Kyk: Thato wys nasionale kostuum

Thato Mosehle se nasionale kostuum vir die Mej. Supranasionaal-kompetisie is deur Sello Medupe ontwerp. (Foto: Willem Botha/Mej. SA-organisasie)

Thato Mosehle, wat verlede jaar op die Mej. Suid-Afrika-verhoog as Mej. Supranasionaal Suid-Afrika 2020 gekroon is, het Woensdag na Pole vertrek om aan dié internasionale kompetisie deel te neem.

Shudufhadzo Musida, Mej. Suid-Afrika, en Natasha Joubert, Mej. Heelal Suid-Afrika, het Mosehle op die OR Tambo-lughawe in Johannesburg afgesien.

Mosehle sal aan die 12de jaarlikse Mej. Supranasionaal-kompetisie deelneem, wat op 21 Augustus in Nowy Sącz, Pole, plaasvind.

Sy is die eerste persoon wat amptelik onder die vaandel van die Mej. SA-organisasie deelneem. Die wenner sal deur Anntonia Porsild van Thailand, Mej. Supranasionaal 2019, as haar troonopvolger gekroon word.

Haar nasionale kostuum is ontwerp deur Sello Medupe, eienaar van Scalo. Dit is geïnspireer deur die voorkoms van ʼn Afrika-krygerprinses met elemente van Mosehle se Sotho-kultuur en ‑erfenis daarin verweef.

“Die Mej. Supranasionaal-kompetisie het ʼn nasionale kostuum vereis wat ʼn persoonlike verband hou met die deelnemer,” verduidelik Werner Wessels, kreatiewe direkteur van die Mej. SA-organisasie.

“Aangesien Thato ʼn dokter is, wat op die voorste linies teen Covid veg, wou ons wys hoe sy nie net haarself sien nie, maar ook haar kollegas – as krygers. Ons wou ook iets persoonlik uit haar kultuur insluit in die vorm van ʼn tradisionele kombers genaamd ʼn seanamarena, wat vertroosting, hitte en trots simboliseer wat sy vir haar mense voel.

Thato Mosehle (middel) is Woensdag deur Shudufhadzo Musida, mej. Suid-Afrika (links) en Natasha Joubert, mej. Heelal Suid-Afrika (regs) op die OR Tambo-lughawe in Johannesburg afgesien. (Foto: Mej. SA-organisasie)

“Ons, as ʼn organisasie, is so trots daarop om ʼn uitrusting te vertoon wat werklik ons land verteenwoordig,” sê Wessels.

Haar uitrustings vir die dag is ontwerp deur Willet Designs Couture, Malondie, Sheriff Taylor, Ernst Schultz en Juan William Aria. Haar aandrokke is deur Kobus Rautenbach en Anél Botha ontwerp.

“Ek is mal oor my klerekas en al hierdie ongelooflike Suid-Afrikaanse ontwerpers wat ʼn manier gevind het om my spesiaal te laat voel,” sê Mosehle.

Meer besonderhede oor die Mej. Supranasionaal-kompetisie sal op Mej. SA se amptelike webwerf en sosialemediaplatforms bekend gemaak word. Daar kan ook vir Mosehle op haar sosialemediaplatforms gestem word.

Mej. Suid-Afrika word aangebied deur Weil Entertainment in samewerking met M-Net, Mzansi Magic en Sun International.

Die nuwe Mej. SA sal op 16 Oktober by die Grand West Arena in Kaapstad gekroon word. Kyk hier na die top-10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Belinda ·

uhm… ekt regtig meer verwag. meer kleurvol soos die nasie wat ons is.

Misky ·

Dis ‘n kombers…… En ek is seker dom, maar wat is Supranasionaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.