Verbruikersake: Help jou kind so om die nes finansieel te verlaat

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Dit is die begin van die jaar en die groot dag het aangebreek: jou kind verlaat die huis om in die koshuis of ʼn eie woonplek te gaan bly. Hoe gaan jou kind self regkom sonder jou wat altyd sorg dat daar alles in die huis is wat ʼn mens kan nodig kry en natuurlik jou oop beursie? Ina Opperman het gaan hoor wat ʼn kenner sê oor hoe jy jou kind kan voorberei vir die grootmenswêreld.

Jy sal altyd bekommerd wees wanneer jou kind die huis verlaat, maar as jy weet dat dit finansieel goed gaan met hom kan dit ʼn bietjie makliker wees om te laat gaan. Finansiële paraatheid is ʼn belangrike aspek om jou kind te help om gereed te wees vir die volwasse lewe.

René Roux, hoofbestuurder vir kliënt- en tussengangerbetrokkenheid by Sanlam, het onlangs gesien hoe haar seun die nes verlaat om met sy studies te begin en sy vertel meer oor die kritieke finansiële gesprekke en lesse wat hulle gedeel het voordat hul saam hierdie nuwe hoofstuk aanpak.

“Dit was die hoogtepunt van baie gesprekke oor die jare. As gesin het ons altyd openlik oor geld gepraat. Ons wil hê ons kinders moet die waarde van geld verstaan en hoewel dit belangrik is, is dit nie alles nie.

“Voordat my seun uitgetrek het, het ons oop gesprekke gehad oor ʼn paar kernkonsepte wat nou vir hom belangrik is, insluitend hoe om slim kruideniersware te koop en die meeste voordeel te trek uit lojaliteitsprogramme.”

Praat hieroor met jou kind

Hier is ʼn paar van die gesprekke wat Roux voorstel om jongmense te help as hulle die nes verlaat, of hul nou permanent uittrek of net ʼn oefenlopie doen:

  • Praat oor geld: Geldpraatjies is dikwels taboe, maar Roux reken ʼn mens moet van jongs af openlik met jou kinders praat oor geld. “Kinders doen wat hulle sien. Hulle moet verstaan geld kom nie van ʼn masjien af nie. Hulle moet weet dit is die produk van harde werk en dissipline. Ek was vroeg reeds oop oor ons huishoudelike begroting, spaargeld en uitgawes. Ek sal praktiese voorbeelde gee, soos ‘as ek R100 het en ek moet betaal vir die huis, skoolgeld, kos, speelgoed en geld hou vir ʼn reënerige dag, is dit wat ons oor het’. Op dié manier kon my kinders verstaan hoekom ons nie altyd dadelik iets kon bekostig wat hulle wou hê nie.”
  • Sluit sterk spaargewoontes in: Roux het bankrekeninge vir haar seuns oopgemaak toe hulle ses geword het. Sy sou hulle hul rekeninge wys en hulle help om hul inkomste (sakgeld), spaargeld (byvoorbeeld geskenke van grootouers) en uitgawes in ʼn klein spaarboekie te balanseer. “Ek wou hê hulle moes self sien dat hul nie meer kon spandeer as wat hulle gehad het nie. As hulle iets spesifieks wou hê, moes hulle elke maand daarvoor spaar.” Later was Roux ook eerlik oor haar eie opofferings vir haar seuns. “Ek sou hulle wys hoe ek elke maand geld opsy sit om voorsiening te maak vir hul studies, sodat hulle die belangrikheid daarvan sal verstaan om te spaar vir die doelwitte waarvoor ons saamwerk.”
  • Verduidelik die agtste wonder van die wêreld: Roux het ook vroeg reeds die idee van saamgestelde rente beklemtoon vir haar seuns. “Ek het vir hulle probeer verduidelik wat dit beteken, maar om dit meer prakties te maak, het ek elke maand vir hulle my spaarbalans en die sprong in renteverdienste gewys om te illustreer hoe jy mettertyd rente op rente verdien. Om die fisiese voorbeeld te sien, het hulle die konsep laat begryp.”
  • Wie betaal vir wat? Dit is belangrik om finansiële rolle en verantwoordelikhede uit te klaar sodra hulle die nes verlaat. Vir watter uitgawes is hulle verantwoordelik? Sal jy aanhou om sekere uitgawes te dek en vir hoe lank? Jy kan byvoorbeeld instem om jou kind op die gesin se mediese fonds of motorversekering te hou totdat hulle ʼn sekere ouderdom bereik.
  • Dink holisties: Die voor die hand liggende uitgawes wanneer jy die nes verlaat kan huur en kruideniersware wees, maar dit is ook belangrik om dinge holisties in ag te neem en koste verbonde aan elektrisiteit, huishoudelike skoonmaakprodukte, wasgoedbenodigdhede, petrol, vermaak, skryfbehoeftes en meer in ag te neem. Om vir al hierdie aspekte te begroot is van kritieke belang, want sonder om tred te hou en verstandig te wees, is dit maklik om meer te spandeer as wat jy het en aan die einde van die maand met te veel “maand” gelaat te word. Roux het haar seun gehelp om ʼn lys van uitgawes op te stel met die oog hierop. Daarbenewens het sy hom gelei om verskeie opsies en die impak daarvan op sy sak te evalueer, soos die koste van petrol om universiteit toe te ry teenoor die huur van ʼn woonstel baie nader aan die kampus. In ons lewens moet ons voortdurend sulke besluite neem.

