Nuuskommentaar: Ons kultuursagteware sal Eskom-hardeware weer vervang

(Argieffoto: GCIS)

Die afgelope week het Solidariteit die kollig geplaas op die enorme kragkrisis waarin die land tans verkeer. Solidariteit het egter ook aangekondig hoe hierdie kragkrisis moontlik opgelos kan word. Gegewe die dreigende omvang van hierdie krisis is ʼn moontlike werkbare oplossing tot ons probleme geensins meer ʼn luuksheid nie.

In 1998 reeds het die destydse departement van minerale en energiehulpbronne in ʼn verslag gewaarsku oor ʼn moontlike energietekort wat van 2007 af kon begin kop uitstee (uiteindelik ook die aanvangsjaar van beurtkrag.) Die departement het destyds reeds aanbeveel dat groter privaatbelegging in die bedryf moontlik gemaak moet word. Met geen dreigende krisis voor oë het die regering natuurlik niks hieraan gedoen nie.

Die regering beskik vandag ook nog oor volmag om beurkrag môre op te los deur privaatsektorrompslomp te verwyder, maar hy stel nie daarin belang nie. Dit beteken egter nie dat daar geen statutêre ruimte vir privaatoplossings is nie. Solidariteit moedig juis veral die privaatsektor aan om die bestaande statutêre ruimtes wel volledig te benut. Enige moontlike geleentheid vir die privaatsektor en burgerlike samelewing om die krisis te help oplos móét aangegryp word.

Die feit van die saak is dat Eskom waarskynlik onherroeplik wanbestuur en geplunder is. Dit wat eens op ʼn tyd ʼn bedryfsreus was, is nou ʼn vervalle finansiële las op burgers se skouers.

In Desember van 2001 is Eskom gekroon as die beste globale energiemaatskappy van die jaar. In daardie tyd het Eskom ook die wêreld se goedkoopste krag aan verbruikers verskaf. Terselfdertyd het Eskom ook uitnemende tegnologiese innovasie getoon wat hierdie uitstekende kwaliteit teen lae koste kon lewer.

Op daardie stadium het Eskom meer as die helfte van Afrika se krag opgewek. Eskom kon volledig byhou met ekonomiese en staatsontwikkeling. Eskom se status as energiereus was toe te skryf aan die kombinasie van institusionele uitnemendheid gegrond op vooruitskouende en vooruitstrewende kulturele waardes asook interne kundigheid. Die suksesvolle hardeware van Eskom, dit is uitstekende infrastruktuurverskaffing, het voortgevloei uit die regte sagteware – nie andersom nie. Kultuur bly een van die voorste aanduiders van gemeenskappe se sukses regdeur die menslike geskiedenis. Die oomblik wanneer die suksesbepalende sagteware uit ʼn instelling onttrek word, sal dit hardeware gevolglik noodwendig begin misluk en verval.

Terugskouend was hierdie ongelooflike toekenning daarom net ʼn elegie aan Eskom. Dr. Dirk Hermann, wat sy doktorsgraad asook twee boeke oor regstellende aksie geskryf het, ontleed in 2015 reeds die donker kant van regstellende aksie by Eskom. Die 1998 is die ANC se ingrypende rassewetgewing aanvaar wat rasseteikens vir die openbare en privaatsektor daargestel het.

Die voorste prioriteit van Eskom was op daardie stadium om die maatskappy te transformeer. Dit het behels om so vinnig as moontlik soveel as moontlik wit kundiges uit te kry en met swart werknemers te vervang. Die rassetransformasie het sonder twyfel voorrang geniet bo die geleidelike oordrag van kundigheid en kennis van die vorige werksmag. Soos Hermann dit beskryf, het hulle blindelings obsessief getransformeer. Meer as R800 miljoen (vandag ʼn ekwivalent van R1,8 miljard) is op daardie stadium aan meestal wit, ouer manlike werknemers uitbetaal in sogenaamde space creation packages. Sowat 10 200 werknemers moes Eskom tussen 1994 en 2002 verlaat.

Die 2001-elegie was daarom vir ʼn maatskappy wat onder die oppervlak reeds grootliks van hul institusionele kennis ontslae geraak het. Dit het ook niks met ras te doen nie. Wit kundiges is so vinnig moontlik uit Eskom gedruk met rassetransformasie wat voorrang geniet bo kennisoordrag.

In nog ʼn poging om die kragkrisis te help oplos het Solidariteit ook in 2019 aan Eskom ʼn kennisbank van kundiges oorhandig. Honderde opgeleide ingenieurs, ambagslui en kundiges wat voorheen by Eskom werksaam was, het hulle hande opgesteek om die kragreus te help red. (Talle van hierdie werknemers waarskynlik ook wesende diegene wat weens ongenaakbare transformasie uit Eskom gedryf is.)

Hierdie kennisbank het getoon dieselfde kundigheid wat Eskom eens op ʼn tyd ʼn kragreus gemaak het, is steeds hier en gewillig om ons kragkrisis te probeer oplos. Dit beteken dat ons iewers in die privaatsektor steeds oor wêreldklaskundigheid beskik wat tans weens ʼn kragmonopolie grootliks onbenut gelaat word betreffend die kragkrisis.

