Verbruikersake: Hoe en waar om in jou kind se opvoeding te belê

Kenners sê sodra ’n kind kan tel, is hy of sy gereed om die geheime van geld te begin ontdek. (Foto: iStock)

Ouers sukkel reeds in moeilike ekonomiese omstandighede, en om vir ʼn kind se opvoeding te betaal maak hierdie las nog swaarder. Daarom het dit al hoe belangriker geword om in jou kind se opvoeding te belê in die inflasionêre omgewing waarin ons leef en nie bloot skool- of universiteitsgeld uit jou salaris te probeer finansier nie. Ina Opperman verduidelik hoe en waarom jy in jou kind se opvoeding moet belê.

Alles word duurder en om ʼn kind groot te maak is baie duur. Dit is nou die tyd vir strategiese finansiële beplanning en om sleutelfaktore te oorweeg wanneer jy die stygende koste van onderwys hanteer.

Ouers kan min finansiële verligting in 2024 verwag, met inligting wat daarop dui dat skoolgeld vir Suid-Afrikaanse skole weer meer as die algemene inflasiekoers gaan styg, wat op 5,1% vir Desember 2023 gestaan het, sê Shaheed Mohamed, hoof van groepspaargeld en beleggings by Allan Gray.

As jy ʼn kind in ʼn staatskool of private skool het, moet jy jouself regmaak vir skoolgeldverhogings van tussen 6% en 10%. Dit is nie ongewoon nie, met ʼn ekonomiese bulletin wat deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (Sarb) gepubliseer is wat daarop gewys het dat skoolgeldverhogings in Suid-Afrika sedert 2012, afgesien van 2021, gemiddeld ongeveer 2,6% bo inflasie was.

Mohamed sê in ʼn omgewing van reeds hoë verbruikersinflasie is dit nog ʼn slag vir vuisvoos verbruikers. “Baie van ons maak net staat op ons salarisse om vir ons kinders se opvoeding te betaal. Ons absorbeer die koste van maand tot maand en pas ons begrotings aan om die steeds stygende uitgawes te bekostig. Maar die probleem hiermee is dat die koste van onderwys gewoonlik teen ʼn hoër koers groei as die gemiddelde salaris en inflasie oor die algemeen.”

Die gevolge van stygende onderwyskoste

Met verloop van tyd beteken hierdie verskil effektief dat ʼn groter deel van jou salaris opsy gesit sal moet word vir jou kinders se opvoeding, sê hy.

Baie gesinne wat bekommerd is oor die gehalte van onderwys in die land, belê aktief in die buiteland om uiteindelik toegang tot die beste internasionale onderwysgeleenthede te kry, volgens nuusberigte wat statistieke aanhaal van verskeie plaaslike beleggingsbestuurders wat buitelandse portefeuljes aanbied.

“As jy dit oorweeg om jou kinders oorsee te stuur om te studeer, is dit ʼn goeie idee om ʼn gedeelte van jou portefeulje in die buiteland te belê. Dit sal waarskynlik minder kos as jy in dieselfde geldeenheid spaar en bestee,” sê Mohamed.

Volgens oorgrensspesialis Sable International studeer gemiddeld 11 000 Suid-Afrikaners jaarliks oorsee, met verslae wat aandui dat universiteitsgeld in die VSA tussen US$32 000 en US$60 000 (sowat R587 800 tot R1,1 miljoen) per jaar beloop.

Om in die VK te studeer kan enigiets tussen US$14 100 en US$38 000 (sowat R259 000 en R698 000) per jaar kos. Hierdie koste sluit nie die gemiddelde lewenskoste in nie.

Daarom, sê Mohamed, moet jy hierdie vyf faktore in gedagte hou wanneer jy vir jou kind se opvoeding belê:

Begin spaar wanneer jou kinders gebore word

ʼn Bietjie help baie as jy vroeg genoeg begin, sê Mohamed. “Hoewel jy dalk vandag jou kind se laerskoolgeld kan bekostig, beteken dit nie jy sal in dieselfde posisie wees wanneer hulle hoërskool of universiteit toe gaan nie.”

