Nuuskommentaar: Hou ‘slim’ gekke en dwase hul lywe ook ‘dom’ base?

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. Foto: Kim Ludbrook/Pool Photo via AP

Ná waarskynlik al digby “hundred and eleventy million” bewyse en getuienis (wat aan kruisondervraging onderwerp is), verskeie onthullende boeke en die Guptas in die buiteland, weet oudpres. Jacob Zuma niks van enige staatskaping nie. Dat hy nou as gewese Number One daarvan tot ondersoekende verantwoording geroep word, is glo bloot ’n sameswering teen hom. Wat gaan nog voor die Zondo-kommissie uitbroei?

Moet ’n staatspresident noodwendig slim wees? Dié vraag word nou weer aktueel met die bisarre getuienis van oudpres. Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Van die beste regeringshoofde in die geskiedenis was immers nie intellektuele reuse nie.

Omdat goeie regeringshoofde ook groot aanhang geniet, kan groot kritiek verwag word van hierdie aanhangers as hulle sien hul held word as van die minder intelligente leiers getel. Tog kan hierdie nuuskommentaar nie geskryf word sonder om ’n naam of twee te noem nie.

Seker die bekendste voorbeeld in moderne tye was pres. Ronald Reagan van die VSA. As gewese rolprentster het hy die finesse gehad wat ook van hom ’n politieke TV-ster gemaak het. Veral teen die einde van sy tweede termyn, toe die Alzheimer se siekte, wat uiteindelik sy lewe gekos het, al diep spore begin trap het, moes die president so versigtig as moontlik “bestuur word”.

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency(ANA)

Reagan se groot bate was dat hy goeie adviseurs aangestel het, en dat hy na hulle geluister het. Daar is destyds berig hoe hy, onderweg na ’n stad waar hy as spreker moes optree, homself in Air Force 1 met adviseurs omring het wat hom tydens die vlug van alle moontlike relevante inligting voorsien het. Eers heel aan die einde van die tweede termyn het verleenthede ingetree toe Reagan ná sy toespraak oor rasseonluste in die stad uitgevra is. Terug aan boord wou ’n woedende Reagan weet hoekom die adviseurs hom nie daaroor ingelig het nie. Hulle hét hom egter breedvoerig ingelig.

Suid-Afrika het ook sy voorbeeld gehad. Een president het byvoorbeeld toe ’n reeks onderhoude met politici gevoer is, aangedring dat die vrae vooraf aan hom besorg moes word. Naderhand het ’n ander minister deurgaans vir hom ingestaan. Oor wie die meer intellektuele was, kan daar nie juis twyfel wees nie – die een het advokaat geword, die ander het sy studies vir ’n BA-graad opgeskop en sy antwoordstelle word deur sy alma mater onder streng geheimhouding bewaar. In alle billikheid, hy het nie in al sy vraestelle so ellendig swak gevaar soos in sommiges nie. Ook nie lank nie was die betrokke president die slagoffer van ’n statutêre staatsgreep.

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. Foto: (AP Photo)

Maar hoe gemaak as dit by Zuma kom? Die geskiedenis leer dat ’n mens jou nie noodwendig aan iemand se akademiese kwalifikasies moet steur om te bepaal of iemand ’n goeie regeringshoof gaan wees nie.

Pres. Paul Kruger is seker die mees uitstaande voorbeeld, wat in baie kringe baie hoog as president aangeslaan word.

Zuma het ook bykans geen skoolopleiding gehad nie. Hy moes vroeg gaan beeste oppas, en het tot ’n groot mate homself geleer. Wat hy uiteindelik vermag het, dui daarop dat hy eerder slim as dom is. Hy het wel tientalle blapse, indien nie veel meer nie, gemaak wat sy gebrekkige formele opleiding verklap het. Sy “eleventy million” sal seker altyd ’n “juweeltjie” wees, en sy stelling dat Afrika die grootste vasteland is waarbinne al die ander kan inpas, het sy reputasie as nie juis ’n intellektuele reus  gestand gedoen nie. Of dit daartoe bygedra het dat hy tydens ’n Davos-beraad gevra het dat iemand anders in sy plek ’n TV-onderhoud voer (wat geweier is en ’n ander land se staatshoof het die geleentheid gekry) sal ’n mens nie weet nie.

