Kinders sukkel om te lees, só wil SOS help

Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), en Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). (Foto: Verskaf)

“Dit bly maar ʼn verdoemende uitspraak oor onderwys, en spesifiek die vaardighede wat ons leerders het. Hetsy dit lees- of skryfvaardighede is.”

So sê Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), oor die jongste verslag van die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS), wat dié week bekendgestel is.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), het in reaksie op die verslag gesê hoewel dit grootliks kommerwekkende bevindings bevat, is daar ook enkele ligpunte.

“Daar was in die wye spektrum van die land ʼn verswakking in kinders se vaardighede, maar ons is dankbaar en aangenaam verras oor die mate van prestasie by Afrikaans, Engels en Xhosa.

“Ons het absoluut die uitslag verwag, en dit kon in ʼn redelike mate weens die invloed van die Covid-19-pandemie voorspel word.”

Maroela Media het berig dat die departement van basiese onderwys die bevindings van die navorsing wat op Suid-Afrika van toepassing is, Dinsdag bekendgemaak het. PIRLS, ʼn internasionale opname oor geletterdheid, se navorsing evalueer leesprestasie en vermoëns en word elke vyf jaar in 57 lande gedoen.

Die bevinding dat ʼn groot meerderheid leerders nie met begrip kan lees nie, is veral kommerwekkend. Daarom is die Leesgids: Vir ʼn gestruktureerde leesstrategie, ʼn handleiding wat SOS in samewerking met die AON saamgestel het, ʼn broodnodige hulpbron.

Die leeshandleiding, waaraan daar die afgelope twee jaar gewerk is, is Vrydag in Centurion, Pretoria, amptelik aan die media bekendgestel. Dit word ook op 20 Mei tydens die SOS se jaarlike leeskongres in Pretoria ten toon gestel.

Marnelda de Beer, vakspesialis by die SOS en projekleier van die leesgids, het tydens die geleentheid verduidelik dat dié omvattende gids saamgestel is om Suid-Afrikaanse leerders te help om hulle leesvermoë te verbeter. Dit is spesifiek ontwikkel om onderwysers, skole en ander belanghebbendes te ondersteun om leesbegrip te verbeter.

Vakspesialiste op die gebied van leesonderrig het as medewerkers opgetree. Dit sluit prof. Johan Anker, drs. Ria Taylor en Melodie de Jager, Almaret du Toit, Rita van den Berg, Wilna van Rooyen, en drie taalspesialiste verbonde aan die SOS, in.

Volgens Vermeulen is die leesgids slegs ʼn beginpunt in die bevordering van leesvaardighede, en hy het bygevoeg dat dit hopelik gou ʼn onmisbare bron in die ontwikkel van kinders se leesvermoë sal word.

“ʼn Mens moet besef dat jy êrens iets moet doen, en ʼn goeie beginplek sou ʼn eenvoudige dokument wees wat die kern van hoe om lees te vestig, so kort en kragtig as moontlik saamvat.

Leon Fourie en Hugo Vermeulen. (Foto: Verskaf)

“Dit is wat die doel met die leesgids is. Ons sal wil sien is dat dit deel van onderwyseropleiding, sowel as klaskamer gebruik en onderrig by die huis moet word.”

Potgieter het hierby aangesluit deur na die waarde van geletterdheid te wys. “Geletterdheid op voetsoolvlak is ʼn belegging in die land se toekoms, en dit is wat ons met hierdie leesgids probeer regkry.

“Afgesien van die samewerking met vennote, wil die gids ook ouers, onderwysers en leerders aanspoor om stappe te neem, voorbereiding te doen en lewenslange leerders te word.”

Leesgids: Vir ʼn gestruktureerde leesstrategie kos R150 (prys onderworpe aan verandering) en dit is op die SOS se webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.