Dricus: Gebore kampioen

Dricus du Plessis. (Foto: Steve Marcus/Getty Images via AFP)

Sy naam is Dricus du Plessis.

Teen dié tyd moet elke oorsese gemengdegevegskunsliefhebber al weet hoe om dit uit te spreek: Dis “Doo-ple-see, thank you very much”.

Die 30-jarige ster veg vroeg Sondagoggend (skuif maar van so 04:30 voor die kassie in, net om veilig te wees) vir die UFC-middelgevegtitel teen Sean Strickland.

En die Amerikaner beter in sy pasoppens wees; hy weet mos nie wat ons lank reeds weet nie: Onse Dricus is ʼn gebore kampioen.

“As jy nie honger vir sukses is nie en nie bereid is om hard te werk nie, sal jy altyd tweede wees. En niemand weet wie die naasbeste is nie,” het Du Plessis in ʼn vorige onderhoud gesê.

Nou my maat, as jy van voorbereidingswerk praat, sal jy lank moet soek om iemand te kry wat by Du Plessis kan kers vashou. Hy word tereg as die Springbok van die Ultimate Fighting Champion-hok beskou; iemand wat kliphard oefen sodat die groot oomblik in die kollig baie van sy slaankrag verloor.

Volgens die Suid-Afrikaner is daar ooreenkomste tussen hom en Strickland; hul onortodokse gevegstyle maak hulle uniek.

“Wanneer jy hom in aksie sien, lyk hy maar bra vreemd – en dieselfde word waarskynlik ook van my gesê. Twee benaderings wat weliswaar hemelsbreed van mekaar verskil, maar wat tog ook uniek is.”

Daar is egter ʼn brokkie inligting wat die skaal in Du Plessis se guns swaai: Hy benodig nie juis die hulp van gevegsbeamptes om ʼn tweestryd te beklink nie.

Aikôna, sy vuiste en krag doen kliphard die praatwerk.

“Wanneer ek jou met ʼn hou tref, gaan jy harpuis ruik. ʼn Wen is ʼn wen in dié sport, maar ek weet dat die uitslag van my gevegte nie deur iemand anders beslis word nie; ek is aan die stuur van sake.”

Voordat Du Plessis as ’n gemengdegevegskunsatleet in die hok geklim het, was hy ’n baie suksesvolle skopbokser. Hy was onoorwonne in 33 gevegte; boonop het hy 30 keer sy teenstander uitgeslaan. Dit was in dié tydperk toe sy broer met sy slaappil-bynaam “Stillknocks” (’n verwysing na die slaapmiddel Stilnox) vorendag gekom het.

En volgens die Nederlandse skopbokser en gerekende afrigter, Henri Hooft, word die Suid-Afrikaner net beter namate sy loopbaan vorder.

“Hy het meer as genoeg krag – hy hoef jou eintlik net een keer goed te tref. Normaalweg is iemand óf ’n atleet óf ’n vegter. Dricus beskik oor al twee eienskappe,” het Hooft aan ESPN gesê.

Die pen om die geskiedboeke te herskryf is stewig in Du Plessis se hand. Of altans sy vuis.

Dricus du Plessis op die voorvoet teen Darren Till. (Foto: Sean M. Haffey/Getty Images/AFP.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gaitsigubib ·

Vir Dricus sou ek se, hou kop wanneer jy beroemd word, want roem kan n mens verwoes. Wees dankbaar vir jou talente en onthou jou wortels, want dit sal jou lewe ingerypend kan verbeter, maar dit sal van jou afhang. Nou toe, gaan vat hom!!!

Martie Smartie ·

Goed dat almal hom sterkte toewens, maar ek het hulle altwee onlangs sien baklei en eks bevrees, ek dink Strickland gaan vir Dricus dik slaat.

George ·

@Michael, glad nie. My kids word afrikaans en engels groot, en hy is geen voorbeeld nie.

Andre ·

…ek wens hulle kon vir Mantashe of Mbucks in die kryt sit teen jou.

John ·

Beste wense Dricus en ons glo in jou om Strickland n les te leer…. Ai Martie Smartie jy gaan lang trane huil…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.