Nuuskommentaar: Petrol op die vuur van ʼn ekonomiese ramp

(Foto: Maroela Media)

Om middernag styg die petrol- en dieselpryse met tussen R2,30 en R2,60. Sodoende gaan Suid-Afrikaanse verbruikers nou naby aan R30 per liter vir brandstof betaal. Hierdie is ʼn skok wat verbruikers moeilik kan absorbeer met inflasie wat net nog hoër as gevolg hiervan sal wees.

Prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witswatersrand sit onlangs in ʼn artikel uiteen wat presies agter hierdie verhoging in brandstofpryse skuil. Aan die kern van die huidige styging is hoë internasionale oliepryse aangedryf deur die voortslepende oorlog tussen Rusland en Oekraïne.

Dit het natuurlik daartoe gelei dat die ganse Europa ook byvoorbeeld gebuk gaan onder onbekostigbare pryse. Talle lande betaal inteendeel veel meer as Suid-Afrika tans vir ʼn liter brandstof. In Junie het Denemarke R43 betaal vir ʼn liter petrol, Italië R34 en Duitsland R33. Hierdie lande ervaar dus dieselfde uitdagings van vraag en aanbod soos versteur deur die oorlog.

Joseph Borrel, ondervoorsitter van die Europese Kommissie, beskryf ook hoe hierdie oorlog die globale ekonomie volledig bedreig – met ontwikkelende lande wat die weerloosste staan. Inflasie, soos primêr gedryf deur stygende oliepryse en verskaffingskettingsversteurings, teister natuurlik ook ontwikkelde ekonomieë soos die van Amerika. Met inflasie van byna 9% word die moontlikheid van ʼn Amerikaanse resessie ook al hoe groter. Ontwikkelende ekonomieë, met algehele swakker weerstandigheid, is egter weerloser.

Wêreldwyd lyk ekonomiese sekerheid en vooruitsigte dus slegter as wat ʼn mens sou hoop. Dit veral in die tydperk van veronderstelde herstel na die pandemie. Hoewel ons kreun onder brandstofprysverhogings lyk ons pryse eintlik redelik goed in vergelyking met sommige Europese lande. Dit beteken natuurlik nie dat ons dankbaar moet wees vir ons huidige ekonomiese uitdagings nie.

Kenners en politieke partye het die Suid-Afrikaanse brandstofprysverhoging en gepaardgaande gevolge ook as ʼn skok beskryf wat die reeds benarde ekonomiese situasie in die land sal vererger. In hierdie stadium is basiese vervoer, huishoudelike uitgawes én ʼn groot gedeelte van kragvoorsiening direk aan die brandstofpryse gekoppel.

Belangriker as die absolute prys van petrol is egter die persentasie van inkomste wat verbruikers aan brandstof betaal. Denemarke se petrolprys is dalk per liter duurder as ons sʼn – ons kan steeds as persentasie van inkomste meer aan petrol bestee. Dit sal beteken dat ʼn stygende petrolprys ʼn groter tasbare impak op reeds sukkelende verbruikers het. Dit is ook juis die probleem in Suid-Afrika.

In 2016 het Suid-Afrika byvoorbeeld as persentasie van jaarlikse inkomste die meeste in die wêreld betaal vir brandstof. Byna 4% van verbruikers se inkomste word aan brandstof bestee. Dit is omdat die prys van petrol in vergelyking met gemiddelde inkomste juis duur is – ons betaal heeltemal te veel vir hoe min geld ons verdien.

Dit is te midde hiervan wat die DA ook hul voorgestelde wetsontwerp vir die deregulering van die brandstofprys ingedien het. Hierdie wetsontwerp wil die regering van die mag ontneem om eensydig die prys van petroleumprodukte vas te stel. Sodoende sal dit ook die mededingingsmag op grootmaat van kleinhandelaars te verhoog. Die gedagte hiervan is dan om laer petrolpryse vir verbruikers te bewerkstellig omdat handelaars om prys kan meeding.

Dit is tans eintlik ʼn redelik omstrede debat wat stoere voorstanders aan albei kante van die argument het. Solidariteit is ook een instelling wat op dieselfde bladsy as die DA is wat deregulering betref. Volgens Solidariteit wil hulle ook deur stappe na deregulering poog om die ganse brandstofbedryf te hervorm ten einde beter pryse én dienste vir verbruikers te bewerkstellig. Met die ganse waardeketting wat gedereguleer moet word, sal beter uitkomste vir die ganse bedryf gekry word.

In hierdie stadium betaal grootmaat- en kleinmaatverbruikers presies dieselfde vir brandstof omdat prysonderhandeling onmoontlik is. Sodoende betaal groot vervoermaatskappye en enkelverbruikers dieselfde per liter petrol. Dit is vergelykbaar daarmee dat ʼn enkelverbruiker per kilogram dieselfde vir suiker betaal as ʼn reusevervaardiger van gaskoeldrank. Afgesien van die blote hoeveelhede wat aangekoop word, is die prys dieselfde. Dit het tot gevolg dat die hele waardeketting en vervaardigingsketting duurder is. Met deregulering kan dit moontlik wees vir grootmaatverbruikers om minder per liter brandstof te betaal omdat hulle meer aankoop. Daardeur kan byvoorbeeld die verlammende styging in kospryse weens ʼn styging in brandstofpryse minstens tot ʼn mate teengewerk word.

