Nuuskommentaar: Misdaad is buite beheer (binne sekere gebiede)  

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

Polisieminister Bheki Cele het Vrydag die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke bekendgemaak. Die grootprentjie gevolgtrekking is uiteraard dat die stand van misdaad in Suid-Afrika nie goed is nie. Die moordsyfer is die hoogste in vyf jaar en geweld teen vroue en kinders is feitlik buite beheer.

Opposisiepartye het ook in reaksie op die aankondiging verduidelik hoe Suid-Afrika nie ʼn veilige plek vir vroue en kinders is nie. Dit word vererger deur ʼn grootliks ondoeltreffende en onbevoegde polisiediens. Die polisiediens is op die keper beskou eenvoudig nie meer bevoeg om misdaad op enige noemenswaardige wyse te bekamp of voorkom nie.

Wanneer ʼn mens praat oor misdaadstatistieke is die kollektiewe sentiment gewoonlik dat misdaad totaal en al buite beheer is. Dit is natuurlik moeilik om na die nasionale misdaadstatistieke te kyk en nie tot daardie gevolgtrekking te kom nie. Dit is veral met misdaadstatistieke egter belangrik om ook perspektief te behou. Suid-Afrika is ʼn enorme land in terme van grondgebied sowel as bevolkingsgetalle. Alle nasionale tendense is dus nie altyd aanduidend van die grondvlakwerklikheid in elke gebied nie.

Dit is belangrik om nie naïef te wees oor die land waarin ʼn mens bly nie. Dit is egter net so belangrik om ook perspektief te hou oor eie alledaagse konteks en werklikhede. Een van die belangrikste bepalers van misdaadvoorkoms is die gebied en gemeenskap waarin jy bly.

Hierdie werklikheid is makliker te bespeur op metropolitaanse vlak waar een metro meerdere polisiestasies het. Die Instituut vir Sekerheidstudies se “Crime Hub” toon in ʼn interaktiewe kaart voorkoms van verskillende misdade in verskillende jurisdiksies.

In die Kaapse metro is Durbanville en Kraaifontein reg langs mekaar geleë. In 2021 het Durbanville ʼn totaal van 526 kontakmisdade gerapporteer. Kraaifontein het 2 661 kontakmisdade gerapporteer. Hoewel 526 kontakmisdade uiteraard nie min is nie, is dit steeds vyf keer minder as dié van Kraaifontein. So ook het die Pretoriase Moot in dieselfde jaar net 178 kontakmisdade gerapporteer en Villieria 371 kontakmisdade. Sunnyside het vergeleke 1 528 kontakmisdade gerapporteer en Mamelodi-Oos 2 720. In Johannesburg het Fairland 139 kontakmisdade in dieselfde jaar gerapporteer vergeleke met Hillbrow se 3 039 – byna 22 keer meer.

Sodoende is misdaad buite beheer, maar besonder areagebonde. Die tragiese feit van die saak is dat die polisie redelik deur die bank misluk. Sodoende is polisieteenwoordigheid, ten spyte van goeie polisielede steeds in diens, oor die land heen redelik ewe sleg. Die uitsondering is dus nie die onveilige gebiede nie, maar juis die veilige gebiede.

In reaksie op ʼn verbrokkelende polisiediens en gepaardgaande verbrokkelende openbare veiligheid het mense die natuurlike roete van privatisering gevolg. Dieselfde roete is sedert 1994 ook gevolg wanneer dit kom by gesondheidsorg. Diegene wat dit kan bekostig om te kies, kies doodeenvoudig beter privaatdienste. Die privaatsekuriteitsbedryf verdwerg nou al in getalle per kapita, en dikwels ook doeltreffendheid, die polisiediens.

Daar is nou reeds meer as 2,3 miljoen geregistreerde privaatsekuriteitsbeamptes en meer as 9 500 geregistreerde privaatsekuriteitsmaatskappye in die land. Suid-Afrika het per kapita ook een van die grootste privaatsekuriteitsbedrywe in die wêreld. Dit is niks anders nie as ʼn direkte gevolg van die verval van openbare orde weens die verval van die polisiediens. Mense het dus hul veiligheid begin uitkontrakteer aan privaatsekuriteit.

ʼn Verdere vorm van privatisering het ook begin insluit die grootskaalse skep van veiligheidsgebiede in die vorm van sekuriteitslandgoedere, gholflandgoedere, eko-landgoedere, komplekse en omheinde areas. Toegangsbeheer tot mense se huise is opgeskerp deur klein eilande van veiligheid in hul gemeenskappe te skep. In 2019 was daar reeds ʼn geskatte 8 602 geslote gemeenskap- en landgoedontwikkelings ter waarde van meer as R1 biljoen.

Hierdie geslote gemeenskappe is geneig om ook veiliger te wees, omdat toegangsbeheer daartoe strenger is. Sodoende is jou huis nie meer alleenstaande nie, maar omring en versterk deur ander huishoudings waarmee jy ʼn veiligheidsoogmerk deel en onderhou.

Hierdie tipe eiendomme is natuurlik ook geneig om duurder te wees weens die veiligheidsvoordeel. Dit is ook een van die grootste punte van kritiek teen die werklikheid dat ongelooflike veiligheid in Suid-Afrika wel gekoop kan word – nie almal kan dit bekostig nie.

