Nuuskommentaar: Is ontvoering Suid-Afrika se misdaadvoorland?

(Foto: SA Polisie)

Die afgelope Woensdagoggend is ʼn 11-jarige skoolkind in Johannesburg ontvoer terwyl sy voor haar skool se ingang gewag het om vir Covid-19 ontsmet te word. Sy is voor die skool met ʼn vuurwapen gedreig en gegryp.

Hierdie tragedie speel af in die skadu van die onlangse ontvoering van die Moti-broers in Limpopo. Die seuns is drie weke na hulle ontvoering iewers langs die pad afgelaai en is veilig aan hulle familie terugbesorg. Die eerste gedagte wat ʼn mens gekry het, is dat daar ʼn losprys betaal moes word. Dit is moeilik om te glo hoe al vier seuns vir drie weke binne in die land en veilig gehou is, sonder om enige iets oor te kom.

Die Moti-gesin ontken egter dat hy ʼn losprys betaal het vir die vrylating van die vier broers – die broers is eerder gevind en vrygelaat na volgehoue ondersoek en harde werk van die polisiediens. In die media is daar bewerings dat die gesin ʼn losprys van R50 miljoen vir die vier seuns se veilige terugkoms betaal het.

ʼn LUR van Mpumalanga is ook vandeesmaand ontvoer en laat die aand weer êrens in ʼn afgeleë gebied afgelaai. Hoewel LUR’e nie belangriker is as gewone mense nie, is die ontvoering van een tog uiters noemenswaardig. LUR’e, anders as gewone burgers, geniet BBP-beskerming. Dit beteken dat hulle feitlik ten alle tye beter toegewyde beskerming het as ander mense.

Veral die gebeurtenis met die LUR herinner nogal aan die praktyk van sogenaamde kitsontvoerings. In hierdie ontvoerings word ʼn slagoffer ontvoer met ʼn losprys wat byna oombliklik geëis word nog voordat iemand die polisie kan betrek – dit behels dikwels ook dat die ontvoerders die slagoffer dwing om by ʼn kitsbank hul rekening net daar leeg te maak. Sodoende word ʼn vinnige transaksie tussen ontvoerder en ontvoerde gevoer – die slagoffer kry sy lewe mits hy die geld kan neersit om dit te koop.

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het in 2020 ʼn verslag saamgestel waarin hulle bevind dat ontvoerings in Suid-Afrika oor die afgelope dekade met 133% toegeneem het. Dit is ook toenemend die geval dat multinasionale sindikate hierby betrokke is – sodoende word ontvoering net nog ʼn georganiseerde misdaad.

Wat egter hier belangrik is om op te let, is dat die helfte van alle ontvoerings in net 9% van alle polisiestasies se jurisdiksie plaasvind. Sodoende is ontvoering ʼn groot probleem, maar is dit nie oral ewe groot van ʼn probleem nie. Soos met die meeste ander misdaadstatistieke hang jou risiko baie af van waar jy bly.

Ontvoering is dus in Suid-Afrika ʼn groterwordende en kommerwekkende probleem. Die ISS dui egter ook in hulle verslag aan dat die oorgrote meerderheid van ontvoerings wat wel tans plaasvind, nie om finansiële redes plaasvind nie. Die meeste ontvoerings vind plaas weens rooftogte, kapings of om seksuele misdrywe te pleeg en is dus deel van ʼn ander misdaad.

Hoewel dit dalk ʼn instinktiewe gevolgtrekking is, lyk dit dus nie of die meeste ontvoerings plaasvind met die doel om ʼn losprys te eis nie. Kinders is ook volgens die data minder geneig om ontvoer te word.

Die ISS se verslag opper ʼn paar belangrike feite wat ons eintlik lank reeds weet. Die eerste is dat dit saak maak waar jy bly. Die omgewing waarin jy woon en werk het ʼn direkte impak op die algehele ervaring van veiligheid wat jy het. Geen plek is uiteraard misdaadvry nie, maar ligging het ʼn wesenlike impak op jou veiligheid. Indien jy in meer misdaadvrye plekke kan konsentreer, is groter veiligheid ook jou voorland.

