Plant ’n tuin, word selfvoorsienend

Die tuinkoepel wat gebruik kan word vir Helpende Hand se SelfPlant-projek. (Foto verskaf)

Solidariteit Helpende Hand het ʼn unieke PlantSelf-projek begin, waarmee ʼn mens jou eie groente op ʼn omgewingsvriendelike wyse kan kweek. So kan jy selfvoorsienend wees, jou gemeenskap ondersteun, en selfs ʼn tikkie hoop verskaf.

“Ons droom van ʼn volhoubare toekoms vir ons gemeenskap. Dit is ʼn toekoms waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan, en ons wil gemeenskappe motiveer en leer om selfonderhoudend te wees,” het Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, gesê.

Hy meen om self ʼn groentetuin aan te lê, is reeds ʼn stap nader aan die verligting van armoede, én die verbreking en voorkoming daarvan.

(Foto verskaf)

“Nie net is grond die oorsprong van lewe nie, maar dit is in ons Afrikaners se bloed om te plant. Die projek fokus nie net op die fisiese nie: dit verander jou uitkyk, gee hoop en is iets om na toe te werk. Dit is veel meer as net plant: dit is die eerste tree na selftrots, geestelike groei en menswaardigheid. Helpende Hand fokus juis op die holistiese welstand van ons kwesbare groepe.”

Een van die opvallendste aspekte van die PlantSelf-projek is die plantkoepel. Hierdie unieke, omgewingsvriendelike tuinbou- en besproeiingstelsel stel mense in staat om ʼn voedselbron van hul keuse te kweek. Dit is ʼn draagbare kweekhuis wat herhaaldelik gebruik kan word en kan aanpas by verskeie weersomstandighede.

Die plantkoepel – wat soos ʼn klein kweekhuis werk – is ʼn “wonderwerk van tegnologie” wat water bespaar deur vinnige verdamping te voorkom. Plante word deur die oorhoofse sprinkelbesproeiing natgelei. Boonop verminder dit ook die behoefte vir dodelike plaagdoders en kunsmis, omdat plae soos insekte en voëls nie maklik by die groentetuin kan uitkom nie.

(Foto verskaf)

“Die PlantSelf-projek fokus op ʼn basiese en kosbare hulpbron: die grond. Die grond is waar ons voedsel begin, maar hierdie projek strek veel verder as net landbou. Dit is ʼn beweging wat poog om die gees van selfdoen en selfvoorsiening te kweek en om die gemeenskap aktief te betrek.”

Noëth meen die aanleer van basiese landboutegnieke, tuinbouvaardighede en bewaringsmetodes, stel mense in staat om voedsel en ander noodsaaklike hulpbronne vir eie gebruik en selfs vir die gemeenskap te produseer. Dit is ʼn beweging weg van afhanklikheid van eksterne hulpbronne en ʼn stap na onafhanklikheid.

“Dit is ʼn inisiatief wat mense bemagtig deur die deel van kennis en hulpbronne aan te moedig. Dit bou ʼn gevoel van gemeenskap en samewerking, waar mense mekaar ondersteun en saamwerk. Dit gaan oor die bou van veerkragtige gemeenskappe wat nie net in staat is om hul eie behoeftes te voorsien nie, maar ook om mekaar in tye van nood te ondersteun.’’

Besoek Helpende Hand se webwerf vir meer inligting oor die plantkoepel en die PlantSelf-projek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karoo ·

Die plantkoepel kom al ‘n baie lang tyd aan en werk goed. Kyk ook na “squire foot gardening” is meer gemaklik vir ouer mense wat nie meer so lekker laag kan buk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.