Nuuskommentaar: Regering sê burgers mag hulself nie meer beskerm

Argieffoto

Die Wysigingswetsontwerp oor Vuurwapenbeheer is Vrydag in die Staatskoerant geplaas en het sedertdien groot opslae gemaak. Volgens dié wetsontwerp sal lisensies vir vuurwapens, onder meer, nie meer vir selfverdediging uitgereik mag word nie.

Daar word beraam dat sowat die helfte van alle vuurwapens wat wettig aangekoop word, vir selfverdediging aangeskaf word. Hierdie wetgewing sal verhoed dat nuwe wapens vir selfverdediging uitgereik word, asook dat reeds uitgereikte vuurwapens mettertyd ingehandig moet word namate die lisensies verval. Sodoende sal die wetgewing uiteindelik neerkom op ʼn grootskaalse ontwapening van die burgery.

Dit sal ook burgers van die vermoë ontneem om selfverdediging toe te pas. AfriForum het ook juis daarom sterk teen die wysigingswetsontwerp standpunt ingeneem. Dié wetgewing neem uiteindelik burgers se vermoë om weerbaar te wees volledig uit hul eie hande.

Dit is egter nie die eerste keer dat die wysigingswetsontwerp die lig gesien het nie. In 2018 het daar reeds ʼn “uitgelekte” weergawe daarvan te voorskyn gekom wat feitlik presies ooreenstem met die wysigingswetsontwerp wat Vrydag bekend gemaak is. In 2018 het hulle egter die egtheid van die dokument ontken en sodoende ook afstand daarvan gedoen. Dit beteken dat die ANC lank reeds aan hierdie wysigingswetsontwerp skaaf en skuur en ook lank reeds beplan om dit op die regte tyd deur te voer. Hulle wou net eers “nie-amptelik” voorbrand maak vir die beleid wat hulle buitendien gaan deurvoer.

Die VF Plus het by monde van dr. Pieter Groenewald, partyleier, heftig hierteen gereageer. Volgens Groenewald is die beleid in die lig van ons misdaadsyfers byna waansinnig en kan boonop ʼn paradys vir misdadigers skep. Moord, poging tot moord, kapings, rooftogte by residensiële eiendomme en rooftogte by nie-residensiële eiendomme is misdade wat alles in die afgelope boekjaar toegeneem het.

Ons moordsyfer is tans ook vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld wat op ongelooflike plaaslike vlakke van geweldsmisdaad dui. Marius Roodt, skrywer en senior beleidsnavorser verbonde aan die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV), het ook al verduidelik hoe dié beleid ʼn aanval op burgerregte is. Die polisiediens het in die lig van ons misdaadsyfers getoon dat hy nie die vermoë het om burgers te beskerm nie. Hierdie wysigingswetsontwerp lewer burgers uiteindelik in weerloosheid uit aan die sistemiese misdaadvlakke waaronder ons probeer leef.

Die DA het ook verduidelik hoe die wetgewing wat slaag, sal neerkom op ʼn oorwinning vir misdadigers. Verder het die party skerp kritiek uitgespreek oor die feit dat die regering onlangs die misdaadvoorkomingsbegroting met R3,8 miljard besnoei het, terwyl die begroting vir die BBP-beskermingseenheid ʼn verhoging van R26 miljoen gekry het. Sodoende word die geld verminder om gewone burgers teen misdadigers te beskerm, terwyl die politieke elite verhoogde beskerming geniet. Paul Oxley, voorsitter van Gun Owners South Africa (Gosa), het ook die regering se skynheiligheid in hierdie opsig uitgewys.

Die regering hou egter voor dat vuurwapenbesit onder burgers verminder of selfs verhoed moet word, omdat dié vuurwapens uiteindelik omskep word in ongelisensieerde wapens wanneer dit gesteel word. Sodoende is die regering se grootste (openbaar verklaarde) beweegrede om te keer dat misdadigers vuurwapens in die hande kry deur dit by burgers te steel. Organisasies soos Gun Free South Africa (GFSA) deel ook hierdie sentiment. Volgens hulle is een van die grootste risiko’s daarvan om ʼn geweer te besit dat dit deur misdadigers gesteel kan word. Daarom moet mense in die eerste plek maar net nie vuurwapens besit nie.