Die tweede is dat misdaad ʼn werklikheid is, maar dat ʼn mens nie vir ewig deur vrees gyselaar gehou kan word nie. ʼn Mens moet uiteraard bewus wees van die feit en die werklikheid, maar moet egter nie in die vrees daarvan opgesweep raak nie. Op die ou einde verlam daardie vrees net jou vermoë om jouself te beskerm. Misdaadvoorkoming begin immers by die vermoë om jouself te beskerm. Hoe weerbaarder die individu, hoe minder aanloklik van ʼn slagoffer is hulle.

Laastens verdoem die verval van die polisiediens burgers ook nie tot totale anargistiese ineenstoring nie. Suid-Afrika het per capita steeds die vierde grootste private sekerheidsbedryf in die wêreld. In 2017 was die private sekerheidsbedryf ʼn derde groter as die regering se besteding in 2016 op die polisiediens. Dit beteken dat Suid-Afrika se openbare veiligheid, wet en orde dalk op die afdraande pad is, maar die private sekerheidsbedryf het in jaarlikse besteding reeds hierdie gaping gevul.

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Ontvoering gaan waarskynlik, indien dit op die huidige trajek bly, aanhou toeneem. Indien Suid-Afrika se verval van wet en orde die trajek van ʼn plek soos Colombië of Brasilië volg, kan ontvoering met die doel om ʼn losprys te kry ook dalk toeneem soos wat dit in daardie lande het. In die laat 1990’s en vroeë 2000’s het Colombië spesifiek ʼn vlaag van ontvoerings ervaar waarin daar soos ʼn goedgeoliede sindikaat ontvoer is vir lospryse. Nigerië loop self onder dieselfde tipe vlaag deur met honderde skole wat al toegemaak is in ʼn poging om kinders veilig te hou van ontvoerings. Dit blyk nog nie Suid-Afrika se huidige werklikheid te wees nie.

Dit is egter ʼn scenario wat saam met die verval van wet en orde toenemend ʼn werklikheid kan raak. Eerder as om van die leefwêreld en samelewing te onttrek, is die beter antwoord hierop eerder om jouself, jou familie en gemeenskap so weerbaar moontlik te maak – nes ons met ander misdade ook oor die jare heen gemaak het. Suid-Afrika het ʼn ongekende groot en sterk burgerlike samelewing en private sektore te midde van groot staatsverswakking. Dit beteken dat dit juis vir Suid-Afrikaanse burgers moontlik is om die werklikhede van verval uitsonderlik goed teen te staan.

Hoe weerbaarder burgers word en hoe meer die eksterne omstandighede in die land verswak, hoe meer kreatief gaan misdadigers word om ook te oorleef. Daarom is dit belangrik om bewus te wees van hierdie omstandighede en jouself so goed moontlik daarteen bestand te maak. ʼn Mens kan egter nie vir ewig in vrees vasgevang bly weens die omstandighede nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Dit gaan vererger omdat die polisie nie hulle werk doen nie hulle weier om proaktief op te tree en die kriminele weet presies hoe pateties die polisie is en daarom buit hulle elke moontlike sitsuasie uit .

Hennie

Maklike manier om geld te maak met min risiko. Kyk maar, gaan baie toeneem.

Jannie van Niekerk

Suid Afrika is die misdaadhoofstad van die wêreld. Misdadigers word soos koninlikes hier behandel dis waarom allle misdadigers wêreldwyd SA hulle hoofkantoor maak. In watter ander land sal ‘n polisiehoof sooos een van ons vorige polisiehoofde sê “Mr X (Criminal) is my friend. Finish and klaar.”
En dan is ons huidige polisiehoof, kameraad Hoed. se karakter ook nie juis van die betroubaarste nie….

Dana

Dit is skrikwekkend. Ek laat my matriekdogter nie eens die 2 blokke alleen kafee toe stap nie. Verlede jaar was was daar in ons straat ‘n poging om ‘n jong dame wat gedraf het te ontvoer,

Sarel

Nie ons Voorland nie ..reeds hier