Diegene aan die ander kant van die debat meen egter weer dat versoeke om deregulering onkundig is. Die Fuel Retailers’ Association huldig juis hierdie mening omdat ʼn deregulering van brandstofpryse volgens hulle die reeds gemarginaliseerde brandstofhandelaars sal knou. In deregulering gaan vulstasies met mekaar moet kompeteer vir verbruikers. Indien jou prys nie die laagste is nie, gaan verbruikers bloot ʼn ander vulstasie besoek. Sodoende sal vulstasies hulself eintlik finansieel kelder in ʼn poging om bloot te oorleef. Verder kan hierdie deregulering ook ʼn negatiewe impak hê op transformasie deur marges te sny en nuwe toetreders tot die mark toe te laat.

In die vurige debat het ʼn rolspeler soos Solidariteit juis ook aandag aan hierdie aanklagtes gegee – dit is waarom die hele waardeketting gedereguleer word. Tot voordeel van die verbruiker en uiteindelik ook tot voordeel van die ganse ekonomie. Dit is in die groter prentjie nie die moeite werd om ʼn bedryf kunsmatig te beskerm tot nadeel van die ganse ekonomiese waardeketting nie.

Dit is in hierdie opsig ʼn effe van ʼn hoender-eier-vraagstuk. Collins Khumalo, hoof‑ uitvoerende beampte van AA, meen weer dat die hoë petrolprys ʼn simptoom van ʼn swak ekonomie is. Sodra ekonomiese omstandighede verbeter word, sal voordele van beter brandstofpryse volg. Eerder as om die ekonomie ʼn hupstoot te gee met deregulering, moet brandstofpryse ʼn hupstoot gegee word met ʼn beter ekonomie.

Dit is dus geen eenvoudige debat nie. Wat presies verander moet word en hoe dit verander moet word, is glad nie so duidelik nie. Dat iets verander moet word, is egter onweerlegbaar waar. Kortom moet die regering meer gereeld sy regulerende neus uit die ekonomie hou – hetsy direk in die brandstofprysregulering of net algemene ekonomiese regulering. Ons kan dit nie meer bekostig om honger mense te troos met die regeringsvervulling van ideologiese strewinge nie. Dit gaan egter van die burgerlike samelewing, private sektor en ook bevoegde opposisiepartye afhang om grootskaalse verandering te dryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

H.A. ·

Ek sal maar voorstel dat ons moet begin dink om perdekarre en donkiekarre terug te bring. Geen mens sal R70-R80 per liter kan betaal nie. Die oorlog daar bo kan nog vir n jaar dalk aanhou- en erger raak.

Anonymouse ·

Diesel en petrol is wat die land aan die gang hou op die oomblik. Growthpoint het al klaar gese hulle kan nie meer die kragopwekkers bekostig wat op hulle persele hardloop tydens blackouts nie. En ek is seker hulle is net die begin. Hier kom een groot ma-se ramp, en daar is nie eers meer ‘n omdraaipad nie.

Marius ·

Dit is hoe min die regering kyk na sy mense , skop hulle as hulle le.
Dit is hulle mense wat die ergste getref word deur die verhogings , tensy die regering hulle onder die tafel help soos met alles.

Chris ·

Wanneer die oorlog verby is en ru olie word vir $25 per vat verloop, sal die petrol en diesel prys nie daal nie, waar gaan die regering inkomste key die verhoging gaan weereens petrol en diesel diefstal tot gevolg hê.

Jack ·

Simplistiese vergelykings via valuta omsettingstabelle is niks seggend tensy mens ook die verskillende lande se inkostes vergelyk nie. Die beste vergelyking is hoe lank ‘n persoon moet werk om ‘n sekere item te kan bekostig. As ons dan ook ‘n werkloosheids koers van 50% infigureer dan kan brindstof pryse in anderlande goedkoper wees as hier.

Hendrik ·

Daar is een ding wat ek nie verstaan nie. Waarom vergelyk ons altyd ons pryse met die van Europa en VSA??? Betaal my $2500 of 2500 euro per maand (gemiddelde salarisse) dan sal ek ook nie kla oor pryse nie. Op die stadium is my salris ongeveer 1500euro. Redelike groot verskil sou ek sê!!!

VaalDonkie ·

Presies. Ek is in die top 95% in SA wat salaris aanbetref, maar dis gelykstaande aan wat ‘n Sherrif se “deputy” in die VSA verdien. En hulle verdien nie goed nie. Net genoeg om aan die lewe te bly sonder om te wonder waar die skool-, en kosgeld vandaan gaan kom.

pestilensie ·

Mmm maar die gemiddelde duitse salaris is 4000 euro,s per maand , oftewel R 80 000 +-

VaalDonkie ·

In ons maatskappy van 700 hoogs-gespesialiseerde sagteware konsultante is daar seker maar so 10 ouens wat daaie tipe salaris kry. En ek is nie een van hulle nie, alhoewel ek op bestuurs-posvlak is.

Marika Muller ·

Mens is al te bang om te gaan brandstof indoor. Elke maand word dit erger en erger.

Chris ·

Doen ‘n soek “10 SIGNS THE WAR IN UKRAINE IS PART OF THE GREAT RESET” – Jammer daar is so min joernaliste wat genoeg insig het in wereld-gebeure. Die feit dat niemand die WEF psigopate openbaar nie is meer kommerwekend as die verhoging in die brandstofprys!!

Arie Gerhardus ·

Het almal vergeet van Sasol 2 en 3 op Secunda wat petrol uit steenkool maak???

Nico ·

Die ANC regering is soos ‘n hoender wat eiers uitbrooi wat nie syne is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.