Styging in brandstofpryse gaan verbruikers looi – AA

(Grafika: pixabay)

Die jongste styging in die brandstofpryse kan verbruikers tot op breekpunt dwing en gaan bykomende druk op ʼn reeds sukkelende ekonomie plaas.

Die prysaanpassings tree Woensdag in werking en gaan die koste van 95‑oktaan-petrol in Gauteng – wat met R2,57 per liter styg – op R26,74 te staan bring. Die prys van 93‑oktaan-petrol styg met R2,37 en sal jou later vandeesweek R26,31 per liter in Gauteng kos.

Dit is ʼn nuwe rekordhoogte vir brandstof.

Die skommeling in internasionale petroleumpryse kry die grootste skuld vir die prysstygings, hoewel die rand minstens effens verstewig het teen die Amerikaanse dollar. Dit het gelei tot ʼn besparing van sowat 20c/liter en daarsonder sou die stygings selfs hoër gewees het.

“Benewens die styging in die basiese brandstofprys, is die R1,50-verliging in die algemene brandstofheffing wat die regering in Mei en Junie toegestaan het, in Julie gehalveer. Dit dra by tot die stygings,” sê die Automobiel-Assosiasie (AA) in reaksie op die aankondiging.

Dit beteken die styging van R1,82 in 95‑oktaan-brandstof is byvoorbeeld eintlik ʼn styging van R2,57.

“Hierdie, en ander stygings wat vandag aangekondig is, gaan sekerlik ʼn negatiewe uitwerking op alle Suid-Afrikaners hê en gaan ongetwyfeld in die toekoms ʼn baie groot rol in die ekonomie speel.”

Daar is toenemende druk op die regering om ʼn oplossing vir stygende brandstofpryse te vind. Die AA maan egter korttermynverligting – hoewel dit verwelkom word – is nie volhoubaar nie.

“Ons het begrip dat die regering bitter min speling wat betref internasionale petroleumpryse en die rand‑dollar-wisselkoers het. Dit is hoekom ons gevra het en sal voortgaan om dit te doen, vir ʼn hersiening van die brandstofprys, ʼn gebied waar die regering wel beheer het. Daar is ʼn behoefte om ondersoek in te stel na al die dele van die brandstofprys om te bepaal of almal nodig is in die bestaande formule en na te gaan of die huidige berekeninge daarvan korrek is,” sê die AA.

Hy sê hoe langer die hersiening uitgestel word, hoe langer gaan die land op volhoubare oplossings moet wag.

Oproep om deregulering

Die DA het intussen sy wetsontwerp oor die Deregulering van die Brandstofprys by die parlement se regsdienste ingedien. Die wetsontwerp beoog om ʼn wysiging aan die Wet op Petroleumprodukte – wat die regering die mag gee om die prys van petroleumprodukte voor te skryf – te wysig.

ʼn Kennisgewing hieroor sal na verwagting later vandeesweek in die Staatskoerant verskyn, waarna die publiek daarop kan kommentaar lewer.

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê die ANC het nou die kans “om die regte ding te doen”.

“Die sukses of mislukking met die regulering van die brandstofprys, berus nou by die ANC in die parlement.”

Die doel van die wetsontwerp is om die deregulering van die brandstofprys tot gevolg te hê om mededinging in die prys van brandstof op grootmaat en by kleinhandelaars te verhoog.

“Dit gaan lei tot laer petrolpryse vir verbruikers omdat handelaars meeding om klante te werf op grond van prysvlakke.”

Die DA stel ook ʼn wetswysiging voor wat ondernemings toelaat om “kreatiewe maniere” in werking te stel wat dalk ʼn verlaging in pryse kan veroorsaak.

Mileham sê onafhanklike skattings plaas die koste en wins op grootmaat-, vervoer en kleinhandelprys op sowat 20% van die brandstofprys. “Dit is onvolhoubaar indien Suid-Afrika ʼn mededingende brandstofmark wil hê, sowel as ʼn brandstofprysstelsel wat verbruikers teen buitensporige verhogings beskerm.”