Met ʼn grootskaalse uitvloei van kundigheid en verandering van institusionele kultuur het Eskom begin steier – afgesien van die uitstekende infrastruktuur wat agtergebly het. Die kundiges wat wel nog oor is, word lamgelê deur groter institusionele wanfunksionering. Dit is juis hierdie institusionele kundigheid en kultuur wat aan die kern van sukses staan. Flip Buys skryf gereeld oor die skatkis van kulturele waardes wat ons geërf het en vandag steeds in sukses kan omskep. Waardes soos hardwerkendheid, ʼn kultuur van uitnemendheid, verantwoordbaarheid en selfverantwoordelikheid is die kulturele sagteware wat uiteindelik sukses bewerkstellig.

Sodoende kan ʼn mens maar treur oor die ineenstorting van die tasbare infrastruktuur en hardeware van Eskom. Dit is ʼn ongelooflike verlies aan potensiaal en vooruitgang wat die regering in blindelingse ideologiese strewinge, magshonger en geldgierigheid verspeel het. Ter wille van die oorlewing van die land gaan ʼn mens egter verby hierdie verlies moet beweeg. Die punt is juis dat ons steeds dit het wat Eskom ook eens op ʼn tyd ʼn nywerheidsreus gemaak het. Die hardeware van iets soos Eskom vloei eerstens uit die sagteware van kultuur en kundigheid.

Ons gaan waarskynlik nooit weer ʼn stabiele nasionale kragnetwerk sien nie – Eskom kan dit bloot nie bied nie. In die leemtes van verval is daar egter die geleentheid om alternatiewe op te rig. Sukses gaan toenemend ʼn skaars hulpbron in Suid-Afrika se ekonomie word. Diegene wat suksesvol privaatkrag kan opwek, ongeag die skaal, gaan van onskatbare waarde word. Dit sal om die beurt weer beter ekonomiese vooruitsigte daarstel. Belegging sal volg met ʼn meer stabiele ekonomie wat daadwerklik moontlik is – ondanks die regering.

Eens op ʼn tyd was die bou van ʼn privaatkollege ʼn lugkasteel. Nou pronk Sol-Tech as tasbare baken van hoop en monument van gemeenskapskrag. Dit is dalk nie moontlik om die kragkrisis sommer so vir die ganse land op te los nie. Dit is egter moontlik om te midde en ten spyte van regeringsverval vooruitstrewend te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Henry ·

Hoe gouer hulle eskom privatiseer hoe gouer sal dit beter gaan.

krodedil ·

Eskom gaan in 3 maatskappy “opsplit”. As elke maatskappy 10% verhoging gaan vra is dit 30%. Ons vuisvoos gebruikers kan nie 30% kragverhogings bekostig nie op een slag bekostig nie. Tans is SA se kragpryse ongeveer 55% van werkmarkte. As Eskom privatiseer gaan kragpryse na wereld markpryse oornag aangepas word. Goeie denke is nodig.

krodedil ·

Al wat Solidariteit en sekere “Mense” wat hulself belangrik ag kan doen is praat en nogmaals praat. Almal het oornag ‘n oplossing vir Eskom se probleme gevind. Al wat hulle nie noem nie is die finansiele implikasies of bydrae om hulle waterdigte plannetjies oor te stakel na aksie. Nee wat praat en plannetjies kom maklik veral om ‘n bar op ‘n Vrydag middag.

domheks ·

Ramaparra sal sekerlik ‘n KOMMITTEE aanstel om te ondersoek – al is dit in die donker.

Wielspore ·

Ons is ‘n IPP en tot onlangs toe het NERSA vir ESKOM beskerm om alle IPP’s te beperk met die hoeveelheid krag wat jy in die grid mag sit. Die gevolg is dat groot kragopwekking projekte gestaak is en slegs Generators wat minder as 35MW ontwikkel in gebruik geneem mag word. Ons het ‘n omgewingsvriendelike eenheid met hernubare brandstof in bedryf gestel wat 27MW ontwikkel en ‘n dorp soos Nelspruit en omliggende gebiede van krag kan voorsien. Dit is in drie jaar suksesvol voltooi.

krodedil ·

Wielspore jy het vergeet om te noem dat Eskom R2.74 per kWH betaal aan IPP’s wat hy vir slegs 93c kan verkoop. Meeste van hierdie IPP krag gelde gaan direk na die buiteland.

Swerwer ·

Ons is regtig trots dat ons ouers en groot ouers met mede landsburgers ‘n groot sukses behaal het met die bou en bestuur van Eskom sodat die hele land daaruit voordeel kon trek en dit is uiters hartseer dat die “kultuur” van die kommunis Eskom/ons land in minder as 30 jaar tot bankrotskap gebriing het oor hul kortsigtigheid.

My siening ·

Die ANC NARRE kan hulself nie oplos nie want hulle kry nie loadshedding nie en is rug ryers!

annie ·

Mmmm…. Eskom se verval het fisies sigbaar geword met die uitdeel van gloeilampies der miljoene verskaf deur ….? En die Oosterse baas wat meer belang gestel het om plastieksakke aan bande te lê… dié dat ons al soveel miljarde aan plastieksakkies bestee het vir die regering se sak. Die man het glo ‘n toekenning gekry vir sy plastieksak-flinkdink in plaas daarvan van om kragstasies te herstel. Groot planne vir groot agteruitboer. Hoeveel miljoene is al aan die vorige Eskombase se aftree-pakette spandeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.