Alopesie: Wanneer die liggaam homself aanval

Jada Pinkett Smith tydens die 94ste jaarlikse Oscars-geleentheid by die Dolby-teater in Los Angeles, VSA. (Foto: David Livingston/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die tonge is behoorlik los nadat Oscarwenner Will Smith die komediant Chris Rock tydens die regstreekse uitsending van dié glansryke rolprenttoekenningsgeleentheid ʼn taai klap gegee het. Dit kom nadat Rock spottenderwys na Smith se vrou, die aktrise Jada Pinkett Smith, se kort kapsel verwys het.

Rock het na Pinkett Smith verwys en gesê hy sien uit na die opvolgfliek van G.I. Jane. In die oorspronklike 1997-rolprent speel Demi Moore (met afgeskeerde hare soos dié van Pinkett Smith) die rol van luitenant Jordan O’Neill, die eerste vrou wat die geleentheid gekry het om ’n plek in die Amerikaanse Navy Seals te verdien.

Ofskoon Will Smith se dwarsklap (en gekruide verbale vermaning aan Rock) blitsvinnig by die lys van “onvergeetlike Oscar-oomblikke” gevoeg is, het dit ook opnuut die kollig geplaas op outo-immuunsiektes. Pinkett Smith ly sedert 2018 aan ’n seldsame outo-immuunsiekte genaamd alopesie, wat veroorsaak dat ’n mens óf plek-plek hare verloor, óf hande vol hare op ’n slag uitval totdat jy heeltemal bles is.

Wat is ’n outo-immuunsiekte?

Sowat 5% van die wêreldbevolking, oftewel nagenoeg 300 miljoen mense, ly aan een of meer van die meer as 80 outo-immuunsiektes wat al geïdentifiseer is. Net in die VSA alleen, is daar na raming sowat 50 miljoen mense wat hieraan ly.

Gestel die liggaam is ’n kasteel wat deur soldate bewaak word, kan ’n outo-immuunsiekte beskryf word as die einste soldate wat hul eie kasteel aanval. Hoewel navorsers steeds kopkrap oor die oorsaak hiervan, blyk dit duidelik dat vroue meer dikwels die teiken van só ’n Trojaanse aanval is. Dit is trouens een van die toptienoorsake van sterftes by vroue.

Die immuunstelsel is eintlik ’n wonderlike meganisme om ons teen indringerkieme soos virusse en bakterieë te staal en is normaalweg tot die tand gewapen om aanvalle op die liggaam se selle af te weer. Tog gebeur dit soms dat die immuunstelsel ’n deel van die liggaam, soos die gewrigte en vel, as vreemd of ’n indringer beskou en gesonde selle takel. In die geval van Pinkett Smith se onverklaarbare siekte word die haarfollikels geteiken.

Simptome en oorsake

Haarverlies is maar slegs een van die simptome van die meeste outo-immuunsiektes. (Foto:
Skitterphoto/Pexels)

Die simptome van die meeste outo-immuunsiektes stem ooreen en kan opvlam en dan weer verdwyn. Dit sluit in:

  • Moegheid;
  • spierpyn;
  • swelling en rooiheid;
  • koors;
  • gebrekkige konsentrasie;
  • gevoelloosheid of ’n tinteling in die hande en voete;
  • haarverlies; en
  • ’n veluitslag.

Outo-immuunsiektes is dikwels geneties (oorerflik), maar kan ook oornag te voorskyn kom. Ander moontlike oorsake sluit in:

  • Sommige medikasie. Raadpleeg jou dokter oor die newe-effekte van onder meer antibiotika asook bloeddrukmedikasie.
  • Rook
  • As jy reeds aan een outo-immuunsiekte ly, is jou kans groter om ook ’n ander te ontwikkel.
  • Blootstelling aan gifstowwe.
  • Vetsug
  • Infeksie

Toetse en behandeling

(Foto: iStock)

Dokters gebruik normaalweg ’n kombinasie van toetse en ’n fisieke ondersoek op grond van jou simptome om ’n diagnose te maak. ’n Antinukleêre teenliggaamtoets (ANA) is dikwels een van die eerste toetse wat gedoen word indien iemand simptome van ’n outo-immuunsiekte het.

’n Positiewe uitslag sal toon dat jy dalk een van hierdie siektes het, maar nie die spesifieke outo-immuunsiekte identifiseer nie. Hiervoor word spesiale toetse gedoen om spesifieke outo-teenliggaampies op te spoor wat in sekere outo-immuunsiektes geproduseer word.

