Nuuskommentaar: Kan Suid-Afrika sonder ras oorleef?

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto

Die afgelope week het Suid-Afrika vir die eerste keer in ʼn lang tyd weer ʼn beweerde rasvoorval wat die nuussiklus volledig oorneem. Dit is juis die wyse waarop dit in die media hanteer word waarby ʼn mens moet stilstaan.

ʼn Video het die afgelope naweek soos ʼn veldbrand op sosiale media verskyn van ʼn Matie-student wat op ʼn medestudent se lessenaar urineer 04:00 die oggend met die oortredende student wat na bewering ook baie dronk was. Indien ʼn mens vir ʼn oomblik hierby stilstaan, klink dit net soos ʼn uitsonderlik teleurstellende, dom studentevoorval. Iets afskuweliks, maar wat ongelukkig weens ʼn dikwels fatalistiese drinkkultuur heel moontlik nie só buite die norm is nie.

Dit is egter nié die heersende storie in die media nie – onaanvaarbare studentesnert wat as sodanig hanteer kan word. Die oortreder was in die geval wit en die slagoffer swart – ongeag enige ander feite óf die afwesigheid daarvan, is hierdie nou ʼn rasvoorval. Mense staan in afgryse voor hierdie “blatant rassistiese” daad. Rassisme peul nou by al die krake in die samelewing uit met nóg ʼn rasvoorval wat te midde hiervan by Maties ondersoek gaan word.

Dit is op hierdie punt belangrik dat daar nog geen noemenswaardige bewyse bestaan dat dit wel ʼn rasgebaseerde wandaad was nie. Indien dit wel bewys word ʼn rasgebaseerde voorval te wees, moet dit uiteraard met die nodige afkeuring bejeën word. Leë en misplaaste aanklagtes van rassisme behoort net so verwerp te word deur die samelewing as rassisme self.

Die somtotaal van “bewyse” dat dit ʼn rasvoorval is, is soos volg: Die slagoffer het, toe hy besef wat besig is om te gebeur, ʼn video begin neem. In die video vra hy herhaaldelik vir die oortredende student waarmee hy besig is – die mompel onverstaanbaar in sy dronkenskap. Na die student die video-opname eindig, sê die oortreder na bewering dat dit “ʼn witmens ding” is. Die slagoffer interpreteer dié as “dit is wat wit seuns aan swart seuns doen”. Hierdie interpretasie word soos die evangelie verkondig en nou ook so geglo.

Sodoende leef ons absoluut in die werklikheid waarteen Tim du Plessis byna profeties in Sondag se Rapport waarsku. Hy waarsku teen die glibberige glybaan na barbarisme as enige mens die status van rassis kan kry bloot omdat ongetoetste aantygings teen hul gemaak word en almal dit as die waarheid aanvaar.

Die raad vir hoër onderwys sê ook dat die bedoeling van die student duidelik was om die ander te verneder – ook om sy wettige reg om by die universiteit te studeer, te bevraagteken! Selfs die wit studente en personeellede is deur die SR-voorsitter gekasty oor hulle nie genoegsame eienaarskap van die voorval wil neem nie – slegs die aanvaarding van kollektiewe skuld is genoeg.

Selfs al sou dit aan die lig kom dat dit nie ʼn rasgebaseerde voorval was nie, is hierdie oortredende student se lewe reeds deur “verhoor deur die media” verwoes. Netwerk24 berig ook in ʼn onnodig sensasionele opskrif “Kyk: Wit US-student urineer op swart student se lessenaar”. Ras word van die begin af ingesleep, sonder enige bewyse dat ras feitlik relevant is. News24 berig ook oneerlikerwys “Stellenbosch University student allegedly verbally abused at event days before urine incident” – die berig laat dit volledig misleidend lyk asof die student op wie se besitting geürineer is, dae voor die tyd verbaal mishandel is.

Is Suid-Afrika regtig so getraumatiseer deur ons verlede dat ons niks anders as ras kán raaksien nie? Is dit nie vir ons moontlik om buite hierdie rasparadigma na normaler persoonlike verhoudinge die toekoms in te beweeg nie? Ook normaler negatiewe interaksies wat nie outomaties gekenmerk word deur die aardsonde van rassisme nie, maar deur die blote vervallenheid van menswees. Max du Preez skryf verlede week in die Vryeweekblad ook oor die rasbril wat ons samelewing nie wíl afhaal nie. Ons dring byna daarop aan om verskille en verskynsels deur ras en rassisme te verklaar, veral daar waar dit nie aandadig is nie.

In apartheid het die verdeling van mense op grond van ras sentraal in ons samelewing gestaan. Dit was die een ding wat ons enersyds verdeel het, maar die samelewing andersyds ook negatiewerwys aanmekaar gehou het. In Suid-Afrika vandag blyk hierdie op ʼn manier dieselfde te wees. Die idee van Suid-Afrika vandag is so verknog aan rasklassifikasie dat dit byna onbestaanbaar daarsonder is. Suid-Afrika vandag word fundamenteel verstaan deur en bedryf op grond van ras – vir die elite en regering.

Indien die raselement verwyder word, bestaan daar groot vrae oor die lewensvatbaarheid van die huidige bedelingsvorm as oplossing vir ons grondvlakwerklikhede. Hoewel negatief, is die oorkoepelende rasseklassifikasie minstens iets wat almal in dié bedeling van eenheidstaat aanmekaar, die rasgebaseerde verlede en die beweerde nie-rassige toekoms bind. ʼn Daadwerklike wegbeweeg van ras in die regering en idee-elite hou ʼn wesenlike bedreiging vir die bedeling en hul rol daarin in – dit is iets wat hulle nie noodwendig bereid is om te duld nie.