Dit is waar die broodnodige samewerking tussen privaatsektor en gemeenskap ook na vore tree. Almal kan dit dalk nie bekostig om in ʼn sekuriteitsgebied of -landgoed te woon nie. Feitlik almal kan egter hul tyd en kapasiteit afstaan aan gemeenskapsveiligheid. Dit is waar die samewerking van buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums ongelooflik belangrik is in die demokratisering van veiligheid. Sigbare polisiëring bly een van die grootste afweerfaktore van misdaad. Dit is presies wat goedgeorganiseerde gemeenskappe deur buurtwagte en veiligheidsforums regkry.

In antwoord op ʼn onlangse parlementêre vraag is bevestig dat die Wes-Kaap ʼn toename van 277% in buurtwaglede oor die afgelope vyf boekjare ervaar het. Daar is tans altesaam 490 buurtwagte net in dié provinsie met 15 432 buurtwaglede.

Oor die afgelope dekade het die aantal polisielede op grondvlak en op stasievlak noemenswaardig afgeneem. Dit het uiteraard ʼn impak op die polisie se vermoë om openbare orde suksesvol op grondvlak te handhaaf. Die Wes-Kaap het tans ʼn tekort van 11 250 polisielede op grondvlak. Hierdie is die aantal polisielede wat bykomend nodig is om die ideale menslike hulpbronvraag te bevredig. Dit is feitlik presies die huidige grootte van buurtwaglede in die provinsie!

Niemand is onder die wanindruk dat dit uitstekend met die land gaan nie. Dit is altyd egter ook belangrik om perspektief te hou oor die wyses waarop dit wáár presies hóé sleg gaan. Sonder om naïef te wees, natuurlik. Openbare orde soos afhanklik van die polisie het inderdaad totaal en al verval. Siende dat hierdie verval egter oor ʼn lang tydperk plaasgevind het, het die privaat- en gemeenskapsektor mettertyd alternatiewe oplossings in dié gapings uitgebou.

Dit beteken dat jou veiligheid nie uitsluitlik afhang van die onvermoënde polisie nie, maar gelukkig ook van jou gemeenskap en toegang tot privaathulpbronne. Veral gemeenskappe wat saamspan en goed georganiseerde oplossings uitbou, skep vir hulself veilige eilande. Een veilige eiland langs ʼn ander skep uiteindelik ʼn veilige gebied. Dit is moontlik om deur kumulatiewe gemeenskapsweerbaarheid en -selfstandigheid regeringsverval en die gevolge daarvan teen te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Oosieoos ·

Nugter weet of verstaan hoekom Cele nognie gefire is nie. Totaal onbevoeg want misdaad het totaal en al beite beheer geraak in sy tyd. Cele must fall

Leoni ·

Daar is reeds soveel misdaad, dan wil die ANC nog die nuwe wetgewing inbring, dat jy nie jouself kan verdedig as jy in jou erf aangeval word nie, jy moet die polisie bel en vir hulle wag!! Wat n grap!!

George ·

Defend jouself en family, raak ontslae en bel nie die polisie nie.

Anonymouse ·

Hierdie is so waar: “Dit is ook een van die grootste punte van kritiek teen die werklikheid dat ongelooflike veiligheid in Suid-Afrika wel gekoop kan word – nie almal kan dit bekostig nie.”

En terwyl ek ook dink dat Bheki Cele heeltemal onbevoegd is, is ek ook nie oortuig dat wie hom ookal vervang die situasie merkwaardig sal kan vebeter nie. Die ‘job’ is te groot om op een persoon se skouers te plaas (en veral nie Cele s’n nie). Misdaad in die land is soos ‘n groot sinkgat wat net groter en groter word, en ek dink nie die slimste minister van polisie sal dit kan omkeer nie. Daar gaan na ander oplossings gesoek moet word, Wat en waar weet ek nie.

Anna-marie ·

Die waarheid is, daar is geen oplossing nie. Die wat kan, moet die land verlaat.

George ·

“binne sekere gebiede” – jy bedoel seker binne die land se grense.

Papsak ·

Fire vir Cele hulle is almal hele mag onbevoeg om hierdie land te beskerm wat soek hulle nog in polisiemag onder hulle neem alles net toe en toe pateties

Snowball ·

SA is ‘n misdaadhool. As jy nie derduisende aan sekuriteit bestee nie, is dit net ‘n kwessie van tyd voor jy deel van die misdaadstatistieke word. Nie eers sekuriteitskomplekse blyk 100% veilig te wees nie, so ten spyte van maatreëls word mense steeds slagoffers. Wanneer jy ‘n deel van jou beskikbare inkomste moet begroot vir sekuriteit vir jou en jou familie omdat die polisie nie hulle werk doen nie, is misdaad buite beheer, maak nie saak in watter area jy bly, met watter buurtwag wat snags die polisie se jobs vir hulle doen nie.

Kokerboom ·

Dit gebeur as ‘n land se President totaal afwesig is en hom met beuselagtighede ophou

Daniel ·

Ons almal weet misdaat is buite beheer dis al so van 1994 af

Nettie ·

En dis hoekom duisende na hierdie “veiliger” (en gewoonlik netjieser) areas gelok word. En sodra hulle daar is, val die plek uitmekaar en neem misdaad toe. Dan vlug die wat die vermoe het weer na ‘n ander “veiliger” area. Hulle word gevolg deur die derduisende ander, en so gaan die siklus net voort. Nie slegs in ons land nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.