Nuuskommentaar: Ag toe nou, Charlize, dis nie nodig om vir ons skaam te wees!

Charlize Theron het die fout gemaak om onlangs in ʼn podsending die nietigheid, onnuttigheid en weglaatbare kleinheid van Afrikaans te verduidelik. Hierdie uitlatings was nuus vir die bykans 7,1 miljoen moedertaalsprekers van Afrikaans net in Suid-Afrika.

Charlize Theron (Foto: Amy Sussman / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Theron se opmerkings oor Afrikaans is egter nie met dieselfde humoristiese ligtelikheid ontvang as wat dit gemaak is nie. Die absolute snedigheid van haar opmerkings het enige moontlikheid van onskuldige onkunde oor die stand van sake oorskadu.

Enigeen wat na die podsending geluister het, sal ook gou agterkom dat die opmerkings heel ongevraag was. Die aanbieders het regtig nie Theron se vlak van negatiwiteit teenoor Afrikaans uitgelok nie.

Die vraag is dan waarom hierdie storie nou juis meer aandag geniet of regverdig as skreeusnaakse sosialemediakommentaar? Hoewel Theron gedink het sy maak sommer net ʼn grappie in die verbygang, spreek dit tog van diepliggende sentimente.

ʼn Mens kan nie anders nie as om die gevoel te kry dat sy as produk, slagoffer en aanmoediger van haar woke­-Hollywood-ekosisteem so ʼn bietjie skaam is oor haar identiteit– meer spesifiek haar witheid. Iets wat sy heel moontlik ook koppel aan Afrikaans as amptelike en onderdrukkende apartheidstaal. Deel van die identiteit en geskiedenis waarvan sy nie hou nie.

Die verskynsel van skaamwees oor jou identiteit is natuurlik nie net tot Theron beperk nie. Dit is ook dalk iets wat nie so vreemd is nie. Theron is as 19‑jarige hier weg en sou sodoende ʼn groot deel van haar verstand in ʼn woke vermaaklikheidswêreld ontwikkel.

Sy het haar in die verlede al uitgespreek oor kwessies van wit skuld en wit bevoorregting. Dit ook in die lig van die feit dat Theron tot en met 15‑jarige ouderdom onder apartheid geleef het –  ʼn feit wat nie net by haar spook nie, maar skynbaar ook deel van haar identiteit geword het.

Dit is waarom die opmerkings wat sy oor Afrikaans gemaak het, so diep getref het. Onderliggend aan die opmerkings is uiteindelik iemand wat hul bes probeer om van hul identiteit en verlede te ontsnap. Sy is hipersensitief oor haar eie rassisme – selfs daar waar dit nie noodwendig verstaan word nie.

Theron het selfs in 2018 verduidelik hoe sy oorweeg het om die VSA en Hollywood te verlaat weens rassisme. Theron, as die aanneemmoeder van twee swart kinders, wou die skuif maak vir die veiligheid van haar kinders – in ʼn poging om ʼn florerende rassistiese Amerika te ontsnap.

Enigiemand wat uit Hollywood wil trek weens uitermatige hoeveelhede rassisme, moet dalk introspeksie doen. Hollywood is waarskynlik dié mees woke plek op aarde. As jy selfs daar onderdrukkende rassisme oral raaksien, kyk jy dalk met ʼn skeefgetrekte bril na die wêreld.

Theron se opmerkings oor Afrikaans het dus gedrup van die hoogheiligheid wat net verligte Hollywood kan bied. Dit is waarom mense so heftig reageer op die 44 Afrikaanssprekendes-opmerking. Almal weet die letterlike verwysing na 44 is net ʼn grappie.

Wat mense egter diep grief, is die ywer waarmee sy die stof van haar skoene wou afskop – nie net haar herkoms nie, maar dalk ook enige iets wat haar steeds daaraan verbind. Sy wil regtig niks met ons te doen hê nie, want dit herinner haar dalk aan haar verlede van “wit bevoorregting”.

Daarom verseg sy witheid en Afrikaans – die twee bakens van rassemeerderwaardigheid. En dit is dan juis die punt. Haar hoogheiligheid gee haar die reg om op die res van ons neer te kyk wat nog rondplas in die rassistiese en agterlike modderpoel wat Afrikaans is.

Afrikaners is almal eintlik maar minderwaardig in ons inherente rassisme. As ons maar net so verlig soos sy was om ons identiteit te verseg.

