My kind is siek, wat nou?

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Vir miljoene ouers is hul kinders se langtermyn- mediese toestande ʼn werklikheid wat hulle daagliks in die gesig staar en die las kan soms swaar raak om te dra.

Dr. Terri Henderson, ʼn kindersielkundige wat praktiseer by die Netcare Akeso Kenilworth, sê dat kennis en kommunikasie belangrike faktore is wanneer dit by ʼn gesin met ʼn siek kind se geestesgesondheid kom.

“As ouer is ons grootste bekommernis die gesondheid en veiligheid van ons kinders. Om te verneem dat hierdie kosbare lewe in gevaar is, kan ʼn reeks emosies na vore bring wat normaal is onder ontstellende omstandighede.”

Verwag ʼn warboel van emosies

“Die primêre, mees dominante emosie is skok. Daar gaan ook verwarring wees en jy gaan probeer uitpluis hoekom so iets met jou kind moet gebeur. Natuurlik sal jy ook woede ervaar, aangesien jou verwagtinge vir jou gesin se toekoms nou op sy kop gekeer is,” verduidelik Henderson.

“Uiteindelik sal daar effense aanvaarding wees soos wat die gesin probeer aanpas, hoewel voortdurende ontsteltenis te verwagte is. Die diagnose kan ook lei tot drastiese veranderinge in die gesinslewe, wat byvoorbeeld kan insluit dat een ouer by die kind in die hospitaal moet bly terwyl hy of sy behandeling ontvang, of tuis na die kind moet omsien. Moeilike mediese besluite sal geneem moet word en die geldelike implikasies van die situasie kan ʼn groot bykomende stresfaktor wees.”

Bly ingelig

Die erns van dié emosionele ervaring sal afhang van kommunikasie, ondersteuning en verduidelikings wat deur die mediese span gebied word.

“Kennis is mag. Dit is belangrik om die volle omvang van jou kind se toestand, behandelingsopsies en prognose te verstaan en jy het die reg om jou kind se mediese span vir inligting te vra.”

Dimakatso Motiang-Ngoveni, ʼn kliniese sielkundige by Netcare Akeso Arcadia, voeg by dat ouers en voogde ʼn rol speel in die behandeling van die kind, aangesien hulle teenwoordigheid en ondersteuning belangrik is vir die kind se welstand.

“Dit is belangrik vir ouers om seker te maak dat daar kommunikasie is met die mediese span wanneer prosedures plaasvind en dat die kind ook toegelaat word om vrae te vra.”

Praat met jou kind en sy sibbes

“Wanneer jy die situasie met jou kind en sy sibbes bespreek, is daar talle aspekte wat oorweeg moet word en wat nie voor die hand liggend is nie. Dit is algemeen vir kinders om in hierdie situasies woede te ervaar en ʼn wrok teenoor hulself of ander te koester. Hulle kan ook die vrees koester dat die siektetoestand veroorsaak is deur iets wat hulle gedoen of gesê het. Daarom is dit belangrik om kinders van die begin af gerus te stel dat hulle nie daarvoor verantwoordelik is nie,” sê Motiang-Ngoveni.

Henderson sê dat kinders se reaksie op ʼn situasie sal afhang van wat aan hulle vertel word en hoe dit aan hulle oorgedra word. ʼn Eenvoudige, ouderdomsgepaste verduideliking word in dié stadium verlang.

“Sonder enige vorm van kommunikasie of inligting sal hulle waarskynlik oorweldig en bang voel en wonder of hulle gaan herstel, ooit huis toe kan gaan of met hulle gesinne herenig sal wees. Hulle kan bang voel vir die mediese prosedures en om hospitaal toe te gaan, en kan stil en teruggetrokke raak. Hulle kan ook eensaam voel.

“As die kinders sibbes het, sal hulle ook ontstellende emosies ervaar en wonder of hulle ook siek kan word en of hulle broer of suster ooit weer huis toe sal kom van die hospitaal af. Hulle kan ook praktiese bekommernisse hê, soos ‘wie gaan my middagetes voorberei’.”

Handhaaf ʼn vlak van normaliteit

“Om dinge so normaal moontlik te hou, bied stabiliteit vir die gesin. As ʼn kind met ʼn ernstige mediese toestand op ʼn realistiese wyse kan deelneem aan gesinsuitstappies en geleenthede, dan behoort die hele gesin saam te wees met sulke geleenthede. Om die gesin in verskeie eenhede op te breek, is nie ʼn wenresep nie en die kind sal voel dat hy of sy die rede is vir die skeiding,” sê Henderson.

Dit is oukei om nie oukei te wees nie

“Die meeste ouers in hierdie situasie sal skuldig of skaam voel en wonder wat hulle anders kon doen om hulle kind se mediese toestand, of selfs beserings wat deur byvoorbeeld ʼn fiets- of motorongeluk veroorsaak is, te voorkom. Terapie speel ʼn belangrike rol in die aanpak van hierdie kwessies en kan ouers sover kry om oop te maak en deur hulle emosies te werk.”

Ondersteuningstelsels

“Om by ʼn ondersteuningsgroep vir die kind se spesifieke toestand aan te sluit, kan uiters voordelig wees, aangesien dit ouers en voogde help om verbind te voel met ander wat weet waardeur hulle gaan. Die mediese fasiliteit kan ook bykomende ondersteuning deur ʼn maatskaplike werker verskaf, waarvan die gesin beslis gebruik behoort te maak,” sê Henderson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.