‘Moordsyfer hoogste in vyf jaar’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Verskeie organisasies en politieke partye het hul skok uitgespreek oor die hoë moordsyfer, wat as die hoogste die afgelope vyf jaar in Suid-Afrika beskou word.

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag tydens die bekendmaking van die land se jongste kwartaallikse misdaadstatistieke bevestig dat altesaam 6 424 moorde tussen April en Junie vanjaar gepleeg is. Dit is ’n 11,5% toename in moorde in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Gillion Bosman, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, meen die stygende moordsyfer dui op die dringende behoefte dat polisiëring na bekwame, subnasionale regerings afgewentel moet word.

“Hierdie statistieke beklemtoon die polisie se absolute mislukking omdat hulle nie die kapasiteit of hulpbronne het om misdaad doeltreffend te bekamp nie,” sê Bosman.

Die Stad Kaapstad het die afname in moorde in dele van die provinsie wat die meeste onder misdaad gebuk gaan, verwelkom. Hy meen dit is te danke aan die daadwerklike ingryping van die provinsie se veiligheidsplan, Leap.

“Dit is ʼn positiewe bewys dat die model van meer polisiëringsmagte op provinsiale en plaaslike vlak werk,” het Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en Geordin Hill-Lewis, Kaapstadse burgemeester, gesê.

Luidens die statistieke is daar ʼn afname in moorde in die 30 polisiestasies met die meeste aangemelde moorde. Meeste van hierdie stasies is in ʼn Leap-ontplooiingsgebied:

Mitchells Plain: -42,9%
Kraaifontein: -16,4%
Khayelitsha: -14,3%
Harare: -13,8%

Die stad het Cele gevra om die plaaslike metropolisie en wetstoepassers ten volle te bemagtig met volle misdaadbekamping en ondersoekbevoegdhede.

Bobby Stevenson, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Oos-Kaap, sê die statistieke skets ʼn donker prentjie van toenemende misdaad in die Oos-Kaap.

Luidens die statistieke het die Oos-Kaap die hoogste moordsyfer van al die provinsies, met 18 moorde per 100 000 mense.

“Altesaam 1 200 moorde is tussen April en Junie in die provinsie aangeteken, vergeleke met 1 020 wat vir dieselfde tydperk verlede jaar aangemeld is. Dit is ʼn toename van meer as 17%,” volgens die statistieke.

Ondanks die skrikwekkende styging in die moordsyfer was daar ook ʼn aansienlike toename in eiendomsverwante misdade.

“Huisbrake (huisroof) en inbrake, tesame met inbraak en diefstal van voertuie, stuur skokgolwe deur gemeenskappe. ʼn Persoon se huis is nie meer ʼn toevlugsoord nie,” sê Stevenson.

“Ons benodig hoësigbaarheidspatrollies wat inwoners sal verseker dat die polisie op hul pos is en die misdadigers op afstand sal hou.”

Stevenson sê dit is ook broodnodig vir die provinsie se sekuriteit om te verseker dat polisiestasies voldoende hulpbronne het.

“Ons kan nie voortdurend probleme hê met noodinbelsentrums of polisiestasies wat nie op nood kan reageer nie omdat hulle geen voertuie het nie.”

Die VF Plus sê die afname in plaasmoorde is ʼn bewys dat landelike gemeenskappe self al hoe meer beveiliging toepas. Volgens die statistieke is tien plaasmoorde aangemeld, teenoor 14 verlede jaar.

Die party het wel sy misnoeë uitgespreek dat die minister nie die aantal plaasaanvalle ook aangedui het nie. Hy beoog om dit in die parlement se portefeuljekomitee vir polisie op te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Menseregte sluit mos die reg in om jouself te laat geld waar en wanneer dit jóú pas. Geen vrees vir die gereg bestaan meer nie. Die afkraak van die polisie veroorsaak minagting en die verontagsaming van wette. Ons polisie word mettertyd totaal ontmagtig. Hul daag nou saam met die lykswaens op. Boewe geniet die situasie. Dit gaan eskaleer. Groot rampspoed wag. Dit is nie die polisie wat mense tot inkeer moet bring nie, ouerhuise, kerke, skole en die breër gemeenskap moet dit aanvoor. Die gereg is bloot ‘n spieëlbeeld van die geestestoestand van ‘n land se mense wat dit moet dien. Kyk, so lyk ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.