In 2016 reeds skryf dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, al ʼn meningstuk wat afvra: “Is jy dalk ʼn oikofobeet?”. Oikofobie word beskryf as ʼn vrees vir die eie. ʼn Oikofobeet is dus iemand wat ʼn vrees het vir hulself, hul herkoms en identiteit – ʼn onopgeloste vrees wat dikwels ook tot ʼn selfhaat ontwikkel.

Theron ly heelwaarskynlik aan oikofobie. Sy kon nooit vrede vind met die skadukant van haar herkoms en identiteit nie. Inteendeel, sy het die skadukante verhef tot die totaliteit van haar herkoms en identiteit. Sodoende voel sy verplig om afstand daarvan te doen en dit spottenderwys sleg te sê.

Ons ontvang hierdie “grappies” dan redelik sleg. Want ons weet die somtotaal van ons verlede, identiteit, herkoms en kultuur is nie sleg nie. Ons weet inherente wit rassisme soos voortspruit uit wit bevoorregting is ʼn mite wat deur kritiese rasseteorie gepropageer word – alles met bybedoelings om meer sosiale mag te bekom.

Theron gaan nou nie noodwendig die volgende voorwerp van ʼn boikot wees nie. Ons gaan hierdie egter onthou. Ons gaan onthou hoe sy op ons neergekyk het en hoe ongevraag dit was.

Afrikaners het op ʼn stadium, in die skadu van apartheid, tot ʼn meerdere mate self aan oikofobie gely. Ons het self daarmee gesukkel om in ons nuwe konteks die verlede genuanseerd te verwerk. Ons het egter hierdie hekkie tot ʼn groot mate oorkom.

Afrikaners het tog daarin geslaag om ʼn nuutgevonde taal- en kultuurtrots te ontwikkel – sonder om een of ander kulturele of rassemeerderwaardigheid daarmee saam te sleep. Dus duld ons ook nie meer hierdie tipe meerderwaardigheid nie – in besonder nie afkomstig van “een van ons eie” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Pietertjie ·

Mens spreek dit blykbaar só uit : Chaa-leez-the-ron. Weet ook nie wie is daai girl wat op ‘n plaas tussen Johannesburg en die Krugerwildtuin grootgeword het nie.

Piet parys ·

Die dag toe sy hier weg is het sy haar identiteit verloor . Haar nuutste uitlatings bewys dit . Sy is n aktrise . Sy ACT in alles wat sy doen en sal enige iets let wel enige iets doen om rolle te kry asook rykdom bymekaar re maak . Jy kan lankal nie meer jou self as n Afrikaans sprekende of afrikaner beskou nie. . . …. van dag een af jou afgeskryf en geen van jou flieks gaan kyk nie .

Kobus ·

Ag asb, staak nou al die publisiteit want dit is wat sy wil hê

Hannelie ·

Ai Charlize’tjie, ai, ai. Hoe sê die spreekwoord, waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
Jy verlang na ons ou Afrikaner landjie, want hoe op dees aarde sal jy jou nou wil uitlaat oor ons Afrikaners.

Martin ·

Piet parys jy slaan di spyker op di kop sy sal enegiets doen vr meer rolle let wel enegiets ek sien maroela verwys na haar as een vn ons sy is langkal niks vn ons 3 hi

Wonder ·

Maak sy net of sy nie breinselle het nie om op die mense se tonge te lê of hoe nou…

Jannie van Niekerk ·

Ek dink sy het deurmekaar geraak met haar IK en die hoeveelheid mense wat Afrikanas praat

Duskolos ·

Puik kommentaar wat hierdie gedrag wat so vreemd voorkom, verklaar. Die woord waarna julle soek is ”oikofoob” – vergelyk woorde soos homofoob of arachnofoob.

Nettie ·

Mooi gestel Monica. Baie dankie. Dis baie insiggewend.

Charlize Theron, God het gesê Hy verneder die hoogmoediges, en verhef die nederiges.

domheks ·

Die dame is nou te goed vir SA. Maar sy dink ons het haar verlede vergeet!

Goldy ·

Sy het net bedoel dat daar nog net 44 Afrikaners by Dischem oor is.

annie ·

Charlize wil dalk die politiek betree. Om Afrikaners af te kraak was nog altyd een manier om te vorder. Wat sê ons ander uitvoerproduk deesdae? Musk het toe hy begin opgang maak het glo gesê hy sal sy kinders graag Afrikaans wou leer. Mens wonder hoe voel hy deesdae oor sy geboorteland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.