Matriekafskeidgids: Kenners deel wenke vir beste kiekies

(Foto: Pinterest/@aylafinch)

Daar word gesê dat ʼn foto duisend woorde werd is.

In die geval van groot geleenthede soos verjaarsdae, troues of matriekafskeide is dit dalk eerder duisend herinneringe werd – daarom is dit belangrik om dié groot mylpale met foto’s vas te vang.

Maroela Media het as deel van sy matriekafskeidgids met ʼn paar ervare kenners gesels om raad en lekker geldspaarwenke op te stel vir die groot aand.

Lelanie de Beer van Lelanie de Beer Photography en fotograaf Rozier van Tonder van Okay Deer deel hier hul wenke vir die beste kiekies.

Hoe vroeg moet ek bespreek?

Die fotograaf is dalk nie die eerste matriekafskeidprioriteit vir baie ouers nie, maar dít beteken nie dat daar tot op die nippertjie gewag moet word om een te bespreek nie.

Lelanie en Rozier is dit eens dat gouer beter as later is.

Volgens Rozier is dit nie ongewoon om selfs ʼn jaar vooruit te bespreek nie. Lelanie beaam dit en wys daarop dat fotograwe se dagboeke dikwels vroeg in die jaar volbespreek kan word met troues.

“Troues vind dikwels plaas oor naweke en matriekafskeide deur die week, maar die meeste fotograwe wat troues afneem, het gewoonlik hier teen Februarie ʼn goeie idee van hoe hul jaarkalenders lyk. Bespreek so gou as wat jy kan.”

Vir hoeveel ure moet ek ʼn fotograaf bespreek?

Rozier verduidelik dat elke fotograaf sy of haar eie pakkette en tariewe het en dikwels uurlikse tariewe het waarvolgens hulle werk.

Hy stel minstens 45 voor as dit net die matrikulant en sy of haar metgesel is en skerts dat die foto’s met ouers of familie eerste afgehandel moet word, sodat die paartjie nie “skaam” voel om voor hul familie te poseer “of ʼn soentjie te gee” nie.

Albei stel egter voor dat vriendekringe ʼn fotograaf as groep bespreek om geld te spaar, maar benadruk dat die tye dan sorgvuldig bestuur moet word.

Party fotograwe bied spesifieke en beperkte groeppakkette vir matriekafskeide om seker te maak dat elkeen genoeg tyd en aandag tydens die fotosessie geniet.

Lelanie verkies op haar beurt om minstens ʼn uur met die paartjie te hê en stel voor dat groepe nie uit meer as vyf paartjies bestaan nie.

Hoeveel moet ek begroot?

Nes ontwerpers en grimeerkunstenaars speel gewildheid, ervaring en beskikbaarheid ʼn groot rol in fotograwe se tariewe.

Ook vervoer speel ʼn rol, met party fotograwe wat AA-tariewe (R4,18 per kilometer vir die 2022-’23- finansiële jaar) vir vervoer verder as 30 km vra.

Studentefotograwe se pryse begin by R500, terwyl meer ervare fotograwe tussen R2 000 en R4 000 per uur kan vra.

Waar is die beste plek om foto’s te neem?

Hoewel die natuurskoon vir baie mooi foto’s sorg, waarsku Rozier ouers en matrikulante om toeganklikheid in ag te neem wanneer daar besluit word waar om die foto’s te neem.

“Almal trek nou netjies aan, so die maklikste is om stad toe te gaan en ʼn meer urban gevoel te kry, maar vra jou fotograaf vir opsies. Ons het gewoonlik ʼn lys van plekke waar ons al afgeneem het of wat ons kan voorstel. Die veld is mooi, maar dis moeite om met daai hoëhakskoene daardeur te loop.”

Lelanie herinner ouers ook altyd aan die dag se reeds volgepropte tydskedule en moedig hulle aan om foto’s so na moontlik aan die matriekafskeidvenue te neem. Benewens tyd speel beligting ook volgens haar ʼn groot rol.

“Fotograwe word natuurlik geleer om te werk met dit wat ons het, maar matriekafskeidfoto’s moet dikwels geneem word voor die sogenaamde golden hour wanneer die sonlig op sy mooiste vir buitefoto’s is. Daarom sal dit makliker wees om êrens buite te neem waar daar lekker koelte is of binnenshuis met groot vensters vir lekker natuurlike lig.”

Sekere openbare ruimtes vereis ook toestemming vir foto’s om geneem te word – iets waaraan Lelanie ook ouers graag herinner.

“Om buite in strate of so te neem lyk altyd baie mooi, maar mens moet ook dan net jou tyd beplan omdat mens soms bietjie gaan moet loop vir ʼn mooi skoot of wag vir mense of karre om verby te gaan.”

Wat as my tiener kamerasku is?

Hoewel tieners deesdae gemaklik met sosialemediafoto’s is, verander dit as ma en pa bystaan wanneer foto’s geneem word. Nes Rozier, stel Lelanie daarom voor dat ouers saam groepfoto’s neem en dan opsy staan om die tienerpaartjies op hul gemak te hou.

Hoe meer beweging ʼn foto het, hoe meer natuurlik kom die foto’s uit, daarom moedig Rozier paartjies of groepe wat kamerasku is aan om ʼn aktiwiteit te doen vir die fotosessie.

“As mens besig is en pret het, dink jy nie eens oor die kamera voor jou nie,” meen Rozier.

Lelanie voeg by dat rekwisiete soos sonbrille of selfs om ʼn bottel vonkelwyn oop te maak en te skink, die aandag van die lens sal aftrek en mooi foto’s skep.

Verder moedig sy paartjies aan om uitrustings te kies waarin hulle vir hulself gemaklik voel en lyk.

“ʼn Mens kan dadelik sien as iemand skaam of ongemaklik voor die kamera is. Hoewel jy op jou mooiste wil lyk, moet jy steeds op die dag gemaklik in jou eie vel wees.”

  • Lees hier meer oor die belangrikheid van begrotings, asook wenke van modeontwerpers oor waar om te begin wanneer dit by ʼn rok of pak vir die groot aand kom.
  • ʼn Haarkapper en saloneienaar van Sandton, Johannesburg, gee hier wenke om seker te maak dat almal spoggerige kapsels op hul matriekafskeid kan hê.
  • ʼn Professionele grimeerkunstenaar met 12 jaar ervaring in dié bedryf, verduidelik hier hoe om jou gesig en geldsak voor te berei vir die groot aand se grimering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.