Dit is waarom die kommentariaat soos op News24 en die regering byna desperaat na enige iets gryp wat net soos ʼn rasvoorval lyk. Alhoewel dit negatief is, ondersteun dit minstens nog die gedagte dat rassisme voortleef. Indien dit voortleef, moet dit op morele en institusionele vlak uitgewoed word – wie beter om die rol te vervul as die regering en die elite?

Dit is waarom Suid-Afrika op institusionele en bedelingsvlak daarop aandring om vas te haak by die een mees niksseggende ding op aarde – ras. Dit is egter nie die geval op grondvlak nie. Op grondvlak (1) leef mense kultuur en (2) kom verskillende kultuurgroepe relatief goed oor die weg. Op bedeling- en institusionele vlak word mense egter steeds met rasseklassifikasie geteister ten spyte van die alledaagse niksseggendheid daarvan.

Vir die regering en die elite is dit ook makliker so. Europa leer ons dat dit uitsonderlike intellektuele inspanning verg om lewensvatbare en goeie oplossings vir kultureel‑gefragmenteerde samelewings te kry. So ook is dit byna onmoontlik om mag en moraliteit te sentraliseer as kultuurgroepe selfseggenskap geniet. Die grysnuanse van kultuur is veel moeiliker as die letterlike swart-en-wit-wêreld soos verstaan deur die rasbril.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Marius ·

Ek het nog nooit veel gedink van die regering se skoothondjie, news 24 nie. Die regering wat rassisme moet verminder en vreedsame bestaan moet verseker tussen die verskillende rasse en stamme het klaaglik misluk. Die regering en baie vd patye is self skuldig daaraan dat hul openlik rassisme en rasse haat aanblaas en bevorder.

Nie Verbaas ·

Met ons geagte Gucci Malema wat nog nie n dag in sy lewe gewerk het nie aan die voorpunt.

Blikkies ·

Dankie Monica, Uitstekend uiteengesit. Dit was beslis ook een van die eerste punte wat ek raak gelees het. Die verknogtheid oor die afgryslike typerk van Apartheid voor 1994. Met die huidige en onvoorsiene toekomstige leiers in die land is my mening dat dit nog baie baie lank gaan vat en ‘n paar generasies verder dalk kan normaliseer. Beslis nie in my leeftyd nie.

Herman L ·

Sensasie wat meer koerante verkoop, is belangriker as die waarheid!

Henry ·

As die voorval anders om was sou dit nie eers genoem gewees het nie.

Annie Webb ·

Ek stuur dié artikel wyd en syd aan. Absoluut intelligente, deurdagte opsomming van die enigste en grootste probleem in ons droewe land. Welgedaan, Monica Mynhardt!

N ·

Die vraag is egter of kan daar met ons saam geleef word sonder om altyd apartheid as verskoning te gebruik. Hoe leef ons as gelykes saam as daar kwotas en BEE stelsels in plek is. Vergelyk appels met appels as dit by misdaad kom. Die meerderheid onderdruk die minderheid maar ons moet net ‘ja en amen’.

Nie Verbaas ·

Goed gestel. Verskil is dat hulle dit nie kan aanvaar dat sommige van ons nie net ja en amen nie.

Jacobus ·

Dit is die enigste manier hoe die ANC in beheer probeer bly, onderdruk en verneder die wittes. Die ANC is vinnig as hulle die wet oortree, wat die norm in hierdie land is, en uitgevang word dat hulle apartheid daarvoor blameer.

Heinrich ·

Suid-Afrika sal nooit anders word nie. Om te verdeel en die verlede lewendig te hou is wat die regerende party lewendig hou. Met AA en BBEEE word dit lewendig gehou. Deur die president wat slegs aan een groep mense noodfondse gee in ‘n ramp word dit lewendig gehou.

Nettie ·

Dis gevalle soos hierdie waarmee die Regering en linkse groepe en Media vir hulself ‘n lekker groot lat pluk. Ek is jammer vir die betrokkenes, maar hierdie gevalle is nodig sodat mense kan begin SIEN waarmee die linkse Media en regering besig is. Dankie Monica, vir die uitlig van hierdie kwessie.

Johanna ·

Rassisme word aan die lewe gehou deur Politici..wat dit misbruik vir party politieke gewin.
Dit is uiters verwarrend dat jy een oomblik nie na ras kan verwys nie, maar die volgende oomblik moet jy jou ras invul op n aansoek vorm. Ramaphosa sal ook in toesprake praat van “our people” bedoelende die Xhosas of Zoeloes wat beslis nie vir my as blanke insluit nie.
Wys julle is ernstig oor demokrasie en verwyder Enige vorm van RAS.
DIE EEN OOMBLIK.IS KLEURLING MENSE BRUIN EN DIE vLG OOMBLIK WORD JY aangekla ..
Ongelukkig is ons nou in kleure ingedeel.en dit word vir politieke gewin misbruik. Rassisme word aangeblaas en.in werklikheid bly ons saam sonder teveel issues.

Harley Davidson ·

Dit was nie ‘n rasse voorval gewees nie die media blaas dit op vir sensasie maar as hulle so ras gesteld is hoekom nie die ras van die aanvallers noem wat die boere aanval en martel op hulle plase nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.