe MS veroorsaak tumoragtige letsels, terwyl Pediatriese MS ’n seldsame vorm van dié siekte is wat kinders en adolessente raak. Daar word geraam dat tussen 3% en 5% van alle MS-gevalle by kinders onder 18 jaar voorkom.

Risikofaktore, diagnose en behandeling

Ofskoon die oorsake van MS steeds ’n raaisel is, glo geeskundiges dat dit, benewens ouderdom en geslag, deur ’n kombinasie van genetiese en omgewingsfaktore beïnvloed word. Dit sluit die volgende in:

  • Genetika: Deur ’n nabye familielid met MS te hê, verhoog jou risiko.
  • Geografie: MS kom meer voor in lande met ’n gematigde klimaat – hoe verder van die ewenaar, hoe groter die risiko.
  • Virale infeksies: Blootstelling aan sekere virusse soos Epstein-Barr-virus (EBV) word met ’n verhoogde risiko van MS verbind.
  • Leefstyl: Diegene wat rook en oorgewig is, en ’n lae vitamien D-inname as kind gehad het, het ’n hoër risiko om MS te ontwikkel in vergelyking met nierokers en mense wat gesond eet en gereeld oefen.

Die diagnose van MS is uitdagend omdat dit soortgelyke simptome as ander siektes kan toon. Daarom moet toestande soos lupus en Sjögren se siekte eers uitgeskakel word. Baie siektetoestande boots boonop MS-simptome na, soos ander outo-immuunsiektes, sekere soorte migraine, kanker, beroerte en vaskulitus.

Daar is boonop nie ’n enkele klinklare toets wat MS kan diagnoseer nie. Daarom word ’n diagnose op ’n kombinasie van metodes gegrond, insluitende die persoon se mediese geskiedenis en ’n neurologiese ondersoek; magnetiese resonansiebeelding (MRI) om letsels in die brein en rugmurg op te spoor; lumbale punksie om serebrospinale vloeistof vir bewyse van inflammasie te ontleed; en die meet van elektriese aktiwiteit in reaksie op sensoriese stimuli.

Behandeling is uiters gespesialiseerd, ingewikkeld en soms peperduur. Dit sluit die volgende in:

  • Siekte-modifiserende terapie (DMT): Dit behels medikasie (inspuitings, orale medikasie of infusies) wat ten doel het om die frekwensie en erns van terugvalle te verminder en die vordering van die siekte te vertraag.
  • Simptoombestuur: Spesifieke medikasie kan voorgeskryf word om spesifieke simptome soos moegheid, spierspastisiteit, neuropatiese pyn, blaasprobleme, dermdisfunksie, depressie en angs, en kognitiewe kwessies te behandel.
  • Rehabilitasie: Verskeie rehabilitasieterapieë kan help om mense met MS se mobiliteit, funksionering en algehele lewensgehalte te verbeter. Dit sluit in fisioterapie (om krag, balans, koördinasie en mobiliteit te verbeter), arbeidsterapie (om die vermoë te verbeter om daaglikse aktiwiteite uit te voer en onafhanklikheid te handhaaf), spraakterapie (om spraak- en slukprobleme aan te pak) en kognitiewe rehabilitasie (om geheue, aandag en probleemoplossingsvaardighede te verbeter).
  • Lewenstylaanpassings: ’n Gesonde leefstyl het ’n noemenswaardige positiewe uitwerking op MS-lyers se algehele welstand. Dit sluit in gereelde oefening (lae-impak aktiwiteite soos swem, stap of joga help om krag, balans en soepelheid te verbeter), ’n gebalanseerde dieet (’n dieet ryk aan vrugte, groente, maer proteïene en volgraan kan help om algemene gesondheid te verbeter en inflammasie te verminder), stresbestuur (tegnieke soos meditasie of diep asemhaling kan help om stres te verlig en emosionele welstand te bevorder) en voldoende rus (as jy slaap prioritiseer en gereeld blaaskanse neem, kan dit help om moegheid te bestuur).
  • Ondersteuning: Emosionele ondersteuning is baie noodsaaklik vir individue met MS. Om by ’n ondersteuningsgroep aan te sluit, berading of terapie te ontvang en gereeld met vriende en familie te skakel, kan help om uitdagings die hoof te bied.

Dit is van kardinale belang om vir gereelde opvolgondersoeke te gaan om die vordering van die toestand te monitor, die doeltreffendheid van behandeling te evalueer en aanpassings te maak. Deur die simptome doeltreffend te bestuur, kan mense met MS se lewensgehalte optimaal gehandhaaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Covid-entstowwe, ‘n kaliumtekort of sekere medikasie soos vir hipertensie kan dieselfde uitwerking hê. Toetse deur bekwame medici is nodig vir die regte diagnose. Swak mediese dienste en/of onvermoë tot lidmaatskap van ‘n mediese skema, perk goeie behandeling in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.