Nuuskommentaar: Faktore wat die erns van plaasaanvalle verdoesel

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Lorraine Claasen, AfriForum se misdaadanalis. (Foto: Reint Dykema, AfriForum)

Terwyl AfriForum-ambassadeurs die wêreld deurkruis om op die erns van plaasaanvalle en die regering se voorgenome grondgryp sonder vergoeding te wys, is daar verskeie faktore wat hierdie edel taak baie bemoeilik, en ander wat weer die veldtog kan rugsteun. Die nuwe syfers wat AfriForum pas bekend gemaak het, toon dat plaasaanvalle die afgelope jaar skerp gestyg het.

Die eerste is hoe grond bekom is en watter narratief daarvan die meeste ingang by die plaaslike en internasionale gemeenskappe vind. Het wit mense hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, of is daardie narratief die “Groot Leuen”, soos deur die ad hoc-komitee oor grondbesit uitgespel? Hoe “skuldiger” grondeienaars voorgestel word, hoe minder “ongeregverdig” lyk plaasaanvalle.

Maroela Media het reeds in 2014 na syfers uit die Matie Charl Swart se meesterverhandeling verwys wat daarop dui dat ongeveer 85% van die swart mense glo dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Dit het ook reeds in 2013 aan die bod gekom, toe daarop gewys is dat Suid-Afrikaners oor min kwessies so volgens ras verdeel is as oor landbou, en in die besonder grond. Die opskrif was Boere (al weer) op die spit. Lees ook hier, hier (uit 2013, waar die kwessie van grondgryp sonder vergoeding reeds as faktor bygewerk is).

Tog, ten spyte daarvan dat die waarheid al telkemale via die media en andersins bekend gemaak is, groei die persentasie wit mense, bruin mense en Indiërs wat die weergawe glo dat wit mense hul grond gesteel het geleidelik danksy regeringspropaganda – ook deur skoolleerplanne ideologies eerder as feitelik met hierdie narratief te stroomlyn. Toe dr. Pieter Mulder, toe nog LP en leier van die Vryheidsfront Plus, vir die parlement ’n geskiedenisles aangebied het, is hy wyd daarvoor veroordeel, onder andere deur die destydse president, Jacob Zuma, asook swart LP’s van die DA. Selfs wit mense reageer deesdae al meer deur te vra hoe anders wit mense aan hul grondgebied gekom het. Die TLU SA het pas weer ’n verklaring uitgereik met die titel: “TLU SA ondersteun die ware geskiedenis oor grondbesit in Suid-Afrika”. Die storm wat pas oor die kop van oudpres. FW de Klerk losgebars het, toon nie net hoe diep die persepsie oor die boosheid van apartheid is nie, maar hoe belangrik dit is dat daardie persepsie sonder nuanses in stand gehou moet word. Dit gee aan die regering die vrypas om byna enige minderheidsregte en ander menseregte van wit mense (en in die geval van bruin mense eerste nasie-regte) te stroop en internasionaal daarmee weg te kom. Dit is veral goed gedemonstreer met die Konstitusionele Hof se uitsprake ten gunste van Maties se taalbeleid. In ’n artikel in Maroela Media het prof. Koos Malan die Grondwet wat dit moontlik sou maak ’n “Heilsleer-grondwet” genoem.

Deur apartheid erg genoeg as boos in die openbare oog te hou word ’n kunsmatige demper geplaas om plaasmoorde, ongeag die verskriklikste martelings waarmee dit gereeld gepaardgaan en die omvang daarvan, nie altyd te verreken nie. Die gereeldheid daarvan stomp later ook die gemeenskap af.

’n Nuwe Amerikaanse studie deur twee hoogleraars in die sielkunde toon dat die weergawe wat die minste openbare simpatie verkry meestal dié van swart mense en vroue is. Daar moet egter op gewys word dat dit ’n Amerikaanse studie is, en dat die simpatie elders in die wêreld dikwels na veral gemarginaliseerde minderheidsgroepe gaan. Die persepsie oor die booshede van apartheid verhinder egter dat so iets persepsies oor Suid-Afrika kan beïnvloed. Met hierdie persepsie in die bank het dit die ANC oortuig hulle kan met grondgryp sonder vergoeding wegkom.

Die uitlatings van die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, dat grondgryp sonder vergoeding katastrofies kan wees, asook ander soortgelyke reaksies elders moet met rede yskoue water oor die ANC se voorgenome formele menseregteskending wees. Pompeo se waarskuwing is daarom soos verwag kan word deur Kallie Kriel, hoof van AfriForum, verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Venter ·

Herman, daar kan baie, baie sterk aan gedink word dat hierdie boek van Die TLU SA, ‘The South African Land Issue’, in Afrikaans en Engels asook die video’s, by al die Afrikaanse kultuurorganisasies se persele uitgestal en op hul webwerwe adverteer word, die burgerlike organisasies soos bv Solidariteit, Kraaluitgewers, ek dink ook aan Die Voortrekker Monument en ander kultuurterreine. Dan sal dit ook wonderlik wees as hierdie materiaal in private skole se leerplanne opgeneem kan word.

Maar wat van ‘n oplewing in die Suid-Afrikaanse/Afrikaanse geskiedenis deur ‘n reeks films wat daardie tyd verromantiseer soos bv in die boeke van FA Venter oor daardie tyd, ook boeke van Karel Kielblock oor die ‘ou’ Kaap, die wat nog nie van hom gehoor het nie, gaan Google dit gerus. Ek dink aan die films oor die Amerikaanse geskiedenis wat die rolprentwêreld vir lank oorheers het. Waar is ons draaiboekskrywers en filmmakers?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.