Gerda Steyn laat SA rekord in Valencia spat

Gerda Steyn ná vanjaar se Comrades-triomf. (Foto: RAJESH JANTILAL/AFP)

ʼn Paar dae gelede het Gerda Steyn op sosiale media gedeel dat sy oor die eindstreep van die Valencia-marathon droom.

Nou-ja, Suid-Afrika se goue langafstandatleet het vandag met ʼn droomvertoning in dié Spaanse stad vorendag gekom.

Steyn het haar eie Suid-Afrikaanse marathonrekord van 2:25:28 na 2:24:03 verbeter toe sy die 11de vroueatleet oor die wenstreep in Valencia was.

Die 33-jarige Bothaville-boorling het ook op ʼn drafstap vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer: ʼn Kwalifiseringstyd van 2:26:50 sal vir jou ʼn vliegtuigkaartjie na Parys bespreek.

Sy het by die vorige Spele in Tokio in die 15de plek klaargemaak.

Steyn het vanjaar onder meer Frith van der Merwe se Comrades-rekord vir die “af-wedloop” van Pietermaritzburg na Durban verbeter.

“Dít is die beste dag van my drafloopbaan en ek is so dankbaar om deel van die Comrades te wees,” het sy gesê nadat sy ʼn nuwe rekord van 5:44:54 opgestel het.

Van der Merwe se rekord van 5:54:43 het sedert 1989 gestaan.

Been dreaming about this finish line for the past three months ???????? Two more days to go to @maratonvalencia ! ⏳️???? ???? ???? ???? ???? #raceweekend #whataplace #butterfliesarefelt

Posted by Gerda Steyn on Friday, December 1, 2023

Irvette lewer ook ʼn stewige vertoning

Irvette van Zyl se tyd van 2:27:29 beteken dat sy met ʼn 39ste plek in Valencia tevrede moes wees. Die Pretorianer het egter reeds ʼn Olimpiese kwalifiserende tyd in ʼn vorige wedloop gedraf.

Valencia-uitslae (voorste 12 plekke):

  1. Worknesh Degefa: 2:15:51
  2. Almaz Ayana: 2:16:22
  3. Hiwot Gebrekidan: 2:17:59
  4. Celestine Chepchirchir: 2:20:46
  5. Majida Maayouf: 2:21:27
  6. Sultan Haydar: 2:21:27
  7. Desi Mokonin: 2:22:29
  8. Genevieve Gregson: 2:23:08
  9. Sofia Yaremchuk: 2:23:16
  10. Isobel Batt-Doyle: 2:23:27
  11. Gerda Steyn: 2:24:03
  12. Joan Chelimo: 2:24:16

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.