Die goeie nuus is dat as jy belê om jou kind se opvoeding te finansier, is selfs ʼn klein bedrag per maand ʼn goeie idee omdat die groei op jou belegging die toekomstige impak van onderwyskoste kan verlaag.

Allan Gray se navorsing dui daarop dat jy die uitwerking van hoërskool- en universiteitsopleidingskoste met meer as 45% kan verminder as jy belê wanneer jou kind gebore word en die geld eers onttrek wanneer hulle met hoërskool begin, soos die tabel hieronder toon.

BeleggingsprestasieKind se ouderdom aan die begin van belegging
036
Impak van belegging op onderwyskoste in vergelyking met die betaling van alle fooie vanaf salaris13.7%-47%-24%-11%
Aannames:

·       5% inflasie en 10% onderwysinflasie

·       Nominale opbrengs van 13,7% in die Allan Gray Balanced Fund (driejaaropbrengs)

·       Gebaseer op ʼn maandelikse bydrae van R2 100 per maand

·       Sluit koste van onderwys vir 2023 van voorskoolse tot tersiêre onderrig in

Bron: Allan Gray navorsing

Die navorsing dui daarop dat die uitstel van ʼn belegging vir jou kind se opvoeding tot wanneer jou kind ses is, byvoorbeeld die koste van onderwys met net 11% verlaag. Dit wys dat hoe vroeër jy begin belê, hoe groter is die impak op die onderwyskoste.

Gebruik tyd omdat belegging ʼn langtermyn-reis is

Tyd is ʼn noodsaaklike bestanddeel vir suksesvolle belegging. Mohamed sê hoe gouer jy begin, hoe meer tyd het jy om bydraes te maak en voordeel te trek uit die mag van rente-op-rente: om vandag rente te verdien op die rente wat jy gister verdien het.

Ouers kan kies uit verskillende beleggingsrekeninge en -beleide om vir jou kind se opvoeding te spaar, insluitend onderwyspolisse, effektetrusts, belastingvrye beleggingsrekeninge en skenkings.

“Die uitdaging vir baie ouers is om die eerste stap te neem. Om so gou as moontlik geld opsy te sit, sal die vlak van finansiële buigsaamheid wat jy in die toekoms sal geniet, verleng.”

Mik na reële opbrengste om inflasie te klop

Onderwysinflasie is gewoonlik hoër as wesensinflasie en dit beteken dat jou onderwysbeleggings ʼn reële (bo-inflasie) opbrengs moet lewer.

Om dit te bereik, sê Mohamed, sal jy blootstelling nodig hê aan hoër-risiko-bates soos aandele, wat histories sterker opbrengste lewer as ander bateklasse. “Hoeveel risiko jy kan neem, sal afhang van jou tydraamwerk en risiko-aptyt.”

Vermy krediet as jy kan

Mohamed sê die negatiewe implikasie van “betaal-soos-jy-gaan”-onderwys is dat jy geen kapitaal vir jou kind se toekomstige studies gespaar sal hê nie. Dit beteken dat jy gedwing kan word om aansoek te doen vir krediet, wat buitensporig duur kan wees as jy ʼn onversekerde persoonlike lening gebruik. Die gevolge van rente-op-rente, wat vir jou werk wanneer jy belê, werk teen jou as jy skuld opgehoop het.

Oorweeg die impak van die wisselkoers

As jy in die buiteland belê om jou kind se internasionale opvoeding te finansier, moet jy die impak van die geldeenheid in ag neem.

As jy van plan is om vir onderrig- en lewenskoste in buitelandse valuta te betaal, is dit nuttig om te verstaan watter diepgaande uitwerking wisselkoerse op die opbrengste van internasionale beleggings en jou algehele begroting het, sê Mohamed.

“As jy in dollars betaal en die rand oornag met 10% teenoor die dollar daal, sal jou rekening 10% meer in rand kos. ʼn Goed gediversifiseerde buitelandse beleggingsportefeulje kan help om jou teen hierdie skommelinge te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.