Vlierbessie: Van geneesmiddel tot nagereg

(Foto: iStock)

Die Afrikaanse naam vlierbessie (elderberry in Engels) is genoeg om enige taalliefhebber se dag op te vrolik. Dié plant se oorsprong kan tot 800 v.C. teruggespoor word en Hippokrates, die vader van medisyne, het daarna verwys as sy medisyneskatkis. Tog weet ons baie min van dié donkerpers tot swart bessie wat reeds eeue lank vir alles van genesing tot nagereg, en hoesstroop tot soet stroop gebruik word.

Daar is ongeveer 30 soorte vlierplante reg oor die wêreld. Die Europese spesie (European Black Elder, ook bekend as Sambucus Nigra) is die een wat meestal met gesondheid en genesing verband hou. Sommige spesies bevat sianied wat, indien dit gereeld oor ʼn lang tydperk ingeneem word, dodelik kan wees. As jy ʼn prikkelbare of sensitiewe maag het, hou ook liefs verby, want dié bessie kan naarheid, braking en diarree veroorsaak.

Die vlierplant kan tot nege meter hoog groei, en die bessies bestaan uit 80% water. Dit kom meestal in Europa, Noord-Amerika en Australië voor, maar word ook in Suid-Afrika verbou. Die verwerkte vorm – van stroop tot poeier, lekkers (gummies), tablette, kapsules en tee – is algemener as die bessies self. Vlierbessies word ook onder meer as voedselkleurstof, in lyfroom, konfyt en selfs wyn gebruik.

Gesondheid uit die grond uit

Die bessies en blomme van dié plant is propvol antioksidante, vitamiene en minerale – insluitend vitamien C, vitamien B6, yster, vitamien A, kalsium en kalium – wat die immuunstelsel versterk. Dit help om inflammasie te tem, spanning te verminder en hartgesondheid te verbeter.

Die vlierbessie is veral gewild om verkoue- en griepsimptome te verlig. Dit word ook gebruik in die behandeling van hardlywigheid, gewrigs- en spierpyn, infeksie, hoofpyn en koors, seer keel, hoes, nierprobleme, epilepsie en veltoestande.

(Foto: iStock)

Tien gesondheidsvoordele:

  • Vitamienhupstoot: ʼn Koppie vlierbessies verskaf meer as 50 mg vitamien C, wat die immuniteit versterk, siektes voorkom en spier- en weefselherstel aanvuur. Vitamien C help om oksidatiewe skade om te keer, bevorder sellulêre funksie en hou die vel soepel en gesond.
  • Kragtige antioksidant: Vlierbessiesap is hoog in antioksidante en fitonutriënte (voedingstowwe wat in plante voorkom). Dié flavonoïede het ʼn anti-inflammatoriese uitwerking en beskerm selle teen oksidatiewe skade wat kan lei tot kardiovaskulêre siektes, diabetes, kanker en kognitiewe siektes soos alzheimersiekte en demensie. Dit verlig gewrigspyn, werk osteoporose teen en bevorder beendigtheid. Die waarde van dié bessie vir mense met outo-immuunsiektes soos lupus is ook opgeteken.
  • Hartgesondheid: Die antioksidante en hoë veselinhoud bevorder hartgesondheid deur die hoeveelheid cholesterol en uriensuur in die bloed te reguleer. Dit bevorder die produksie van goeie cholesterol (hoëdigtheid-lipoproteïen of HDL) en die kalium help om aterosklerose en hoë bloeddruk te tem deur die bloedvate te laat ontspan.
  • Geestesgesondheid: Die inflammasiebestrydende eienskappe van vlierbessies help om spanning te verminder en bevorder dermgesondheid, wat albei ʼn positiewe uitwerking op geestesgesondheid het.
  • Vinniger gesond: Hoewel vlierbessies nie noodwendig sal keer dat jy siek word nie, is bevind dat dit die hersteltyd van respiratoriese siektes soos verkoue, griep en boonste lugweginfeksie kan verkort.
  • Respiratoriese gesondheid: Die antioksidante in vlierbessies is bekend daarvoor om longfunksie te ondersteun en die simptome van asma en chroniese obstruktiewe longsiekte (chronic obstructive lung disease of COPD) te verlig. ʼn Studie in die Journal of Dietary Supplements het bevind dat ʼn gorrelmengsel van vlierbessie, salie, suurlemoensap, heuning en asyn net die regte medisyne vir ʼn lastige hoesbui is.
  • Dermgesondheid: Vlierbessies se hoë veselinhoud bevorder dermgesondheid deur prebiotika, ʼn vorm van vesel, te verskaf wat probiotika, oftewel “goeie bakterieë”, binne die ingewande voed. ʼn Koppie vlierbessies bevat ongeveer 10 gram vesel, wat help om hardlywigheid en winderigheid hok te slaan.
  • Bloedsuikerbeheer: Die fitonutriënte en polifenole in vlierbessies help die liggaam om glukose doeltreffender te verwerk, wat dit ʼn nuttige hulpmiddel vir mense met diabetes maak om bloedsuikervlakke in toom te hou.
  • Allergie-teenvoeter: Hoewel sommige mense ʼn allergiese reaksie op vlierbessies kan hê, word dit dikwels saam met ander kruie deur tradisionele genesers as behandeling vir allergieë ingespan en om die lewer van gifstowwe te suiwer.
  • Natuurlike diuretikum: Mense wat probleme met urinering of waterretensie ondervind, besing die lof van die vlierbessie se natuurlike diuretiese eienskappe. Dit word dikwels as ʼn stroop, sap of tee gedrink om van oortollige vloeistof in die liggaam ontslae te raak.

(Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mellivora ·

Baie interessant maar hierdie plant is ‘n verklaarde indringer “NEMBA Category 1b.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.