Een van die probleme met hierdie argument is egter dat die polisie grootskaals bydra tot vuurwapens wat uiteindelik in die besit van misdadigers kom. Bheki Cele, minister van polisie, het verlede jaar in die parlement geantwoord hoe die polisiediens oor die vorige ses finansiële jaar 9,5 miljoen patrone en byna 4 500 vuurwapens verlóór het. Tussen 2004 en 2011 het die polisiediens ook ʼn skokkende 20 000 vuurwapens verloor. ʼn Skamele 7% van hierdie wapens is uiteindelik teruggekry. Ironies genoeg was 2004 die jaar waarin strenger wetgewing om wapenbeheer ingestel is – juis met die doel om die sirkulasie van onwettige vuurwapens te probeer stuit.

Verder berus bogenoemde argument op ongelooflike naïwiteit. Ordeliewende burgers is oor die algemeen wetsgehoorsaam. Misdadigers oortree maar gewoonlik die wet – ongeag wat dit presies is. Hierdie soort wetgewing teiken daarom uiteindelik net diegene wat in die eerste plek ʼn ontsag vir wet en orde het. Misdadigers se optrede word nie deur sulke wetgewing gereguleer nie – dit word eerder daardeur in of uit die swart- en onwettige mark geskuif.

Indien alle dwelms byvoorbeeld gewettig word, gaan dwelmhandelaars nou net toevallig in die lig en wettigheid funksioneer. Wanneer alle dwelms egter onwettig verklaar word, beweeg presies dieselfde bedrywighede bloot na onwettigheid en die swartmark. Dít is hoe streng regulerende wetgewing feitlik altyd werk.

Misdadigers gaan nie skielik ophou om misdadigers te wees nie. Die polisiediens gaan, gegewe sy afwaartse trajek, nie sommer uitsonderlike bevegters van misdaad raak nie. Die handhawing van algehele wet en orde gaan al hoe minder in die polisiediens gesetel wees. Hierdie verantwoordelikheid gaan eerder al hoe meer oorskuif na privaat sekerheidsmaatskappye, soos reeds oor die afgelope dekades, maar ook na burgers self.

Hoewel privaat sekerheidsmaatskappye besig is om die de facto-polisiediens te word, is selfverdediging steeds ʼn kritieke deel van misdaadvoorkoming. Dit is juis met verskillende vlakke van veiligheid wat ʼn mens jouself kan beskerm – vlakke wat insluit om in ʼn veiliger gebied te woon, heinings om jou huis te hê, ʼn alarmstelsel en gewapende reaksie te hê deur lidmaatskap aan ʼn privaat sekerheidsmaatskappy, deel te wees van ʼn buurtwag en dan ook jouself in oombliklike gevaar deur selfverdediging te kan beskerm.

Dié wysigingswetsontwerp gaan op een van die belangrikste beleidsgevegte in ons ná-1994-samelewing nóg afstuur. Die wysigingswetsontwerp lê aan die absolute fondamente daarvan om jou eie lewe en dié van jou gesin te kan beskerm. In ʼn land met ongelooflike vlakke van geweldsmisdaad en ʼn uiters ondoeltreffende polisiediens is dit kritiek belangrik. Dié geveg is nie een om teoretiese beleidsverskille nie, maar eerder een om letterlike lewe en dood. Dit moet ook as sodanig geveg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank

Pasop dat hierdie EEN saak nie ons aandag aftrek van al die ander absurde voorstelle nie!!!!!!

Ovelia

Wonder of di misdadigers gelisieerde wapens gebruik. Opas vir jou kop Cele. Die boere ,, wit en swart raak gatvol vir julle

Charles

Kommunistise diktatorskap op die horison?

Werner

Begin van onteiening sonder vergoeding.Daarom sal hulle nie my wapens kry nie.Dink hulle het nou meer afgebyt as wat hulle kan kou.Daar is duisende wat die sentiment deel.

Anel

Hoe “verloor” die polisie amper 25000wapens? Hoeveel van daardie wapens is nie gebruik om misdade te pleeg nie? Vergelyk dit met mense wat wettig wapens besit. Hoeveel van hulle pleeg misdade, gewapende roof of skiet net mense dood vir die lekker! Nou gebruik die regering meer geld om hulle paar te beskerm en die mense wat die gemeenskap moet beskerm kry amper niks. Kyk hoe lyk dit by die SVK. Omdat die spul nie weet hoe om die data in te voer nie of te lui is, is dit makliker om te sê niemand mag wapen besit nie dan hoef… Lees meer »