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. Foto: (Pool Photo via AP)

Op ’n ernstiger noot – hy het skynbaar enduit nie die verskil tussen demokrasie (in algemene belang regeer) en die diktatuur van die minderheid geken nie. Selfs in sy getuienis nou voor die Zondo-kommissie het hy vir kaderontplooiing in die bresse getree. Die OG se bevindings jaar na jaar het hom skynbaar niks geleer nie.

Oor ander mistastings, soos sy stelling dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, en hom ’n rits klagtes van haatspraak by die Menseregtekommissie op die lyf laat loop het, en dat swart mense se grond hoofsaaklik tot die droër dele van die land, en onvrugbare gronde beperk is, het hy waarskynlik net inhoud aan ’n opvatting onder swart mense dat dit so is, probeer gee. Dis immers ondenkbaar dat ’n regeringshoof sulke swak adviseurs sou hê.

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. Foto: (AP Photo)

Zuma was, as hy so ver gekry sou kon word om te getuig, sou vanselfsprekend die hoofgetuie voor die Zondo-kommissie moes wees.  Sy versekering dat hy sou getuig het niks beteken nie. Neem nou maar sy eie hak-en-tak-verhoor as voorbeeld. Hy het vol selfvertroue gesê hy wil sy dag in die hof hê, maar het daarna alles in sy vermoë gedoen om op belastingbetalerskoste uit die hof te bly. En toe hy wel voor die Zondo-kommissie verskyn, was die vraag of hy wel sinvol en bruikbaar sou kon getuig, en indien hy wel sou getuig, hoe lank voor hy sy goedjies vat ek loop?

Gert Coetzee, redakteur van Volksblad, som vanoggend die president se getuienis soos volg op: “Hy weet nie. Hy onthou nie…. Sameswering op sameswering bestaan teen hom. Arme hy is ’n slagoffer van almal wat onverklaarbaar sy mes vir hom in het. En les bes, staatskaping bestaan nie.”

Dit klink mos of Afrika al weer groter is as al die ander vastelande saam.

Die gevolg is dat die Zondo-kommissie se werksaamhede vir vandag gesluit is sodat die regspanne saam kan koppe bymekaar sit oor die pad vorentoe. Die beswaar is hoofsaaklik dat Zuma onder kruisverhoor geneem word. Dit moet nog gesien word of Zuma Vrydag, die laaste dag van sy geskeduleerde verskyning, wel sal stelling inneem.

Moet die bevolking werklik glo die staatskaping het sonder ’n Number One so ’n omvang kon aanneem?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Piet ·

Zuma is ‘n intelligente man wat uiters dom dinge gesê het of nog sê. Hy het geen positiewe politieke visie nie. Kortweg. Hy moes dalk nooit president geword her nie….

Pieter ·

Stem saam pieta maar kry dit nou in die mense se kop wat vir die anc stem is maar soos in zimbabwe

Jimmy ·

Of Zuma dom is weet ek nie, maar hy is beslis onbevoeg om ‘n openbare pos te beklee. Die staatsdiens sou hom dalk as ‘n ongeskoolde arbeider aangestel het. Dis een van die redes waarom die land nou in ‘n gemors waaruit ons nie gou, indien ooit, gaan ontsnap nie.