Behandeling sluit medikasie in, maar kan nie outo-immuunsiektes genees nie. Dit kan wel die ooraktiewe immuunrespons beheer of onderdruk, en inflammasie, pyn en ander simptome onder beheer hou. Die waarde van ’n gebalanseerde dieet en gesonde leefstyl versterk die immuunstelsel en bly volgens kenners die beste verweer om jouself teen infeksies en siektes te staal.

Tien vername outo-immuunsiektes

  • Rumatoïede artritis. Die immuunstelsel produseer teenliggaampies wat aan die gewrigte heg. Immuunstelselselle val dan die gewrigte aan, wat ontsteking, swelling en pyn veroorsaak. As dit nie behandel word nie, veroorsaak rumatoïede artritis geleidelik permanente gewrigskade.
  • Lupus, ook bekend as die “stil siekte”, kan dodelik wees. Lupus tas die gewrigte, longe, bloedselle, senuwees en niere aan, en is dikwels moeilik om te diagnoseer omdat dit dieselfde simptome as talle ander siektes het. Die algemeenste simptome is erge moegheid, ʼn veluitslag, geswelde en pynlike gewrigte en ’n onverklaarbare koors.
  • Veelvuldige sklerose (MS). Die immuunstelsel val die senuweeselle aan en beskadig die miëlienskede (die beskermende laag wat die senuweeselle omring). Skade aan die miëlienskede beïnvloed die stuur van boodskappe tussen jou brein en liggaam, en simptome sluit pyn, blindheid, swakheid, gebrekkige koördinasie en spierspasmas in.
  • Tipe 1-diabetes kom voor wanneer die immuunstelsel insulienproduserende selle in die pankreas aanval en vernietig. Die pankreas vervaardig insulien, wat help om bloedsuikervlakke te reguleer. Hoë bloedsuikervlakke kan bloedvate asook jou hart, niere, oë en senuwees aantas.
  • Met Guillain-Barré-sindroom val die immuunstelsel die senuwees aan wat spiere in die bene, arms en bolyf beheer. Dit het swakheid tot gevolg wat soms baie ernstig kan wees. Om die bloed met ’n prosedure genaamd plasmaferese te filtreer, is die hoofbehandeling vir Guillain-Barré-sindroom.
  • Psoriase kom voor wanneer die immuunstelsel bloedselle genaamd T-selle stimuleer en velselle te vinnig vermeerder. Dit veroorsaak silweragtige, skubberige lae op die vel.
  • Graves se siekte. Die immuunstelsel produseer teenliggaampies wat die skildklier stimuleer om oortollige hoeveelhede tiroïedhormoon in die bloed vry te stel (hipertireose). Simptome van Graves se siekte kan bultende oë asook gewigsverlies, senuweeagtigheid, prikkelbaarheid, vinnige hartklop, swakheid en bros hare insluit.
  • Met inflammatoriese dermsiekte (IBD) val die immuunstelsel die voering van die ingewande aan, wat diarree, rektale bloeding, maagpyn, koors en gewigsverlies kan veroorsaak. Ulseratiewe kolitis en Crohn se siekte is die twee hoofvorme van IBD.
  • Addison se siekte is ’n seldsame siekte waarin die byniere (wat bo-op die niere sit) nie genoeg van die hormone kortisol en aldosteroon vervaardig nie. Hormone is chemikalieë wat die funksie van weefsels of organe beheer. Simptome hiervan sluit in swakheid, moegheid, gewisverlies en lae bloedsuiker.
  • Pernisieuse anemie is ’n soort bloedarmoede (wanneer daar minder rooibloedselle of hemoglobien in die liggaam is) as gevolg van die liggaam se onvermoë om vitamien B12 uit die spysverteringskanaal te absorbeer. Dit verminder die suurstof in die bloed en veroorsaak moegheid en kortasem, en die vitamien B12-tekort kan die senuweestelsel beskadig.

Bykomende bronne: cnn.com; scientificamerican.com; webmd.com; healtline.com; my.clevelandclinic.com; medicineplus.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Catharina Magaretha ·

Ek ly aan n seldsame auto immune siekte naamlik primary sclerosing cholangitis.
Daarmee saam het ek ook auto immune hepatitis en Hashimotos.
N mens lewe met geweldige pyn saam en ander simptome kan verwoestend wees.
Al my simpatie aan ander in dieselfde bootjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.