Die DA sê die Mededingingskommissie gaan gevra word om die mark fyn dop te hou en dat die moontlikheid van samespanning en die misbruik van oorheersende markposisies, baie ernstig opgeneem word.

“Die meeste verbruikers bestee ʼn noemenswaardige gedeelte van hul salaris op immerstygende vervoerkoste en die brandstofprys wat gereeld toeneem laat baie mense met weinig om te bestee aan die ewe duur kosmandjie.

“Suid-Afrika se hoë brandstofpryse is ʼn gevolg van regeringsverpligte brandstofprysbeheermaatreëls wat mededinging doodgemaak het en versuim het om pryse te lewer wat koste weerspieël.”

Mileham sê die armstes gaan weereens die swaarste getref word.

“Die gereguleerde brandstofprysstelsel is opgestel teen die Suid-Afrikaanse verbruiker. Die gemiddelde brandstofprys bestaan uit minstens sewe heffings wat saam van ons brandstof van die duurste in die streek maak wanneer dit vergelyk word met ʼn land soos Botswana – wat die meeste van sy brandstofvoorraad uit Suid-Afrika kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hasie ·

80% van mense wil nie saamry klubs stig nie want hul te bang hul kom moontlik in ongeluk … Hul heeltemal te hoogmoedig daarvoor .

Robert ·

Gaan nie oor hoogmoedig nie. Sou so ń voertuig in ń ongeluk kom is die bestuurder/ eienaar van die voertuig verantwoordelik vir die passasiers se onkostes en dit kan reuse bedrae wees.

Jannie van Niekerk ·

Dit lyk vir my hier is 4 ANC ondersteuners wat die brandstofverhogings goedgesind is

Miena ·

Ons is 3 dames wat saamry van huis na werk al vir die afgelope 4 jaar. elkeen kry n beurt en dit help nie net met die brandstof nie maar wel ook wear & tear op kar. PLUS ek kan darrem n kans kry om ook in n BMW en n Evoque te ry en hulle moet maar saam my in my Kia Cerato Hatch ry – hahaha

Snuffelgids ·

Kon diè berig nie maar die prys van diesel ook bevat nie, of lees ek dit mis?

VaalDonkie ·

As jy die prys moet vra, kan jy dit nie bekostig nie HAHA

Anel ·

Dit is nou die eerste keer wat ek dink betogings is ‘n goeie ding, maar slegs teen hierdie onmenslike verhogings, wat neerkom op bedekte diefstal!!!

Papsak ·

Stop om petrol te koop want lyk my ons velkleur ons taal en tot ons arm mense is noual te veel vir hierdie breinlose regering ek haat hulle stop heffings hou op julle sakke vol stop dink aan ekonomie maar almal maar tevrede bang om op te staan te bang vir regering iewers moet hierdie lyk getrek word en vinnig ook

Nationalist ·

Absoluut belaglik! Maar ons voer uit na buurlande en hulle betaal steeds minder?? Die kommunis het ons reeds verniel. Geen terugkom van die brandstof en elektrisiteit krisis nie.

Hasie ·

Mense sal begin dink as hul honger ly agv van die hoë petrolprys en dan sal hul besef die ANC het hul van hul kos beroof….maar hey hul het darem ‘n T shirt gekry ….eet die nou ….

Hannelie ·

Steek sommer die land aan die brand, hy is tog nou niks werd!!!

Jannie van Niekerk ·

Die ANC vernietig ons land se ekonomie met brandstofpryse en beurtkrag sodat die parlementslede, kabinet en munispale raadslede miljoeners kan word. Nou moet ons hulle net by die stembus vernietig. Enige mens wat nie verstandelik vetraag, geestelik versteurd of misdaad goedgesind is nie, sal teen die ANC stem met die vogende verkiesing.

Erika ·

Walk & see more!

Bus ry gaan my voorland wees, want daar is nie manier hoe ek moet kies tussen petrol of groceries nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.