Leer jou kind oor besteding, inkopies en belegging

  • Wys die kwitansies: Roux het dit aan die begin ʼn maandelikse praktyk gemaak om saam met haar seun sy kwitansies en bankstate na te gaan om te sien waarop hy sy geld spandeer het en waarom. “Verlede maand het my jonger seun byvoorbeeld R20 vir roomys onttrek. Ek het verduidelik dat die gebruik van sy kaart beter sou gewees het om onttrekkingsfooie te vermy. Dit is belangrik om hierdie klein maniere te soek om te spaar en om al die betrokke fooie te verstaan.”
  • Winkel-slim: ʼn Groot les vir Roux se seun was die oorweldigende taak om self inkopies te doen. “Ek het hom probeer leer om klein besparings te vind deur langtermyn te dink, soos om nie-bederfbare of bevrore kos in grootmaat te koop en maaltydvoorbereiding vir die week te doen asook te spaar deur lojaliteitsprogramme te gebruik.”
  • Belê in toekomstige sukses: Roux se seun het ʼn oorbruggingsjaar geneem. Gedurende hierdie tyd het hy die geld wat hy as hokkieafrigter verdien het gebruik om ʼn kort kursus oor aanlyn handel te doen. Dit het hom aangevuur en hom uiteindelik rigting gegee vir sy toekomstige studies. “Ek was trots op hom dat hy kennis geneem het van ʼn kernles wat ons as ouers hom probeer leer het: om jou geld te gebruik om te groei en in jou toekomstige self te belê.”
  • Praat van skuld: As ʼn nasie sukkel Suid-Afrikaners met skuld. Roux stel voor dat jy vroegtydig die konsep van krediet verduidelik en openlik oor ‘goeie en slegte’ skuld praat, met praktiese voorbeelde. “Noudat my seun ouer is, gesels ons ook met hom oor die bou van sy kredietgeskiedenis en krediettelling, sodat hy verstaan hoe dit werk.”
  • Bou voort op die basiese beginsels: Hoe vroeër ʼn jongmens vir die toekoms kan begin spaar, hoe beter. ʼn Kind is nooit te jonk om te begin nie. Dit is ook belangrik om mediese fonds, gapingsdekking en inkomstebeskerming te oorweeg. Dit is van kardinale belang om hierdie opsies te bespreek.

“Elke dag bied ʼn nuwe geleentheid om positiewe finansiële gewoontes te kweek. Neem deel aan moeilike gesprekke en neem die eerste stappe om jou jongmens gereed te maak vir ʼn leeftyd van finansiële vertroue,” sê Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christian J M ·

Jip en sluit dan sommer ‘n woonstel, voertuig en graad in !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.