Hou die hele gesin só gesond

(Foto: Fotorech/ Pixabay)

Om die hart aan’t klop te hou, die endorfiene aan’t vloei te kry en die ekstra paar kilo’s in hul spore te stuit, is ʼn gesonde leefstyl ʼn noodsaaklikheid.

Claire Bowen, Shower to Shower se handelsmerkbestuurder, het hierdie vyf wenke saamgestel sodat gesinne sonder te veel bekommernisse hul lewenstyl aan die gesonde kant kan hou.

  1. Die klein hand volg die groot hand

Wanneer dit begin lyk of die kinders in die huis net so ʼn bietjie té gemaklik op die bank voor die televisie raak, is die kanse goed dat dit die grootmense in die huis is wie se voorbeeld gevolg word.

“Ouers kan die pas in die huis bepaal deur hulself toe te wy aan sekere aktiwiteite, kinders sal dan in daardie voetspore volg.”

  1. Pen oefening in die dagboek neer

Deur oefening ʼn speletjie te maak en dit sommer in die kalender neer te skryf, sal die kinders met opgewondenheid aan die beplande gesinspret deelneem. Dis ook belangrik om die oefening nie te ernstig op te neem nie.

“Onthou, ʼn vinnige sokkerwedstryd in die tuin tel ook as oefening en sal die gesin sonder te veel moeite gesond hou.”

  1. Raak aan die gesels

Vervang daardie Saterdagbraai met ʼn heerlike stap- of fietsroete. Nooi julle vriende om te kom deel in die pret, sodoende word ʼn gesonde leefstyl beoefen en almal se sosiale lewe opgekikker.

“Stop dalk langs die pad vir koffie en beskuit om die kuier nóg lekkerder te maak.”

  1. Vervang geskenke met ervarings

Speelgoed kan tog so maklik ophoop in die huis. Waarom vervang julle nie eerder tradisionele verjaarsdaggeskenke met ervarings nie?

“In plaas van nóg speelgoed, gaan doen iets in die natuur, iets wat die hart en adrenalien aan die pomp kry.”

  1. Woeker met ʼn kompetisie

Stel uitdagings op sodat diegene wat deel vorm van die huishouding ʼn bietjie teen mekaar kan deelneem.

Jy kan sodoende gees in die huis aanwakker én die lywe aan die beweeg kry.

“Beloon gesinslede wat dit regkry om die uitdagings te voltooi.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.