John ·

… die kritiese tydstip toe Zuma geweier het om verder te antwoord is die antwoord. Hy is geìmpliseer en hy was in ‘n hoek. Zuma het nie sy vriendskap met die Guptas beèindig na hul arrogante oortredings nie of die nou ambassaseur gefire nie (maar bevorder) en die aanstelling van ‘n oortreder as hoofamptenaar geveto nie. Almal jok dus. Mens hoef nie ‘n genie te wees om te lieg nie. Die feit is, miljarde is weg, SOE’s is kapot, misdaad gedy en die vorige prez wil die kommissie mmm, mmm… bestuur soos ‘n tsotsi-gangleier. Ons geagte hoofregter sal moet uithaal en wys, want so dryf ons bootjie op die golwe van die Styx met Pluto aan die stuur na ‘n donker plek. Wie lag so?

Henry ·

Elke openbare optrede/gesprek wat hierdie gewese staatshoof van ‘n vernietigde staat voer, bevestig dat daar elewintie twentie redes bestaan waarom die betrokkene homself onderskei het as die grootste mislukking van alle staatshoofde in SubSaharaAfrika.

pieter ·

AS EK KYK NA SY GEVOLG WAT BUITE DIE HOF DANS DINK EK DAAR IS MIN VERSTAND ONDER HULLE. U SIEN HULLE DINK DIT IS DIE WITMAN SE GELD WAT GEMORS WORD.

Ore ·

Hoekom is ek nie verbaas nie? Hy is ‘n meester as dit by ontwykings voorkom,sou ‘n uitstekende senter wees.Laat Adv Gerrie Nel sy sake werk,hy en sy arrogante advokaat speel die kommissie soos ‘n kitaar,hulle mors tyd en geld.Die arme regter lyk skielik ook onbeholpe

Pieta ·

Hulle moet hom n poligraaftoets laat doen dan kan hul sien as hy sê hy weet nie of hy lieg of nie. Hoekom feature poligraaf toetse nooit as dit by politici kom nie?

Vat hom weg ·

Vat hom weg daar, hy mors almal se td. Hy moet hof toe.

Andreas ·

Verlore tyd sal natuurlik nie ingehaal word nie, want volgende week en daarna het hy
ander verpligtinge, volbespreek vir so 2 jaar en langer. Maar hy hét mos nou sy samewerking gegee. Ai, dis al weer die anderkant se skuld dat Zuma net nie genoeg tyd gegun word om na behore te getuig nie, hy kry net nie daai kans waarna hy so smag nie, hy wou dan so graag met die hele sak patats vorendag kom. En dan is dit nie sy skuld dat sy regsverteenwoordiger elke nou en dan ‘intjip’ nie.

Andreas ·

Zuma kan net rasioneel optree binne sy eie verwysingsraamwerk. Dus?

Gert van Wierdapark ·

Die Poligraaf sal “TILT” as JZ getoets word, soos die ou “Pinball masjiene” destyds “getilt” het as jy nie versigtig was nie!!! Kul jou hier en Kul jou daar, en siedaar, weg is die Zuptas se Albatros(se) ! He-he-he!!

Hennie ·

Dis ondenkbaar om die woord slim en Zuma in een sin te gebruik.

Andre ·

Gebruik die getuienis teen hom kla hom aan en laat ons sien of die hof na sy snert sal luister. Die ondersoeke mors net geld. Het die staat nou al die doods dreigemente ondersoek.

humor ·

n Ander toetsaparaat sal moet ontwerp word wat kan registreer as hy die slag die waarheid praat.

Adam ·

Vergeet van of Zuma slim of dom is. Hy is gewoon slinks en geslepe en moes nooit die binneklant van ‘n parlement gesien het nie.

Therese van Schalkwyk ·

Korrupsie en selfverryking uit staatsgeld gebeur nog altyd onder die ANC.
Die groot bohaai en ontsteltenis is omdat die broers Gupta tydens die Zuma-bewind óók al dieper geskep het, en nie slegs ANC-kaders nie. Korrupsie kry toe boonop ‘n naam, ‘staatskaping’.
Dis die maklike uitweg om wyd en syd te verkondig dat SA ten gronde is a.g.v. Zuma en Zuma alleen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.