Karoo-kultuur in die halfwoestyn: Victoria-Wes

(Foto verskaf)

Hierdie is deel 5 van ʼn reisreeks oor die halfwoestyne van ons land deur Carina Stander. Lees deel 1, deel 2, deel 3 en deel 4. – Red

Middelwinter, laatmiddag, amber-lig. Op pad terug van die Kalahari ry ek en my gesin ʼn knus Karoo-dorpie binne. Eeue voordat die mens sy voet in die Karoo gesit het, was dit ʼn moeras wat krioel het van wildlewe. Vandag lê die vlaktes oop en wyd met growwe berge, soutpanne en geurige bossies. Hier is duisende plantspesies in die Nama-Karoo-bioom, ook vetplantjies wat jy nêrens anders op aarde kan vind nie.

Victoria-Wes is ʼn sjarmante Noord-Kaapse dorpie tussen twee heuwels. Dis in 1843 gestig toe die NG Kerk ʼn plaas uit ʼn boedel gekoop het. Erwe is uitgemeet en volgens verkoopvoorwaardes moes daar binne vier jaar ʼn huis op elke erf pronk, omhein met ʼn laning granaat- en kweperbome. Elke grondeienaar het ook weiregte gekry vir twintig osse, twee koeie, twee perde en ʼn paar skape. Kort voor lank is wolvendusies op dié dorp gehou wat een van die spoggerigste merino-streke in die land sou word. Natuurlik strek die Karoolamsvleis se roem ook vêr.

Victoria-Wes het geld gemaak uit die Diamantstormloop, maar ook groot rampe beleef. In 1871 het ʼn wolkbreuk op die berge 15 km buite die dorp losgebars. ʼn Brander van vier meter hoog het die dorp getref en die huise verspoel. Sestig drenkelinge is gevind.

Wanneer die skemerson die Midde-Karoo in al haar glorie laat gloei, durf ons die Moonlight Hill-wandelpad van 4 km op die heuwel bo Victoria-Wes aan. Die uitsig oor die dorp is mooi en die vetplantjies ook, maar daar is vullis in die veld langs die paadjie wat die mooiheid ontsier… Ons vaar die strate in. Van die lekkerste doen-dinge in die dorp is om die Karoo-argitektuur te bewonder. Dis asof jy terugstap in tyd. Die korbeelhuis, met sy koepelvormige dak, is in 18-toet deur Trekboere gebou. Dis ideaal vir die boomlose gebied, koel in somer en warm in die winter. Ons verkyk ons aan die ouwêreldse Karoo-kothuisie met gegote leunmuurtjies; ʼn stoep met vierkantige pilare; ʼn stoep met ʼn lysskaafdak; ʼn horde houthortjies voor die vensters; die halfronde, uitgeboude venstertjies; die witgepleisterde werfmure. Hier is ʼn Edwardiaanse hoekhuis met ʼn skilddak en ʼn huis met fyn Victoriaanse traliewerk van hout voor die vensters. Die Anglikaanse kerk van 1869 het twee pragtige gebrandskilderde ruite.

Een van die mees unieke geboue in ons land is sekerlik die Apollo-teater, die enigste Art Deco-fliekteater uit die 1950’s. Hulle vertel vir ons Deon Meyer se boek, Jagveld, is in die omgewing verflim en toe hy besluit om die première van die fliek ook hier te hou, het die dorp saamgestaan, die teater bietjie opgeknap en opgeruk vir die spesiale makietie.

Die Victoria-Wes-streeksmuseum is ʼn vleuel van die dorpsbiblioteek en sowaar een van die oulikste kleindorpse museums waar ek al was. Die Fossiele-saal vertel die voorgeskiedenis en natuurgeskiedenis van die Karoo. ʼn Mens is verstom oor die volledige visfossiele van 250 miljoen jaar gelede toe die Karoo nog ʼn moeras was, asook fossiele van plantetende reptiele uit dieselfde tyd. Die museum se Kultuurhistoriese-saal het werktuie uit die vroeë Steentydperk en artefakte van die Sanvolk wat veel verduidelik oor die eerste bewoners van die omgewing. Ou foto’s, koerantuitknipsels en kaarte verklap meer oor die afgelope tweehonderd jaar se doenighede. Die oudste tak van Standard Bank in die land is in Victoria-Wes en daardie aandeelhouers van 1856 se handtekeninge is nou nog te siene op ʼn meters-lange varkvel! Hier word ook ʼn koets en ou kerkorrel uitgestal, asook sport- en kombuistoerusting uit toeka se dae en ʼn popversameling van 1820. ʼn Boorling van Victoria-Wes, PH Hugo, was ʼn beroemde vegvlieënier tydens die Lugslag van Brittanje in 1940 en sy medaljes word trots vertoon.

Ons oornag in Moonlight Manor – ʼn statige Victoriaanse herehuis uit die laat 1800’s, wat tien jaar gelede in ʼn gesellige gastehuis omskep is. Die Afrikaanse eienaars kuier dik stukke oor ʼn koppie koffie in die kombuis. Die kenmerkende Karoo-kuierstoep en die hoë plafonne, die oorspronklike dennehoutvloer, skuifraamvensters en hortjiedeure laat jou tuis voel in ʼn vorige era. Hulle vertel met die pandemie het die dorp omtrent ʼn herlewing ondergaan toe meer mense besef het hulle kan van die platteland af werk. Hier is glo boerinne buite die dorp wat oorsese maatskappye vanaf hulle plase bestuur – al wat ʼn mens mos nodig het, is goeie internet. Nie dat besoekers hulle rekenaar hier moet aanskakel nie. Koop eerder vir jou ʼn Karoolam-tjoppie by die plaaslike slaghuis en braai dit met ʼn uitsig op die heuwel. Of vat ʼn goeie Karoo-storieboek van Etienne van Heerden saam, sit op die stoep met ʼn beker boeretroos en drink die amber-lig in.

Reisraad:

  • Victoria-Wes in die Noord-Kaap is gunstig geleë op die N12, halfpad tussen Kaapstad en Johannesburg.
  • Neem jou tyd om die dorp te voet te verken. Hier is pragtige gerestoureerde geboue wat in woonplekke, winkels en eetplekke omskep is. Ander besonderse geboue is die St. John’s Anglikaanse kerk, die Victoria-Wes-streeksmuseum, De Oude Scholen, die Joodse Sinagoge, die Oude Pastorie en die Apollo-teater.
  • Die Apollo-teater is ʼn klassieke Art Deco-bioskoop. Om uit te vind wanneer die volgende fliekaand is, skakel 082 464 2690 of vir Roché by 067 062 9278.
  • Maak ʼn draai by die interessante Victoria-Wes-streeksmuseum agter die dorpsbiblioteek. Dis gesluit oor naweke en op vakansiedae, maar oop op weeksdae van 7:45 tot 13:00 en 14:00 tot 16:45. Skakel Rochelle Vlok: 053 621 0413. Vonkpos: [email protected].
  • Beleef egte Karoo-gasvryheid en die swierigheid van die vorige era by Moonlight Manor Gastehuis. Die sewe kamers het antieke meubels, elk met ʼn eie badkamer en private ingang. Die selfsorg-familiekamer waarin ons oornag het, was gerieflik ingerig en bekostigbaar. Gaste kan veilig agter die huis parkeer. Skakel die eienaar, Sven Andersen: 053 621 0055. Vonkpos: [email protected]. Webwerf: Moonlightmanor.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.